KOOP GROND, DIT WORD NIE MEER NIE
OP die oog af lyk die toekoms vir Suid-Afrikaanse boere nie rooskleurig nie. Alles dui op ’n rowwe jaar met ’n Regering wat nie gaan afwyk van sy verdoemende politieke pad nie en ’n flou ekonomie wat alles verder gaan bemoeilik.
Voeg daarby boere se eiesoortige probleme, soos lae kommoditeitspryse, stygende produksiekoste, onsekerheid oor die weer, gebrekkige veiligheid en ’n uiters onsekere beleidsomgewing, dan is dit seker te verstane dat talle boere die nuwe jaar sonder geesdrif begin.
Tog is daar ’n ander prentjie wat ’n mens nie uit die oog moet verloor nie: In die volgende 40 jaar sal mense meer kos moet produseer as in die afgelope 10 000 jaar tesame.
In ’n artikel in die gesaghebbende tydskrif word verwys na die kapitaalmark se groeiende belangstelling in boerdery. Internasionaal sien groot beleggers, soos pensioenfondse, landbougrond toenemend as ’n vrugbare bron om in te belê. Soms word grond net gekoop en verhuur aan korporatiewe boerderye en soms word landbouprojekte met die samewerking van plaaslike boere aangepak. In Brasilië, die Oekraïne en Zambië is daar talle voorbeelde.
Dit gebeur nie om dowe neute nie. Hierdie beleggers sien die toekomstige waarde van die landbou. Hulle besef dat landbougrond die afgelope 20 jaar van die beste beleggings was. In Amerika en Brittanje het die waarde van plaasgrond jaarliks met 12% gegroei. In Suid-Afrika word dit geraam op gemiddeld 8% tot 10%.
Vir Suid-Afrikaanse boere kan dit raadsaam wees om verby die pessimisme te kyk en vennootskappe met groot beleggers te soek wat hulle kan help om grond by te koop en hul boerderye uit te brei. Die beleggingsraad is al deur Mark Twain uitgewerk wat lank terug gesê het: “Koop grond, niemand vervaardig dit meer nie”.
TheEconomist