Klassieke baan langs die Tuinroete (Uitspantyd)
ie Plettenbergbaai-gholfklub in die dig beboste Piesangvallei is nie verniet een van die gewildste bane aan die baanryke Tuinroete nie. Dit lê in ’ n rustige, private natuurreservaat wat ook die tuiste is van die Knysna-loerie, klein wildsbokkies, bosvarke en selfs bobbejane. Hier is nog volop geelhout- en stinkhoutbome en, op die tweede nege, voel dit plek-plek asof jy in ’n reënwoud speel.
Die see en die bekende Beacon Islandhotel is nie ver weg nie, maar buite sig.
Die baan is in die 1970’s ontwerp deur Robert Hawtree, wat ook vir die Woodmead-baan van die Johannesburg-buiteklub verantwoordelik was. Dit is later deur die argitek Robert O’Friel verbeter.
Die baan is ’ n rapsie langer as 6 000 m, redelik gelyk en maklik om te loop – die enigste opdraande putjies is nommers 9 en 18, wat jou na die groot klubhuis teen die bult neem. Die eerste en tiende putjies is dus gerieflik afdraand, maar terwyl eersgenoemde ’ n ideale begin vir ’ n ronde bied, kan die groot bome op die regterhoek van laasgenoemde jou groot moeilikheid gee. As jy daar ’n hou aan syfer afstaan, kan jy egter op die kort elfde (122 m) daarvoor vergoed waar jy die vlaggie sonder veel gevaar regstreeks kan aanval.
Baie bome ( veral op die tweede nege) goedgeplaaste sandkuile, waterhindernisse en doglegs maak die baan interessant, maar moeiliker as wat dit op die kaart lyk. (Daar is nog geen Afrikaanse woord vir “dogleg” nie – dis ’ n skoonveld wat skerp links of regs swaai. “Elmboog” of “hakskeen” word soms gebruik.)
Die baanontwerper het nietemin mildelik van hierdie konsep gebruik gemaak, met die gevolg dat spelers wat nog nie die baan ken nie, dit moeilik vind om die regte lyn vir hul bofhoue te kies. Veral die derde ( 314 m) en veertiende (299 m) putjie draai sommer skerp. Water kom ook dikwels in die spel – soms op die mees onverwagte plekke. Dit is dus goeie raad om ’n joggie vir jou eerste ronde op Plett te huur. Hierdie manne is goed opgelei.
Die sandkuile en setperke is volgens Amerikaanse PGA-spesifikasies gebou, dit is altyd in ’n uitstekende toestand en die baan is tans in die 51ste plek op Golf Digest se ranglys. Hoewel daar ’n paar betreklik kort syfer 4- en syfer 5-putjies is, is daar genoeg uitdagings vir die lang slaners. Goeie houe word beloon, terwyl swakkes erg gestraf kan word.
Drie van die syfer 3-putjies is langer as 170 m. Teen 515 m is die vierde die langste putjie. Ander moeilike putjies sluit die tweede ( 383 m), vyfde ( 370 m), en die sestiende (361 m) in. Die laaste putjie, ’n syfer 5 van 477 m teen die bult uit, kan ook jou ronde bederf as jy nie kophou nie.
Dit is moeilik om die mooiste putjie (dalk die veertiende) op hierdie pragtige uitleg te kies. Die Piesangrivier is immers so gedoop deur vroeë reisigers vanweë die tropiese aard van die vallei.
Daar was ’n klompie bobbejane naby die mooi agtste putjie toe ons gespeel het, maar hulle het gelukkig nie veel belangstelling in ons balle getoon nie. Ek hoor wel hulle kan ’n bal gryp en daarmee weghardloop. Dan moet jy maar nóg ’n bal uithaal om verder te speel. Sover bekend het die sekelsterte nog nie self die spel opgeneem nie.
Die goed toegeruste gholfwinkel word deur Nico Truter, die PGA- beroepspeler, bestuur. Dit is noodsaaklik om lank vooraf ’n afslaantyd te bespreek.
Hierdie oustyl-baan bied iets vir spelers op elke vlak.
NAVRAE: Tel. Hier is nog volop geelhout- en stinkhoutbome en, op die tweede nege, voel dit plek-plek asof jy in ’n reënwoud speel.