‘Ons man van Landbouweekblad…’
Ds. Kobus van der Westhuyzen (88) behartig al 48 jaar lank die gewilde
Hart tot Hart-rubriek in Landbouweekblad. Dít maak hom die rubriekskrywer met die langste aaneenlopende rubriek in die Media24-stal (en waarskynlik die hele
Suid-Afrika), skryf Lucille Botha.
Toe ek vir Landbouweekblad begin skryf het, was die onderwerp nie vir my vreemd nie. Ons was ses geslagte lank boere en ek het op ’n plaas grootgeword. Dus het ek geweet wat dit is om ’n span esels se touleier te wees. Ek weet hoe om ’n perdekar in te span en koeie te melk.
“Maar wat vir my belangriker was, is dat ek ’n uitgebreide gemeente ontwikkel het. Landbouweekblad het vir my baie beteken ten opsigte van my roepingsvervulling,” vertel ds.
Kobus van der Westhuyzen in sy en sy vrou, Anina (“Bokkie”), se netjiese huis in ’n aftree-oord in Kaapstad se noordelike voorstede.
Oor die jare heen het hy daaraan gewoond geraak dat mense hom nie in sy rol as moderator van die Wes- en Suid-Kaapse sinode van die NG Kerk bekend stel nie. O nee, hy was “oom Kobus van Landbouweekblad”.
“As moderator word ’n mens na baie gemeentefeeste genooi. Ek het sommer later in my binneste begin lag. Hulle sou nooit sê dis die moderator van die kerk nie; hulle sê ‘dis ons man van Landbouweekblad’.”
Toe hy in 1971 die rubriek by dr. AJ van der Merwe oorgeneem het, het die destydse redakteur, Piet Daneel, vir hom gesê “hy moet ’n bietjie terugkom aarde toe, die prekery los en meer op ’n geselstrant probeer aangaan”.
“Ek was nie ’n danige skrywer nie, maar ek het gedog ek volg die veilige weg. Die eerste paar goedjies wat ek geskryf het, vat
ek toe vir oom Herman Steytler ( Landbouweekblad se redakteur voor Piet Daneel) en vra hom om streng-krities te wees. Maar toe gee hy dit terug en sê: ‘Man, hou net so aan.’ En sedertdien gaan ek maar net op daardie trant aan.”
Hy skryf sy rubrieke met die hand, en om week ná week met ’n oorspronklike boodskap vorendag te kom, moet hy sy oë en ore oophou. “Landbouweekblad het vir my ’n onsigbare gemeente gegee. Maar hulle het ook my brein geoefen gehou. ’n Mens se brein word lui, tensy jy dit wakker hou.”
Vroeër jare het hy ’ n boek saam met hom gedra waarin hy idees aangeteken het. Deesdae dink hy sy rubrieke snags uit.
“Ek slaap net kort rukkies en lê en dink dan waaroor ek moet skryf. Jy moet altyd oplettend wees. As jy gesels, sê iemand soms ’n ding, dan maak ek ’n mental note. Of ek gaan stap in Voëlklip saam met die hondjie, berg se kant toe. Dan staan en kyk ek na ’n patrys wat rondpik en sy kos soek. Dan kom daar ’n gemmerkat aan, ’n rondloperkat, hy’s honger en soek kos. Hy bespring die patrys, wat probeer wegvlieg, maar die kat spring hoog en gryp hom. En dan kom die vraag: Daar is vir die gemmerkat gesorg, maar wie sorg vir die patrys? Oor daai soort ding sal ek dan skryf. Dikwels het ek nie die oplossing nie, maar ek is eerlik genoeg om te sê ek weet nie.”
Nog ’n tema wat hom geboei het, was die mens se verantwoordelikheid om God se skepping reg te bestuur. “Ek het ’n obsessie daarmee ontwikkel om vir mense te vra: ‘Hoe kan ons die aarde so verniel?’ Die mens is iets besonders, daarom is dit verskriklik dat hy ’n instrument geword het wat verniel en vernietig. Ek sê dikwels vir my seun, Ben, wanneer sy kinders by hom op die plaas oorneem, moet hulle kan sê ’n man het hier iets agtergelaat. Hy het gebou, nie afgebreek nie.”
ROEPING
Van der Westhuyzen is in 1931 gebore op Riebeek-Kasteel, waar sy ouers op die plaas De Rust geboer het, ’n buurplaas van Jan Smuts se familie. “Die geriewe was min op die plase. Ons het nie telefone of elektrisiteit gehad nie. Dit was taamlik primitief daar vroeg in die 1930’s.
“As ’n seuntjie, toe ek nog nie twee jaar oud was nie, het ek baie siek geword. Ek het dubbele longontsteking gehad, wat daardie tyd amper ’n doodsvonnis was.”
Die huisdokter het gesê die seuntjie gaan nie oorleef nie. Sy pa laat kom toe ’n dokter wat op Malmesbury aflos (dit was dr. Fransie van Zyl, wat later baie bekend was).
“Hy moes in die nag uitkom van Malmesbury af en moes agter om die berg ry om by ons uit te kom. Die huisdokter was ook daar. Hulle het saam na my gekyk en albei het gesê, nee, ek sal dit nie maak nie. Dr. Van Zyl sê toe as hulle my by die hospitaal kan kry, kan hulle opereer, maar ek sal nie die rit van die plaas af Malmesbury toe op die grondpaaie maak nie. Uit radeloosheid sê my pa toe hulle moet my daar opereer.”
Dit was ’n groot operasie – vier van sy ribbetjies moes onder meer afgesaag word – maar hulle stem toe in om dit daar op ’n outydse wastafeltjie, by die lig van olielampe en kerse, te doen.
“Die operasie was ’n sukses. My ma het my die storie vertel. Sy was ’n wonderlike vrou, ’n oud-onderwyseres en van Bredasdorp se Uyse. Sy het heeltyd in die kamer langsaan gebid. Sy het nooit vir my gesê ek moet ’n predikant word omdat ek nou wonderbaarlik genees is nie, maar ek het net die gevoel gehad ek moet dit doen.”
Nadat hy aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gematrikuleer het, het hy teologie op Stellenbosch gaan swot.
Van der Westhuyzen se leierseienskappe, wat reeds as hoofseun van Jan van Riebeeck ontluik het, is gevorm as studenteraadslid, primarius van die PSO-koshuis en voorsitter van die komitee wat oor die Langenhoven-gedenksaal moes besluit.
“Dit was al half goedgekeur dat ons Wilgenhof sou platslaan en dit daar bou, maar toe hoor Danie Craven en FW Stegman, albei oud-Wilgenhoffers, daarvan. Toe begin die oorlog! Dit was interessante tye.”
As primarius het hy Anina, ’n eerstejaar, ontmoet. Ná sy studie is Van der Westhuyzen nie dadelik beroep nie, en hy het hom ’n ruk lank by sy broer se tabakboerdery in Zimbabwe gaan aansluit.
“Ek en my vrou was al gekys toe ek na Paterson in die OosKaap beroep word. “Ek het baie daarmee geworstel, want ek
boer toe lekker. Maar die Here het baie duidelik daar op die land vir my gesê dis nie waarvoor Hy my geroep het nie.”
Dieselfde ds. Kosie Gericke wat hom voorgestel het vir die Paterson-gemeente, het hom ook aangeraai om te trou voor hy Paterson toe trek. Hy en Anina het op 8 April verloof geraak, op 18 Mei getrou, en op 16 Junie is hulle op Paterson bevestig. “Ek sê altyd ons móés trou!”
DIENSKNEG
Van Paterson is hy na die gemeente Cradock-Oos beroep, waar hulle sewe jaar was voor die Groote Kerk in Kaapstad gewink het.
“Dit was ’n bietjie lastig, want baie van my Jan van Riebeeckonderwysers het nog geleef en was in my kerkraad! Dr. AJ was ook in my kerkraad. Hy was altyd my predikant, en toe is ek sý predikant! Dr. AJ was omtrent lewenslank ook skoolvoorsitter. Toe hy uittree, sê hy sommer vir hulle: ‘Kobus volg my op.’ Hy was so ’n sterk figuur dat die res van die komitee net gesê het dis reg. Ek was seker iets in die twintig jaar voorsitter van Jan van Riebeeck se skoolkomitee.
Hy was ook 53 jaar lank by die Helpmekaar-fonds betrokke, ’n groot deel daarvan as voorsitter. “Met Helpmekaar het ons werklik ’n bydrae gelewer. Chris Barnard (die hartchirurg) het gesê as dit nie vir Helpmekaar was nie, sou die wêreld nie ’n Chris Barnard geken het nie.”
Hoe voel hy oor sy ooglopende leierseienskappe?
“As jy nie ’n dienskneggestalte het nie, hoort jy nie in die rol nie. As predikant kom ’n mens voor baie versoekings te staan. Een daarvan wat ’n bietjie verskuil is, is jou eie belangrikheid. Dis deesdae anders, want mense sien nou die predikant meer soos ’n sondaar, nes hulle. Maar toe ek begin het, is jy op ’n troontjie geplaas. Jy kom in die gemeente en dadelik is jy ’n leier. Jy is voorsitter van die kerkraad en van die skoolkomitee. As jy nie keer nie, is jy voorsitter van die boerevereniging ook! Jy kan ’n vals idee oor jouself en jou belangrikheid ontwikkel. Ek het dikwels vir die jong manne gesê: ‘Onthou die dienskneggestalte.’ ’n Mens moet altyd nederigheid nastreef.”
GESINSLEWE
Anina wys foto’s van hul drie kinders en sewe kleinkinders.
“Die Here was vir ons goed. Ons het nooit groot dramas beleef nie. Ons gesin was gelukkig. My vrou verdra my nog al die tyd; sy’s ’n liewe mens. Ons kinders het ons baie plesier gegee en ons het vandag nog ’n mooi verhouding. Ons het ontsaglike vreugde aan ons kleinkinders, wat almal baie goed doen.”
Anina lag. “Ben, ons oudste, word nou sestig en hy vra steeds vir sy pa: ‘Hoe moet ek nou maak?’ Kobus het ’n paar jaar gelede ’n Dorperkursus voltooi en die tweede hoogste punte in die klas gekry!”
Wat is “die man van Landbouweekblad” se boodskap aan die tydskrif en sy lesers in die eeufeesjaar? “Verbly julle in die vreugde van jul sukses. Bou voort aan die ideaal van ’n mooi planeet aarde.” Hy dink ’n oomblik na. “En moenie dat die digitale wêreld julle insluk nie. Ons mense hou van papier in die hand!”