Mense van die uithoeke
In die 1960’s besoek Landbouweekblad drie afgeleë – en besonderse – boeregemeenskappe: Die uithoek van Namakwaland langs die Oranjerivier, die Kalahari met duine in al vier windrigtings en Vloorvlei in die Sandveld. Só vertel die tydskrif destyds:
GROOTRIVIER
Op min plekke in die land woon daar ’n groepie mense wat in soveel afgesonderde eensaamheid ’n bestaan voer soos die paar boeregesinne langs die monding van die Oranjerivier, in die verste uithoek van Namakwaland.
Groot was die verbasing en hartlik die ontvangs toe Landbouweekblad sy opwagting dáár maak. Besoekers en gaste daar is ’n skaars verskynsel. En wat is nou lekkerder as ’n rustige geselsie op die stoep met ’n groot kan sterk boeretroos en nuus uit die “onderwêreld”.
Só het dit gegaan by die Ruppings van Ariesdrift, die Aggenbags van Korthoring, die Scholtze van Grootderm. Soos die name van hul plase is ook die mense – vriendelik en interessant, maar hard getemper deur die son, wind, droogte en swaarkry.
Net soos die delwerye by Alexanderbaai, is die groot, barre stuk aarde vir ongeveer twaalf myl langs die rivier op in die rigting van Vioolsdrif, ook staatseiendom, met die uitsondering van die plaas Grootderm, wat aan mnr. Paul Scholtz behoort.
Die res van die plase met elkeen ’n stukkie besproeiingsgrond, word deur die boere teen ’n geringe bedrag van die staat gehuur. Hoewel dié wêreld met ons besoek uiters droog en kaal was, bied die veld goeie weiding wanneer dit reën kry. Sommige van die boere hou ’n paar honderd stuks vee aan.
Daar word hoofsaaklik met Karakoele, Afrikanerskape en swartkopPersies geboer. Die geaardheid van dié rasse word hier tot die uiterste beproef.
Die enigste onafhanklike boer is Scholtz, ’n saggeaarde jong man wat ’n siviele ingenieursgraad agter sy naam kan skryf, maar verkies om liewer hier in sy geboortewêreld ’n bestaan te voer.
Toe Landbouweekblad op Grootderm aankom, was hy besig om ’n windpomp wat op die rivier se wal staan, reg te maak. Hy voer groot planne in die mou en wil graag ’n vetlamboerdery op aangeplante weiding begin. Die probleem is egter ’n behoorlike afsetgebied, want sowel die staatsdelwery by Alexanderbaai as die diamantmyn by Oranjemund kan grootliks in hul eie behoefte voorsien.
Die ander moontlike markte is te ver. Net só gaan dit met vrugte en groente. Hoewel die gehalte uitstekend is en ’n hoë produksie op die slikgrond met baie water gehandhaaf kan word, is dit nie lonend nie, want die paaie is swak en die afstande groot.
Die enigste bereikbare afsetgebied is Port Nolloth aan die Weskus, sowat 90 myl van Alexanderbaai af, waar ook die naaste kerk, dokter en winkel is. Die paaie is eenvoudig treurig en voertuie word in ’n japtrap gedaan gery.
’n Man wat feitlik sy lewe lank daar woon en dié wêreld soos die palm van sy hand ken, is mnr. Willem Rupping van die plaas Ariesdrift. Dit is die laaste bereikbare plaas langs die rivier in die rigting van Vioolsdrif.
Mnr. Rupping en sy twee seuns boer hier saam op sowat
14 000 morg. Hulle het ’n winkeltjie en doen ook karweiwerk. “Ons lewe goed,” vertel hy. “Dit is ’n gesonde wêreld en as hy sy reën gereeld kry, is daar nie beter om op te boer nie.”
Laer af langs die rivier, in die rigting van Alexanderbaai, woon die 73jarige oom Jims Aggenbag en sy sieklike vrou. Hy het 30 jaar lank by die staatsdelwery gewerk totdat hy later weens siekte moes aftree. Nou kry hy pensioen en bly hulle baie gelukkig in sy houthuisie op die wal van die Oranje.
Slaggoed, kla oom Jims, is tog net so skaars en maer. Tot wie weet waar in die Richtersveld en langs die rivier op moet hy ry om ’n slagdingetjie in die hande te kry.
Só lewe die mense. Eenvoudig, maar skoon: Eerlik en rustig. As die rivier afkom, jubel hul harte, want dit beteken water – en lewe. As die son genadeloos neerbak oor die wêreld en alles verskroei, wag en bid hulle vol hoop. “En die lewe en die grond is goed. Hy neem, maar hy gee ook . . .”
Dié artikel het in 1966 verskyn.
DIE DORRE LAND
Die Kalahari moet ’n mens soos ’n dors donkie bekruip – stadig, geduldig, maar sonder ophou soek na water, water en nogmaals water. Kry jy water, kan jy die Kalahari mak maak en vorentoe boer.
’n Baasverteller uit die Kalahari sê dat hy een aand daar tussen die duine langs sy kameeldoringvuurtjie gesit het toe sy senuwees vir hom sê: Kyk om! Met die omkyk, sien hy die “allermintagste harnoster” agter hom staan.
Sy senuwees sê toe vir hom: “Kom ons waai!” Maar die Kalahariboere “waai” nie. Hulle bly! Want as die skroeiende son en die vars aandlug van die Kalahari een keer in jou bloed is, kry niks jou daar weg nie. In dié trant praat Kalahariboere – waarvan mnr. A.J. Botma van Rooipoort no.2, Upington, een is. Hy boer reeds 27 jaar lank in die Kalahari en is tans besig om sy derde plaas in dié geweste “mak” te maak. Dit is ook hoe ’n mens in die Kalahari moet boer. Hoewel feitlik al die gras en bossoorte wat daar groei, waardevolle weiding bied, beteken veral die gras nie veel as dit ruig uitgegroei is nie.
Volgens Botma word die veld makgemaak deur dit te laat trap en die graspolle stomp of borselkop te laat vreet. Dan wys die Kalahari waartoe dit in staat is. Die diere se trap breek die boonste sandlaag en vorm ’n grondkombers wat die vog langer in die grond hou. Dan kry ’ n mens ook die interessante verskynsel dat hoewel die veld droog is, die stomp gevrete graspolle sappige groen uitloopsels het. Daarom is die Kalahari die enigste plek in die Noordweste waar Landbouweekblad in die huidige droogte nog vet diere aangetref het.
Sommige mense meen dat die Kalahari net uit rooi waaisandduine bestaan.
Sandduine is daar meer as genoeg. Probeer hulle maar met ’n motor bestorm en kyk hoe ver u kan vorder sonder om vas te val. Maar hierdie duine is dig begroei met gras en bosse.
Volgens Botma is die beste soorte ghagras ( Aristida brevivatia), lang boesmangras ( Aristida aliata), kort boesmangras ( Aristida oftusa), duinkweek ( Aristida namaquinsis) of motorkweek – dit is dié gras wat ’n mens onder jou motor se wiele instop wanneer dit in die sand vasval – en blinkaargras ( Aristida hockstelleriana).
Van die kleiner bossoorte is die blou skaapbos, duinganna en gemmerwortel die beste wat hier aangetref word. Bome, soos die vaalkameel, kaalbos, nooibos en witgat, word ook gevreet. Dan is daar ook volop opslag, soos die tsamma, komkommer en suring. Die draagkrag van die kameelboomveld (soos in die omgewing van Askham op die oewer van die Kurumanrivier) is nagenoeg 15 morg per bees. Maar meer suidoos naby Tillerypan is die draagkrag van ’n mak plaas 6 morg per bees.
Selfs die kleur van die sand maak ’n verskil in die draagkrag. Op wit sand vind verdamping vinniger plaas sodat die plante dus langer groen en lewendig op die koeler rooi sand bly.
Die enigste vraagstuk waarmee Kalahariboere feitlik dag en nag worstel, is water. Daarom dat byna elke boer in dié streek ook ’n boorman is. Die gemiddelde grootte van plase in die Kalahari is 9 000 morg. Botma boer egter op 12 000 morg waarop net een suiping is. So is daar heelwat boere wat eenvoudig net rondom die water moet boer en dus nie hul hele plaas kan benut nie.
Boere moet baie versigtig wees om nie die veld rondom die suipings te laat uittrap nie. Die grasveld is gevoeliger vir uittrap as bossieveld. Maar gelukkig trek elke druppel water wat hier val dadelik weg in die sand en herstel uitgetrapte veld baie vinnig. Nagenoeg 80% van die gemiddelde reënval van 5 duim per jaar is stortreën. Anders as op harde veld, loop daar niks van dié water weg nie. Indien die reënval redelik verspreid voorkom, is daar min plekke in die land wat beter weiveld as die Kalahari kan bied, sê Botma.
Kalahariboere wil nie water vir besproeiing hê nie – net drinkwater vir mens en dier. Ondergrondse water is gemiddeld 600 voet diep. En wanneer ’n mens die slag gelukkig is om op daardie diepte ’n aartjie raak te boor, is die water gewoonlik só sout dat ’n mens en dikwels diere dit nie kan drink nie. Proewe wat tans deur die WNNR met die ontsouting van hierdie water gedoen word, het ’n nuwe probleem aan die lig gebring, naamlik dat die water al hoe souter word hoe langer ’n gat gepomp word.
Die boere se plan om suipings in die veld te kry, is om gatdamme te maak. Gate word op harde kolle tussen die duine in die sand gemaak (indien daar sulke kolle is) en die harde grond nagenoeg 4 duim dik oor die sand rondom die gat uitgestrooi en vasgestamp. Hierdie harde laag grond is die enigste opvanggebied vir so ’n dam. Ook in hierdie opsig maak die boere kliphard planne, want harde kolle tussen die duine is skaarser as hoendertande. Die jongste planne is om die sandduine met ’n plastiese kombers te bedek wat dan as opvanggebied dien.
As dit die jaar reg reën sodat daar volop tsammas en suring is, kan die diere lank sonder water klaarkom, sê Botma.
“Sulke jare wanneer die brandboontjie en botterblomme in pers en geel vlamme tussen die groen gras uitslaan en tsammas en komkommers geel aan hul ranke in die bosse hang, is dit lekker om ’n Kalahariboer te wees,” meen hy.
Dié artikel het in 1962 verskyn.
VLOORVLEI SE MENSE
“Jy moet maar buk, nefie!”
My kop skuur onder die lae kosyn deur. Die klein tuiekamertjie is halfdonker, want die luik voor die venster is toe. Dit ruik na rouleer en harpuis. Teen die kleimure hang ’n klompie halfklaar karwatse en ’n spierwit gevlegte handsambok. Een kant staan ’n tuiebank en ’n houtbalie vol soutvis.
Die ou man sien waarna ek kyk. Selfs onder die sorgvuldig toegedraaide streepsakke is die buitelyne onmiskenbaar.
“En dit?”
Hy versit die pruimpie in sy kies, spuug lank en sekuur oor die onderdeur en gee so ’n skelm laggie, terwyl sy hande die sakke effens wegtrek en oor die blink oppervlakte streel.
“Dis my houtbaadjie . . .” “Houtbaadjie?”
“Jy sien, nefie, die dorp is ver en ’n man weet nooit nie. Daarom hou ek maar my doodskis byderhand . . .”
’n Mens moet dit sien om te glo – dat daar in hierdie verligte eeu van plastieksakkies en minirokke nog ’n boer gevind kan word wat sy eie tuie maak, roltwak pruim, nog nooit in sy lewe ’n motor gehad het nie, sy broodkoring op ’n trapvloer dors en met ’n perdemeul maal en sy doodskis byderhand hou vir die wis en die onwis . . .
En ’n boervrou wat haar wasgoed op ’n leiklip was, growwe brood bak in ’n buiteoond, vaalvleis kook in ’n driepootpot, ’n afval self spierwit kan skraap en haar koffievuur lewe gee met ’n blaasbalk in die môre . . .
Dit is mos vergange dae se dinge – toe die Kaap nog jonk en die wêreld wyd en wild was! Maar dan is daar nog die mense van die Vloorvlei, in die Sandveld: Die Coetzees, Louws, Van Zyls, Engelbrechts, Smitte en Pretoorse, wat nog lewe en werk soos gister en eergister; wat baie gee en min vra; vir wie die ver blou berge en wat daaragter lê nie lok nie – solank dit net reën oor die vleie in die winter.
Verlorevlei is eintlik die regte naam. In die mond van dié kontrei se mense het dit egter oor die jare sommer kortweg Vloorvlei geword. Verlorevlei is nogal ’n paslike naam, want dit is inderdaad ’n verlore stukkie wêreld, gemeet aan die standaarde en die leefwyse van vandag.
Anderkant Piketberg se berge waar die Sandveld begin, lê sy voorpunt. Hier vloei die winterwater uit die berge saam en sprei dan wyer totdat dit vanaf die klein dorpie Redelinghuys ’n stil “breë” vlei vorm wat twintig myl ver opstoot tot knap duskant Elandsbaai, langs die see.
Weerskante van die vlei lê die klein plasies, bestaande uit ’n lappie tuingrond langs die vlei en ’n stukkie weiding die duineveld in.
Op ’n mistige Maandagoggend is ek saam met mnr. Frikkie Rossouw van Piketberg in sy Land Rover Vloorvlei toe.
’n Paar kissies hanepoot moes op Muishoek by oom Theunis van Zyl, die Vloorvlei se tuie en sweepmaker van naam, afgelewer word. Ook ’n paar skouswepe en karwatse wat dié ou ambagsman se bekwame hande weer moes lap.
Droogvoets oor die vlei, want die water is nou min, en met ’n kronkelende sandpaadjie langs, die een bult uit die ander af, hou ons kort voor middag onder koel bloekoms voor die strooidakhuisie op Muishoek stil. Die son blink op die vleie en oor die fluitjiesriet heen lê Elandsbaai deinserig in die verte.
’n Ou man met kakiebroek, breë kruisbande en velskoene sonder sokkies kom nader. In die kenmerkende Sandveldaksente word “neef Frikkie” hartlik gegroet. Ek word so effens agterdogtig bekyk. Vir ’n stadsman is die oom nie alte gerus nie. In ’n hospitaal in die stad het hulle hom trouens ’n slag lelik verrinneweer – veral die nursies met die aldag se wassery . . .
Die jongste seun, ’n oujongkêrel van by die 40, kom ook groet. Die broekspype is opgerol. Hy kom nou net uit die tuin op soek na ’n koffietjie, want die waterleiery maak ’n man dors hier teen die middag. Janee, koffie sal dit wees sodra die tante terugkom met die wasgoed.
Nou ja, maar dan moet die oom solank vir ons ’n bietjie musiek maak, beduie neef Frikkie. Lekker musiek, want sy hart voel lig en hy’s bly om weer op Muishoek te wees! Hoe lyk dit met “Grootrivier se Voël” of ’n lekker boerevastrap!
Van iewers in die donker tuiekamertjie waar oom Theunis se “houtbaadjie” ook staan, word die vlamrooi Engelse konsertina gehaal. ’n Olienhoutriempiematstoel word voor die deur getrek en terwyl ons rondom stelling inneem, voelvoel die knopperige vingers oor die fyn instrument. Die linkervoet klopklop, die wysie is hartseer en mooi.
“Al lê die berge nog so blou, al lê die berge nog so blou . . .”
Met die laaste draai van die “Hoogtekraalwals” nog in die lug, kom die tante tussen die bome aangestap – ’n skraal vrou met ’n bondel nat wasgoed op die kop en ’n wasemmer in die een hand – tant Tukkie van Zyl (72), Muishoek se ligvoetboervrou.
Niemand moet tog die fout begaan om aan hierdie mense te vra waarvan hulle lewe nie.
’n Engelsman uit die Kaap wat eendag daar uitgeslaan het, het hom dié reg aangematig en die volgende antwoord van oom Theunis gekry: “As ek wil vis hê, gooi ek my seën uit in die vlei waar die springers en harders boer. En as ek wil vleis eet, vat ek my haelgeweer en loop hier oor die rant. Dáár is my trapvloer en perdemeul, hier my melkstal. My meubels maak ek met ’n dissel en knipmes, my velle vir my tuie brei ek self. In my voorhuis staan ’n wireless en hier onder is ’n phone. In my tuiekamer staan my houtbaadjie en daar onder die bome lê my kerkhof. Ek skuld niemand niks . . .”
Só is Vloorvlei se mense. Baie vra hulle nie en wat agter die blou berge lê, kan maar daar bly – solank dit net reën oor die vleie in die winter.
Dié artikel het in 1967 verskyn en is deur Johan van Wyk geskryf.