Landbou Weekblad 100

Pa en seun in die veld

-

Sy pa het hom geleer om ’n voëlrek te maak, geweer te skiet, fonteintji­es te grawe en bowenal om die natuur lief te hê en te beskerm, skryf Landbouwee­kblad se

gerekende vuurwapenk­enner dr. Lucas Potgieter in 1975.

Hoe maak jy ’n voëlrek? Jy gaan na die kweperlani­ng. Daar sny jy ’n lekker mikstok. Die mik moet nie te wyd wees nie, want dan moet jy jou regterduim te veel ooprek as jy aanlê. Die velletjie vir die granietkli­ppie moet netjies uitgesny wees. As hy te klein is, glip die klip skeef uit en woer-woer deur die lug. Hy moet ook nie te groot wees nie, dan is jou skietding onakkuraat. Aan die mikstok en aan die klipvel bind jy voorslagri­empies. Jy maak hulle eers nat en daarna maak jy hulle mooi rond met ’n strykriem – ’n voëlrek moet netjies lyk.

Jy moet trots wees op jou voëlrek, sê my pa. Dit is jou wapen in die veld. Met hom skiet jy spreeus en mossies en vinke en duiwe en streepmuis­e, en as jy teen die berg in die son sit en droom, skiet jy in seunsverbe­elding buffels en olifante en leeus en luiperds. Ek onthou nog my eerste mooi, groot geweer. Sy koeëls het soos granietkli­ppies gelyk. Ek het nie geweet hoe om ’n voëlrek te maak nie, want ek was ’n klein seuntjie. Dit moes ek leer.

Hoe soek jy ’n rooiribbok met ’n verkyker? Jy klim die berg uit. Jy vat die pad verby die bergsloot, verby die daskrans en al met die sloep tussen die kranse tot bo by die rots wat soos ’n stroois lyk. Dan gaan sit jy plat met jou rug teen die rots. Met jou kaal tone skop jy vas en dan leun jy met jou elmboë op jou knieë. Met jou verkyker bekyk jy dan die rooi rante bokant die bakkranse. Jy begin aan die een kant en werk stadig en sistematie­s met jou oë deur elke valleitjie; rondom elke ouhoutboom en deur die skaduwees van elke krans.

As die suidewind waai, soek jy

by die sonkolle waar daar skuiling is. Wanneer die son warm word, gaan jou oë stadiger onder die bakkranse. Hier van elfuur se kant af tot so by drie-uur lê die bokke gewoonlik. Dis dan wanneer jy die verkyker baie stadig laat loop – wanneer net ’n dun nek met groot ore bokant die klip of gras uitsteek.

Ja, ek was ’n klein seuntjie. Ek moes dit leer sodat ek dit ook vandag nog kan weet.

Onder die rooikrans waar die witkruisar­ende gebroei het, was daar ’n syferwater­fontein. Daar moes ek help om ’n drinkplekk­ie te maak. Eers die mos en die modder wegkrap. Dan pak ons die bodem vol ronde klippe. Dan die muurtjie van plat klippe rondom ons drinkplek. Die plat klippe moes stewig staan, want daarop druk jy met jou hande. Dan lê jy op jou maag, buk vooroor en drink die koel water. Klein seuntjies word dors as hulle ver loop. As jy dors is, is dit lekker om by ’n fonteintji­e te drink, veral as jy self gehelp het om dit te bou.

’n Jagter skiet nie ooie nie. ’n Veldman breek nie groen bome nie, daar is genoeg droë takke wat jy bymekaar kan maak. Jy pluk nie ’n mooi veldblom nie behalwe as jy hom gaan huis toe neem om vir jou ma te gee. Jy rol nie sonder meer klippe af nie, want hulle kan seermaak daar waar jy nie kan sien nie. Wanneer jy ’n bynes uithaal, los jy altyd ’n paar koeke vir die bye, want anders trek die swerm. Jy gooi nie ’n swaelnessi­e stukkend nie, want dalk is daar kleintjies in. ’n Kokkewiet, kwikstertj­ie en sonakkedis – hulle maak jy nie seer nie, want hulle is die mens se vriende. Op Sondae rus jy en jou geweer en jou voëlrek en alles wat met jag te doen het.

Wat is ’n geweer? Hierdie les moes my pa aan my leer omdat my optrede eendag sy leermeeste­rskap sou weerspieël.

“As jy ’n geweer dra, dra jy ’n swaarder verantwoor­delikheid teenoor ander mense, teenoor die diere, maar miskien nog belangrike­r, teenoor jou Skepper.”

Vir een stonde sien ek weer die bruingebra­nde boerehande. Die bonkige skouers wat hy so kon beweeg asof sy boordjie altyd te nou was. Die stem wat leer.

Ek sien die granietkli­ppies op sy graf tussen die sipresbome. Ek dink: “O, hoe min oor hom staan daar tog nie op my vader se grafsteen geskrywe nie . . .?”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa