Vermy howe: Bemiddeling kan miljoene spaar
Regslui sal vir jou een ding sê: Hofsake – of litigasie, soos hulle dit graag noem – is nie net dúúr en dikwels uitgerek nie, maar tap jou ook emosioneel. Trouens, dit kan nie net jou boerdery verwoes nie, maar ook jou lewe en jou familie.
Adv. Alan Nelson, senior advokaat van die Kaapse balie en eienaar van die bekende wynlandgoed Nelson buite die Paarl, sê in sy 35 jaar in die regsberoep het hy dit net te dikwels gesien. Die prys wat ’n kliënt (in ’ n hofgeding) betaal, is astronomies hoog. Daarby kan dit van ’n jaar tot tien jaar duur voor daar ’n uitspraak kom.
As jy die saak wen, is die kans goed dat jy agterna ook net tussen 35% en 55% van jou hofkoste gaan terugkry.
Alan het besef daar moet ander keuses as litigasie wees. Daarvoor het hy oorsee gaan kyk en vinnig vasgestel dat bemiddeling die antwoord is.
“Internasionaal word 9 uit 10 gevalle van geskille tussen twee partye opgelos – en 70% daarvan binne een dag of hoogstens binne ’n week. Dit vind plaas teen ’ n koste van minder as 1% van wat litigasie jou sou kos.”
Dit is hoekom dit elders ter wêreld so vinnig die voortou neem as die aangewese weg om geskille op te los en hoekom Nelson sê: “Een van ons bemiddelingsaksies is soveel werd as 1 ton litigasie.”
Hy gebruik die uitkoms van ’n onlangse hofsaak in die Kaapse Hooggeregshof tussen twee van die land se vooraanstaande wynboere as ’n voorbeeld daarvan.
Met die viering van die bekende wynlandgoed Clos Malverne se 25ste bestaansjaar in Oktober 2010, het die eienaar, mnr. Seymour Pritchard, besluit om sy vrou, Sophia, te vereer vir die reuse-bydrae wat sy tot die sukses van die onderneming gelewer het. Dit het hy gedoen met die beskikbaarstelling van 600 bottels topgehalte versnitwyn, en dit Clos Malverne Sophia genoem.
Wat hy in daardie stadium egter nie geweet
Jy en jou buurman kry stry, jy sleep hom hof toe, maar vergeet in die hitte van die oomblik watter hoë regkoste moontlik op jou wag. Daar ís egter ’n goedkoper, korter en eenvoudiger uitweg as ’n hofgeding.
het nie, was dat die nabygeleë wynplaas, Jordan, ook ’n spogwyn met die naam Jordan Sophia op die jaarlikse Cape Winermakers Guild-wynveiling verkoop het.
Groot was Seymour se verbasing en ontsteltenis dus toe mnr. Gary Jordan hom kort ná die bekendstelling van Clos Malverne Sophia Hooggeregshof toe sleep – nie net vir ’ n dringende interdik om hom te belet om die naam Sophia te gebruik nie, maar ook om die 600 bottels te vernietig.
DIE STRYD VAN DIE SOPHIAS
Gary het aangevoer dat die wynpubliek Clos Malverne se Sophia met sy wyn sou verwar en dat sy onderneming daardeur benadeel sou word. Seymour, daarenteen, het gemeen daar is geen kans op verwarring nie. Sy etiket was totaal anders en die wyn sou boonop net uit die proelokaal op die plaas verkoop word. Voorts was die meeste van die wyn net vir geskenke bestem; slegs ’n klompie bottels sou verkoop word om sy onkoste te verhaal.
Seymour was ook woedend oor die aantyging dat hy met die bekendstelling van Sophia vir Jordan nageboots het om sodoende ’n onbillike markvoordeel te kry.
Pleks van regkoste op te stapel, het Seymour se regspan tydens die verloop van die saak telkemale aan Gary se regspan voorgestel dat die saak bemiddel moet word. Die versoek is egter geïgnoreer en die saak het voortgesleep.
’n Paar jaar later, lank nadat Clos Malverne Sophia reeds uitverkoop was, het regter Pat Gamble uitspraak in Gary se guns gegee, en verlof tot appèl geweier.
Seymour het toe ’n aansoek om verlof tot appèl tot die Appèlhof gebring. Daar het twee regters besluit Gamble was verkeerd om nie verlof tot appèl toe te staan nie. Hulle het in Seymour se guns beslis daar was redelike vooruitsigte dat ’n ander hof tot ander insigte mag kom en dat Seymour wel ’ n redelike kans het dat sy appèl sal slaag. Gevolglik is verlof tot appèl toegestaan.
“In daardie stadium het die partye se koste reeds meer as R1,5 miljoen beloop,” sê Alan. “Met die vooruitsig dat die hof op appèl anders sou besluit, is die saak uiteindelik tussen die partye geskik op die grondslag dat Seymour elke tien jaar ’n Clos Malverne Sophiawyn in beperkte getalle kan produseer en verkoop. Gary het ook ingestem dat Gamble se uitspraak in sy guns tersyde gestel word en dat elke party sy eie koste moes betaal.”
Daarmee was Seymour heeltemal tevrede, dit was immers sy bedoeling om Sophia- wyne slegs by hoë uitsondering te maak om sy vrou te vereer. Dié skikking het gestrook met die uitkoms wat hy uit die staanspoor sou aanvaar het indien hulle die saak sou bemiddel.
Byna vier jaar nadat Clos Malverne Sophia bekend gestel is, het die geveg van die Sophias uiteindelik tot ’n einde gekom. “Die prys was egter hoog, veral vir die verhouding tussen die partye. Dit sal miskien nooit herstel nie,” sê Alan.
“Daar bestaan geen twyfel nie dat hierdie geskil op ’n veel beter grondslag opgelos kon gewees het indien die partye bemiddel het. Die geveg van die Sophias sou deur bemiddeling binne ’n week en teen slegs 0,16% van die hofkoste opgelos kon word!”
WAT IS BEMIDDELING?
“Anders as met litigasie, waar die uitkoms dikwels ingewikkelde regsvrae inhou, word bemiddeling volgens die belange van die partye opgelos. Dit het tot gevolg dat die partye opsies kan oorweeg wat eenvoudig nie deur die hof oorweeg kan word nie. Met die hulp van ’n opgeleide bemiddelaar kan die partye dan uit verskeie moontlike oplossings een kies wat vir albei aanneemlik is en word ’n wen-wen-oplossing nagestreef, pleks van een waar een van die partye as wenner wegstap en die ander een as verloorder.
“Bemiddeling het ook die voordeel dat dit ál die trauma van ’n hofgeding uitsluit, terwyl dit ook daarop gerig is om die verhouding tussen die partye te herstel, pleks van dit aan flarde te skeur.
“In Amerika, Europa en Asië, maar selfs in Namibië en Ghana, word om hierdie redes deesdae op groot skaal van bemiddeling gebruik gemaak om geskille op te los,” sê Alan.
Ondanks die voordele, en die wêreldwye opgang van bemiddeling, het dit in Suid-Afrika tot dusver egter nog feitlik geen rol gespeel nie.
“Daar word baie bespiegel oor die redes daarvoor. Is dit omdat ons ’n litigerende, bakleierige nasie is, of dalk omdat regsgeleerdes om selfsugtige redes versuim om bemiddeling te bevorder?
“Waarskynlik draai dit net om onkunde oor die proses en vrese vir die onbekende.”
En dis juis hoekom hy die Nelson-bemiddelings-en-vredesentrum gestig het en konferensies oor die voordele van bemiddeling saam met die Universiteit van Kaapstad se regsfakulteit ( waar bemiddelaars opgelei word) aanbied vir uiteenlopende beroepe – van die landbou, medies tot die boubedryf.
“Die siviele regstelsel het homself in talle lande buite die bereik van die meeste mense geprys. Die gevolg is ’n verstommende groei in bemiddeling in die Weste. Mense moet praat voor hulle veg. Dit is nooit te laat of te vroeg vir bemiddeling nie. Doen dit so gou moontlik.”
NAVRAE: Adv. Alan Nelson, sel
tel. ‘Met die hulp van ’n opgeleide bemiddelaar kan die partye uit verskeie moontlike oplossings een kies wat vir albei aanneemlik is en word ’n wen-wen-oplossing nagestreef.’