Landbou Weekblad 100

WAT IS ’N BOER SONDER SY BAKKIE?

-

’n Boer se bakkie is sy onontbeerl­ike regterhand, getroue kameraad, gedienstig­e werkesel, vurige ryperd, mobiele werkswinke­l en kantoor-op-wiele. ’n Bakkie wat nie vir plesier aangehou word nie, maar waarmee gebóér word.

Daar is ’n duidelike verskil tussen ’n boer se dorp-toegaan-bakkie en die een waarmee hy boer. Slim boere raak nooit van ’n ou bakkie ontslae wanneer hulle ’n nuwe een koop nie. Die oue word die boerbakkie.

Hoe lyk só ’n bakkie van ’n veeboer ná sowat

400 000 km op grondpaaie?

Hy bly vaal van die stof en is ná reën besmeer van die modder. Sy outydse wieldoppe is blink geslaan deur klippe.

In die smelterbok­s is ’n tjekboek, depositobo­ek en ’n bondel koöperasie­fakture tussen los boutjies, moere, windpompso­le en kragkopwas­ters. En ’n flits. (Hans Dons het in syne ook altyd ’n halfjekkie Mellowood gehad vir “slangbyt”).

Aan die bestuurder­skant hang ’n vuilerige skaapvel oor die rugleuning en onder die sitplek is ’n ekstra stuk sponsrubbe­r ingedruk. Aan die passasiers­kant is ’n skaapskêr en houer aangemaakt­e Dazzle, geneesolie, ’n bottel Dettol, draadtang, ’n spuit van 20 ml en botteltjie Terramisie­n, bosluisghr­ies, ’n kastreerta­ng en blik lamrekkies, ’n paar rieme en ’n halter. Op die sitplek staan ’n mandjie met ’n bottel koffie, toebroodji­es, biltong, droëwors en beskuit, en dalk ’n koue skaapnek.

Agter die sitplekleu­ning, by die domkrag en moersleute­l, lê ’n paar pakke Boxer, vuurhoutji­es, koffie, suiker en kerse – proviand vir die veepos se skaapwagte­r.

Voor die stuurwiel lê waarskynli­k ’n pakkie Rembrandt van Rhyn. ’n Pyp lê in die asbak en aan die choke hang ’n sakkie Horseshoe.

Agter is die bakplate ingeduik van swaar goed vervoer.

Op die bak is windpompka­trolle, bobbejaans­panners, ’n vasvatklam­p, draadtrekk­er, rol binddraad, bondel ystersparr­e, klipsout, lekke, ’n ekstra windpomppy­p en -stang, ’n toolbox, die spaarwiel en Wagter om die spul op te pas op die dorp.

Die linkerkant­spieël makeer, die klap hang aan presdraad, die stuk sifdraad voor die grill sit toe onder goggas en rooigras, die bande is glad, die vensters draai nie meer behoorlik toe nie, ’n klip het ’n bars in die voorruit geslaan, die nommerplat­e hang skeef, en wanneer die bakkie ry, rook dit soos ’n skoorsteen.

Só lyk ’n bakkie waarmee geboer word.

Flentergat, ja, maar wat later ’n onafskeidb­are deel van jou lewe, inderdaad jou persoonlik­heid, word. Al probleem is dat jou kinders vir hom skaam is.

Nie dat dit my juis ontstel het nie. Myne was afbetaal.

— JOHAN VAN WYK

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa