STAAK DIE SYFEROORLOG!
Die wins van kommersiële veeboere word regstreeks bepaal deur hoe doeltreffend hulle hul diere selekteer. Met kundige kruisteling alleen, vertel ons rubriekskrywer dr. Michael Bradfield in ’n onlangse uitgawe, kan boere hul wins met soveel as 30% opstoot. Maar daarvoor het ‘n mens syfers nodig. Ja, daar is stockmen – die oubase wat in ’n kraal tussen ’n vreemde kudde kan staan en vir jou presies kan vertel hoeveel kalwers elke koei al gegooi het. Dis ’n wonderlike, natuurlike aanvoeling waarmee sekere mense geseën is.
Prof. Jan Bonsma het mense gereeld verstom deur wat hy oor beeste kon vertel deur net na hulle te kyk. Maar selfs hy het dit duidelik gestel: Om te meet, is om te weet. Met syfers het ’n gewone ou, soos ek, darem ook ’n kans om half intelligente besluite te neem oor teelbeleid wat my meer geld in die sak sal bring.
Daar’s egter nog ’n rede waarom prestasietoetsing ononderhandelbaar is. Genomika, soos GM by mielies, beloof om ’n tegnologie te wees wat die veebedryf na die volgende vlak kan neem. SuidAfrika is al klaar redelik ver agter ander lande, soos Australië, wat al miljarde rande in genomikanavorsing gestort het. Ons belegging beloop ’n skamele paar miljoen, ondanks die navorsingstalent wat daar in die land is. Met genomika se doeltreffendheid wat grootliks bepaal gaan word deur die deeglikheid van die land se nasionale prestasiesyfers, kan ons nie bekostig om die integriteit van ons teeldata op enige manier in die gedrang te bring nie.
Dít is seker die belangrikste rede hoekom dit so noodsaaklik is dat die Landbounavorsingsraad (LNR) en SA Stamboek hul verskille dringend moet oplos. Prestasietoetsing, die fondament van die veebedryf, gaan andersins daaronder ly, sê manne soos Gielie Kock, gerekende Jersey-teler daar uit Witsand se wêreld.
Eerstens is daar die kwessie van duplisering van prestasiedata tussen Stamboek en die LNR. Deesdae kry kommersiële melkboere ook BLUP- en stamboekinligting, maar omdat hulle nie geboortekennisgewings indien nie, is die data in ’n groot mate ongeverifieer. Ook, in die ou dae, as boere semen wou invoer, moes hulle by die aangewese telersgenootskap aansoek doen, en net twee strooitjies per vroulike dier is toegelaat. Vandag word 1 000 strooitjies op ’n slag ingevoer sonder dat die proses deeglik bestuur word. “Wie bepaal vandag teelbeleid,” vra Gielie? “Die semen-invoerders?”
Die resultaat is dat die relevansie van telersgenootskappe ’n knou kry. Twee jaar gelede was daar 85 000 Jerseys by die telersgenootskap geregistreer, verlede jaar net 60 000.
Die kern van die saak is: Die hele bedryf kry seer weens die geskil. Die manne moet om ’n tafel sit en die ding uitpraat. Ja, daar is altyd twee kante van elke saak. En ja, die LNR kan moeilik wees om mee saam te werk, maar die situasie is wat dit is.
Ons gaan die saak moet beredder. Hoekom word ’n professionele bemiddelaar nie aangestel en word die boere wat wel ’n verhouding met die ouens by die LNR het, nie betrek nie? Miskien is dié onenigheid juis ’n gulde geleentheid om die hele veebedryf meer georganiseerd en doelgerig te kry. Dit gaan egter beslis nie gebeur as dié geding in die hof gaan draai nie.