VAN VLIEGEIERS TOT VEEVOEDING
Die produksieproses van die larwemeel begin wanneer die venstervliegwyfies ( Hermetia illucens) wat in tenthokke gehou word, eiers op plastiekstroke lê. Elke oggend word die eiers geoes, geweeg en in ’n “broeimasjien” geplaas waar die broeiproses begin.
Die maatskappy se tegnologie en werksprosedure bestuur die lewensiklus van die vlieg in intervalle van 60 minute deur te verseker dat die insekte die optimale hoeveelheid lig, hitte en humiditeit kry om die hoogste vlakke van paring, eiervrugbaarheid en larwegroei te verseker.
Deur die eiers te weeg, word bepaal hoeveel gram eiers ’n sekere hoeveelheid larwes sal lewer. Só lewer ’n kilogram eiers byvoorbeeld 380 kg larwes binne 72 uur. Die larwes word in kratte met organiese afval gelaat. Hulle kan daaraan vreet totdat hulle binne sowat drie dae 15 mm lank is en dan geoes word.
Dié proses is soortgelyk aan die proses om wurms te gebruik om kompos te maak, maar net op ’n baie groter skaal en aansienlik vinniger.
Die oesproses behels die skei van die larwes en die kompos. Dit word gedoen deur ’n siftingsmetode. Die larwes word dan met warm water doodgemaak, in ’n oond gebak en die eindproduk is die larwemeel wat verkoop word vir die maak van veevoer.
Die kompos word as MagSoil verkoop vir bemesting.
Hoenders sou seemeeue geheet het as hulle bedoel was om vis te eet, meen Jason.
In die internasionale blitsverkoper The Protein Crunch, wat hy saam met David Lorimer geskryf het, word getoon hoe die aarde se natuurlike hulpbronne, soos water, grond en die see, reeds onder erge druk is met die stygende bevolking se vraag na meer van dié hulpbronne.
In 2009 het die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie bepaal dat 70% van die visproduksie in die wêreld regstreeks vir menslike gebruik was en die res was vir die vervaardiging van vismeel of visolie.
LARWES GROENER AS VISMEEL
Met die styging in akwakultuur en die afname in gesogte, wilde vis word al hoe meer kleiner visse in vismeel omgeskep om visse in visboerderye te voed.
Vismeel word nie net daarvoor gebruik nie, maar dit is ook ’ n proteïenbron om varke en hoenders te voer. Diere met enkelmaagvoedingstelsels eet ook groot hoeveelhede proteïen wat van sojabone kom.
Intensiewe hoenderproduksie het in die 1930’s posgevat en hierdie fabrieke is nou vir 75% van die wêreldproduksie verantwoor- delik. Net soos met vee is geneig na groot, gemeganiseerde hoenderplase.
In 1970 het ’n hoender ná tien weke 1,5 kg geweeg, maar vandag se hoenders kan 2,2 kg in die helfte van die tyd bereik. Volgens die boek gebruik die doeltreffendste hoenders 2,6 kg voer om ’n kilogram hoendervleis te lewer. Omdat slegs dele van die hoender geëet word, kan gesê word dat sowat 4,5 kg graan nodig is om ’n kilogram hoendervleis te lewer wat werklik geeët word. Jason sê 7 miljoen ton vismeel word jaarliks uit die see vervaardig, ’n mark van $20 miljard.
“Toe ons die vis- en hoenderbedryf begin industrialiseer, het ons nie aan vlieë as dierevoedsel gedink nie, want ná die Tweede Wêreldoorlog is sonar ontwikkel en die ligging van die visse kon maklik bepaal word,” het Jason gesê. Die Universiteit Stellenbosch het in sy toetse bevind dat die voedingswaarde van die larwemeel net so goed soos dié van vismeel is, maar effens beter as dié van sojameel. Dit beteken die gehalte van hoendervleis wat met larwemeel geproduseer word, is beter as dié van vleis wat met sojameel geproduseer word.