Die eerste motorstories
Motors het in die eerste helfte van die 1900’s stelselmatig as vervoermiddel oorgeneem by rytuie wat deur diere getrek is. Só gesels M.C. van Sandwyk in die 1920’s in sy motorrubriek oor instandhouding, ongelukke en internasionale motornuus.
OOR CARBURETTORS
Ek myself hou baie van ’n Amerikaanse carburettor wat ek kan stel soos ek hom wil hê. As ek hom spaarsaam vir die Vrystaat stel en ek gaan Kaap toe, moet ek hom weer anders stel; die lugdruk is anders. As ek een het wat ek nie kan stel nie, sit ek met my hande in die hare. Dit is asof daar ’n gat in my broeksak is waardeur ek die pennies voel deurval.
OOR GARAGES
Ons kan ons troos in die wete dat die Amerikaners net so steen en been as ons kla oor die gebrekkigheid aan ambagsmanne in motoronderhoudwerk. Die Society of Automotive Engineers het die anderdag ’n verslag versprei waarin genoem word dat daar 300 000 kwaksalwende werktuigkundiges in die State is. Die moeilikheid met die meeste motorwerksmanne is dat hulle nie op hoogte van sake bly nie. Die motorindustrie gaan so snel vooruit dat diegene wat daarin betrokke is, op hul tone moet staan om by te bly. Die ontnugtering is egter nie ver. Ewe as in Amerika, gaan die diens- en reparasiebesigheid die ruggraat van die motorindustrie in hierdie land word.
OOR BERGPAAIE
Die man wat aan die vlaktes gewoond is, het baie te leer wanneer hy in ’n heuwelagtige terrein kom. Daar leer hy hoe om ratte oor te skakel; hoe om netjies by ’n ander kar verby te ry op ’n bergpad; hoe om by ’n haarnaalddraai om te gaan wanneer ’n ander kar ook dieselfde ding probeer doen met agteruit en voerentoe ry. Teenwoordigheid van gees en onverstoorde kalmte in alle omstandighede is noodsaaklike hoedanighede wanneer mens in bergpaaie ry. Daar kom jy agter hoeveel jou brieke vir jou werd is en hoe netjies jy met hulle moet werk om hulle die heel dag deur te laat hou. Jy het jou lewe en die lewe van jou metgeselle so te sê onder jou voet.
OOR VEILIGHEID
In die hande van sekere mense is die motorkar gevaarliker as ’n kanon. As jy saam met iemand ry wat nie lus het om die stuurwiel goed vas te hou nie, loop liewer.
OOR ONTWIKKELING
Dit lyk partymaal asof niks meer kan verander word nie; dat die motorkar so te sê volmaak is. En tog kom daar nog altyd die “verbeterde” model uit. Die mensdom is mos nooit tevrede nie; altyd moet daar iets nuuts in die “speelgoed” van die groot kind wees.
Ons neem die viersilinderBuick as ’n voorbeeld. Waar wil jy ’n beter kar van daardie prysklas kry? Tog het die fabriek opgehou om die model te maak, want Amerika is nou ’n ses-silinder-kar-land. Petrol en olie – ons groot onkoste – is in Amerika goedkoop. Dus gee hulle nie om om met ses of meer silinders te ry nie.
OOR OU KARRE
Baie mense wil weet wat word van al die ou karre noudat nuwes so veel verkoop word. Gaan loer in die agterplase van die garages en jy sal baie van hulle sien. Party kan nog honderde myle loop as hulle net drywers kan kry. Die gerieflikheid van die hedendaagse motorkar het die mense so bederwe dat hulle nie meer in die ou ongemaklike karre kan ry nie.
OOR SWAK PAAIE
Aan die ingang van ’n klein dorpie staan op ’n bordjie met die woorde: “Motorkarre tien myl per uur.” Op ’n goeie dag skryf iemand daaronder: “Anders breek die aste en die vere.”
OOR DIE REGTE KAR
Watter kar moet ek koop? Dit is die eerste en grootste vraag. En dis ook swaar om so ’n vraag te antwoord. Vandag is my kar modern. Môre is dit agter die tyd, en die agent is die eerste man wat dit aan my herinner, natuurlik met die doel om aan my een van die nuwe modelle te verkoop.