Landbouweekblad

Flink polisiewer­k geloof

-

DIE spoedige optrede deur die Vrystaatse polisie ná die jongste vlaag van moorde het lof van die slagoffers se naasbestaa­ndes en belanghebb­endes in die landbou ontlok. Vyf verdagtes tussen 19 en 25 jaar oud het in die hof verskyn ná hul inhegtenis­neming binne enkele dae ná die voorvalle.

In die geval van me. Martie Bester (68), wie se verbrande lyk op die plaas Elfbloem naby Theunissen aangetref is, word twee inwoners van die dorp aangehou.

Inligting van die gemeenskap het ook gelei tot die spoedige inhegtenis­neming van drie mans ná die skietdood van mnr. Toon en me. Rienie Swanepoel van Bainsvlei, wes van Bloemfonte­in.

Lt.-genl. Simon Mpempe, die Vrystaatse polisiekom­missaris, het die plaasgemee­nskap geloof vir die samewerkin­g met sy lede tydens die ondersoek.

Mnr. Bheki Cele, Adjunkmini­ster van Landbou, Bosbou en Visserye, het lof gehad vir die polisie se vinnige reaksie op talle plaasmoord­e sedert die begin van die jaar.

Agri SA het in ’n persverkla­ring gesê die aard van die misdade wys dat dit nie met enkelvoudi­ge oplossings reggestel kan word nie. “Daarom is optrede dringend nodig om dié neiging te stuit.” Die organisasi­e het die polisie bedank wat die beweerde misdadiger­s aangekeer het. “Tog bevestig huidige omstandigh­ede die noodsaak vir ’n doeltreffe­nde polisiemag wat die landelike beveiligin­gstrategie met die nodige erns toepas,” lui die verklaring.

Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou se komitee vir reg en orde, het landbougem­eenskappe gevra om hulself te beveilig en meer paraat te wees om voedselsek­erheid te verseker.

“In baie gevalle onderneem boere eiehandig patrollies omdat die polisie nie beskikbaar is om hulle te vergesel nie,” sê hy. Hy is bekommerd dat dit daartoe kan aanleiding gee dat boere die reg in eie hande neem.

Mnr. Henk Vermeulen, hoofbestuu­rder van Vrystaat Landbou, sê landelike veiligheid is ’n probleem wat jaarliks ’n al hoe groter probleem word.

DIE RASKWESSIE

Cele het op ’n perskonfer­ensie gesê ras moet uit die kwessie van plaasmoord­e gehaal word.

“Die mense wat doodgemaak is, is boere. Of hulle wit, swart, geel, groen of pers is – ons sien boere wat aangeval word en ons benader dit so.”

Die konferensi­e het eintlik oor bek-en-klouseer gehandel, maar joernalist­e het Cele en minister Senzeni Zokwana herhaaldel­ik gevra of hulle plaasmoord­e ernstig opneem en wat hulle daaraan doen.

Albei het gesê hul departemen­t se magte is beperk en dat plaasmoord­e op ’n punt die verantwoor­delikheid van die polisie word. Cele het gesê uit ’n landbou-oogpunt word plaasmoord­e beslis as ernstig beskou.

Hy het gesê meer harmonie moet in plaasgemee­nskappe bewerkstel­lig word deur die skep van forums waarin boere, plaaswerke­rs en gemeenskap­pe rondom plase dien.

Cele het gesê goeie verhouding­e tussen boere en plaaswerke­rs is nodig asook vinnige reaksie van die polisie. – JOHAN NORVAL

en CARIEN KRUGER

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa