Landbouweekblad

GOD SE HAND OOR ONS

- DS. KOBUS VAN DER WESTHUYZEN

As jy wil weet wat die geheim is van moedhou, uithou en aanhou, dan moet jy by Esra gaan kers opsteek. Hierdie geheim is ook die geheim van uiteindeli­ke sukses. Esra is geroep om die volk van God wat in ballingska­p weggevoer was, terug te lei na die beloofde land waar hulle die tempel moes gaan heropen en die tempeldien­s moes herstel.

Dit was beslis nie ’ n maklike taak nie. Probleme was volop. Teenstand, terugslae en teleurstel­ling was die byna daaglikse toets wat hulle moes deurstaan. In dié omstandigh­ede was die keuse van Esra as leier die regte een. Wat gee ons rede om so uitgesprok­e daaroor te wees?

Luister ’n bietjie wat oor hom gesê word: Hy het op die toneel verskyn met ’n kundigheid wat onontbeerl­ik was vir die taak wat verrig moes word. Net so min as wat ’n blinde ’ n ander blinde kan lei, kan ’ n onkundige kundige leiding gee.

Van Esra verneem ons dat hy ’n geleerde man was – opgelei in die wet van Moses wat God aan sy volk gegee het. Hy hoef dus nie te gesoek het na die wil van God nie – dit is vir hom gegee. Hy moes dit net gehoorsaam uitvoer. En dis hier waar Esra se keuse as leier so heerlik uitstyg. Ons verneem dat hy en God mekaar gevind het. Dis hier waar kundigheid en wysheid by mekaar uitgekom het (Esra 7:6).

Op minstens drie plekke verskyn dieselfde woorde wat Esra se sukses verklaar. Luister nou baie mooi, want dié woorde raak ook vir jou, net soos vir my, regstreeks: “God se hand was oor Esra.” Later getuig hy self persoonlik: “Die Here my God het sy hand oor my gehou.” (7:28b). En nog later: “Ons God het sy hand oor ons gehou.” ( 8: 31). Met hierdie mededeling­s staan ons by die hartklop van die boek Esra.

En nou die vraag: Raak hierdie historiese mededeling enigsins vir jou wat hier lees? Natuurlik! Beslis! Ja, die wêreld het verander, maar ook nie sodanig dat niks dieselfde gebly het nie. Ons het steeds ons probleme. Ons trek na die beloofde land. En genadiglik – luister mooi: God is nog daar. Sy hand is nog versorgend en bewarend vir almal wat bereid is om sy roetekaart te volg.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa