Willemse: Dink hieraan as jy uitbrei
ie Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se oorsig van die landbou vir die jaar ( tot die derde kwartaal van verlede jaar) toon dat die landbou se bruto inkomste ( produksie) danksy goeie opbrengste in die jaar met 11,6% gestyg het. Hierdie styging is hoofsaaklik voortgedryf deur goeie graanoeste en selfs goeie uitvoer-inkomste in die begin van die jaar. Produsentepryse het oor die tydperk met gemiddeld 9,3% gestyg, terwyl produksiemiddele se pryse volgens die departement met slegs 5,7% gestyg het.
Die lae styging in die pryse van produksiemiddele word redelik wyd bevraagteken, want somersaaiboere se berekening dui daarop dat vanjaar se oes sowat 15% meer sou kos om in die grond te kry. Dit illustreer die voortdurende kosteknyptang waarvolgens produksiekoste neig om vinniger te styg as inkomste, met die gevolg dat netto inkomste (wins) neig om te daal.
Die voortdurende verswakking in die rand se waarde verlede jaar het ’n groot bydrae gelewer om produkpryse en pryse van produksiemiddele te laat styg, want albei is regstreeks aan die buitelandse mark gekoppel. Party finansiële ontleders in die landbou meen die voortdurende kruipende kostestygings (waarvolgens pryse van produksiemiddele met verloop van tyd neig om vinniger te styg as produkpryse), het tot gevolg dat
’n boerdery met omtrent 10% per jaar moet uitbrei om tred te hou met die kosteknyptang.
Dit verklaar die feit dat boerderye ál groter raak en streef na skaalekonomie om vaste koste per eenheid te verlaag. Dit verg voortdurende belegging in nuwe tegnologie om die produksiekoste per eenheid te laat daal. Dit verklaar deels die steeds groeiende skuldlas in die landbou, want eksterne finansiering is nodig om die groei te finansier omdat wins te stadig groei en rentekoerse tans die laagste in sowat 30 jaar is.
Die dilemma vir ’ n middelslagboerdery word dus ál groter: Belê en brei uit, of sak terug. Dit is ’n groot paradoks: Belê met eksterne finansiering in die boerdery se groei ( want jou wins is te klein om met jou eie geld daarin te belê) of gaan die kreeftegang.
Dit is natuurlik die regstreekse gevolg van ’n ongunstige landboubeleid wat geen steun aan die kommersiële landbou verleen nie. Dit beteken die struktuur van Suid- Afrika se kommersiële landbou is drasties aan die verander teenoor waaraan ons sowat 10 jaar tot 20 jaar gelede gewoond was. Afgesien van die gedeeltelike ontvolking van die platteland en die verlies aan werkgeleenthede, hou die neiging ook belangrike implikasies in vir die landboudiensbedrywe. Diensverskaffers moet aan ál minder, maar ál groter boere dienste voorsien. Ek vermoed die kleiner of middelslag- boerderye sal meestal deeltydse boerderye word, soos die neiging in Amerika is.
Verskaffers van produksiemiddele en dienste aan die landbou is toenemend ingestel op die groter boerderye met wie hulle regstreeks sake doen. Die middelslag- en kleiner boerderye word oorgelaat om na hulself om te sien en self na die verskaffers te gaan – soms met ’n effens hoër kostestruktuur.
PRODUKSIEWAARDES STYG
GRAFIEK 1 toon die verloop van landbouverkope, uitgawes ( koste) en netto inkomste vir die jaar wat in die derde kwartaal van verlede jaar geëindig het. Dit het met sowat 11,6% tot R207 miljard gestyg teenoor die vorige jaar. Dit is ’n raps beter as die styging in die produsenteprys van gemiddeld 9,3% vir die betrokke jaar.
Ten spyte van heelwat groter oeste het bruto inkomste net effens meer as inflasie gestyg. Totale uitgawes het met 7,3% gestyg tot R142 miljard, wat ’n netto inkomste van R70,5 miljard laat. Dit is baie hoër as dié van die vorige jaar – ’n styging van 21,8%.
Verlede jaar was goed vir die landbou. Kostestygings beteken boere moet bly uitbrei om suksesvol te wees, maar hulle moet steeds geld leen om dit te kan doen.
Die syfer is egter misleidend, want dit sluit skuldbetalings, belasting en eienaarsvergoeding in en is dus ’ n omvattende syfer. Die syfers toon nietemin dat die hele landbou se winsgewendheid vir die jaar tot September verlede jaar verbeter het.
Die probleem met die omvattende syfer is dat dit meer wegsteek as wat dit met ’n ontleding help. ’n Mens weet byvoorbeeld dat heelwat veeboere verlede jaar swaar getrek het met relatief lae winsmarges, wat eers in die laaste deel van die jaar begin verbeter het met laer voerkoste. Daar is groot verskille tussen bedrywe en streke, en die goeie jaar is die resultaat van goeie akkerbou- oeste verlede jaar en redelik goeie pryse.
GRAFIEK 2 toon die verloop van die bedrywe se inkomste vir verlede jaar. Akkerbou se bruto inkomste het met 14,7% verbeter tot R55,3 miljard. Die goeie sprong was die resultaat van goeie somergraanoeste, veral mielies en sonneblomme.
Tuinbou het in totaal met 9,7% toegeneem tot R55 miljard, met veral die inkomste uit sitrus- en sagtevrugte-uitvoer wat ’n hupstoot gegee het. Groenteboere se produksiewaarde het ook met 11,7% gestyg.
Die veebedrywe se bruto produksiewaarde het met 10,9% verbeter vir die betrokke jaar tot R97 miljard. Daarvan was sowat R41 miljard die inkomste van die hoenderbedryf, terwyl die eierboere se inkomste met net 2,6% toegeneem het.
Die beesbedryf se waarde was R23 miljard, ’n verbetering van sowat 11%. Skaapboere het egter die beste gevaar, met ’ n bruto inkomste wat met 23% tot R5,3 miljard vir die tydperk gestyg het.
Die dominante posisie van die hoenderbedryf staan uit. Onthou, dit is meestal groot boerderye en die produksie van hoendervleis lê in vyf maatskappye se hande. Hulle lewer sowat 70% van die produksie. Dit gaan dus nie goed met middelslag- en kleiner boere nie, want skaalekonomie bly belangrik.
Dit was ook die jaar waarin heelwat kleiner hoenderboere die bedryf verlaat het, soos ook met melkboere die geval is. Melk se bruto produksiewaarde is geraam op R13,2 miljard – ’n styging van 14,8% oor die jaar. Ons weet egter dat kleiner en middelslag- melkboere steeds die bedryf verlaat en dat dit nie te goed gaan met hulle nie. Juis daarom moet ’n mens die makro-beramings van die departement met omsigtigheid hanteer.
VERLOOP VAN PRYSE
Die stand van pryse op ’n indeksgrondslag in die derde kwartaal van verlede jaar word getoon in GRAFIEK 3 , waar die indeks 100 was met 2010 as die basisjaar.
’n Mens kan verskeie opmerkings daaroor maak. Die belangrikste is dat dit net in die akkerboubedryf was waar produsentepryse teen September verlede jaar effens meer gestyg het as die pryse van produksiemiddele. Die situasie het egter teen die laaste deel van verlede jaar verander, toe heelwat akkerboupryse laer was as ’n jaar of twee gelede.
Die ander bedrywe se pryse het minder gestyg as die pryse van produksiemiddele, wat aansluit by die opmerkings in die begin, naamlik dat die voortdurende kosteknyptang boerderye dwing om uit te brei en/of te belê in nuwe tegnologie wat opbrengste verhoog om mededingend te bly.
Die dilemma is dat die wins nie genoeg is om die voortdurend nuwe beleggings te finansier nie. Dit bring mee dat die eksterne skuldvlak bly styg teen stygende pryse vir grond, wat in die meeste gebiede as sekuriteit aangebied word.
Dit gaan dus nie goed met middelslag- en kleiner boere nie, want skaalekonomie is belangrik.