’n Bemagtigingsplan wat werk
Toe ’n nabygeleë vleisbees-enskaapplaas in die mark kom, het ses kommersiële melkboere van Oesterbaai in die Oos-Kaap die kans benut om ’n bemagtigingsprojek staan te maak wat vir hulself én hul werkers ekonomiese sin maak. Danksy dié ooreenkoms kon al die lede verlede jaar ’n ekstra R24 000 in hul sakke steek nadat lenings afbetaal is en hulle 27 mense in diens geneem het.
“Ons sou dit nie reggekry het sonder die hulp van die Regering nie. Die Werkerstrust het R4,76 miljoen by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming gekry en R5,5 miljoen by Nedbank geleen teen ’n goeie koers,” sê mnr. Conrad Dreyer, ’n trustee van die Reebok Rant Ontwikkelingstrust.
“Die hoogtepunt van die projek is dat dit wérk. My werkers kry ’n ekstra inkomste, maar nou verstaan hulle ook boerdery. Die Regering het ’n persepsie dat ’n plaaswerker net ’n boer kan raak, maar ons het gesien hoe die begunstigdes baat vind by die sowat 150 jaar se melkery-kennis tussen ons ses melkboere.”
Die besigheid word bestuur deur die Reebok Rant Ontwikkelingstrust, wat bestaan uit ’n Melkerytrust, wat 49% van die aandele besit, en ’n Werkerstrust, wat 51% van die aandele besit. Die wins word ook so verdeel.
Die Melkerytrust bestaan uit die ses kommersiële melkboere. Hulle verskaf beeste, trekkers, werktuie en kennis. Die Werkerstrust verskaf die grond en die melkstal wat hulle opgerig het. Aanvanklik het die trust uit 98 lede bestaan, maar ná sommige hul aandele verkoop het of oorlede is, is daar nou 57 lede oor. Almal het hul ou werk gehou. Die nuwe plaas het sowat 27 heeltydse werkers in diens geneem. Slegs die melkerybestuurder, mnr. Lwazi Booi, en die hoofbestuurder, mnr. Justin Muller, besit aandele.
Die kontrak tussen die Melkerytrust en die Werkerstrust strek oor 10 jaar, maar hulle wil almal betrokke bly om te verseker die projek is suksesvol. Niemand van buite kan meer aandele koop nie. Die werkers en hul kinders het ’n mediese skema deur die trust gekry en ’n beurs is gestig vir ’n landboustudent se opleiding. Die werkers kry twee keer per jaar ’n uitbetaling – in Mei, as die boekjaar afsluit, en weer in Januarie, om hul kinders se skoolgeld te kan betaal. Die bedrag hang van hul winsvlakke af, maar tot dusver het hulle elke jaar ’n bietjie meer geld as die vorige jaar gekry. Verlede jaar het elke lid R24 000 gekry. In 2013 was dit R20 000. En oor twee jaar, as die grootste lening afbetaal is, behoort hulle groter uitbetalings te kry.
“Dit laat my lekker voel,” sê mnr. Phindani Zepe, voorsitter van die Werkerstrust en melkerybestuurder by Rosenhof Boerdery. Hy sê vorige jare het hulle altyd in Desember bonusse gekry en dan het hulle nie Januarie geld gehad om skoolgeld te betaal nie.
’n Mens moet onthou die uitbetalings geskied nadat lenings gediens is wat vir grondontwikkeling en die daarstelling van infrastruktuur, soos melkstalle, bestuurdershuise en ’n opleidingsentrum, betaal het.
“Oor twee jaar is die plaas afbetaal en dan gaan die uitbetalings ’n heel ander storie wees. Elke aandeelhouer se aandeel is nou sowat R150 000 werd en al wat hy moes doen, was om sy ID-boek vir my te bring en my te vertrou,” sê Conrad.
Die aandeelhouers kan ná vyf jaar hul aandeel verkoop. In een geval het ’n egpaar besluit om een van die aandele te verkoop sodat hulle ’n motor kan koop. Waar ’n man en ’n vrou aandeelhouers is, beteken dit ’n ekstra R4 000
Sowat agt jaar gelede het ses Oos-Kaapse melkboere ’n veeplaas gekoop om hul werkers werklik te bemagtig en hul eie ondernemings uit te brei. Vandag geniet die trustlede die voordeel van ’n mediese skema, toegang tot kennis en infrastruktuur en hulle kan ’n ekstra inkomste in hul sakke steek.
Ses kommersiële boere het saamgespan en drie trusts geskep, geld geleen en vir hul werkers ’n melkplaas gevestig. Werkers wat deel is van die trust, het verlede jaar elkeen R24 000 ekstra verdien. Die werkers het werklik insig in ’n boerdery-onderneming gekry en besef nou die waarde van kennis en ervaring.
hulle die plaas by mnr. Percy Owen, een van die Melkerytrust se aandeelhouers, gekoop het. Johan is ook gebruik om die organisasie- en papierwerk te behartig en met die Departemente van Grondsake en van Landbou, Bosbou en Visserye te onderhandel.
Dit was ’n uitdaging om wedersydse vertroue te skep. “In die begin het ons baie baklei. Ons moes leer om mekaar te vertrou,” sê Phindani.
Algehele deursigtigheid is baie belangrik. Lede van die Melkerytrust woon elke vergadering van die Werkerstrust by en andersom.
Conrad sê baie van die Werkerstrust-lede is ongeletterd. “Dit was belangrik dat die regte leiers gekies word om die Werkerstrust te lei.”
Hulle het ook gestry teen die persepsie dat dit onsuksesvol gaan wees omdat dit ’n bemagtigingsprojek is.
Phindani sê hulle moes soms aan die regeringsamptenare verduidelik hoe hulle die sisteem toepas, want die amptenare het nie verstaan nie. “Enige mens kan nou kom kyk, want ons het al die sisteme in plek. As ons probleme het en ons kom bymekaar, dan praat ons en ons kry ’n oplossing.”
Mnr. Peter Lamani, sekretaris van die Werkerstrust en melkerybestuurder by Brandkop Boerdery, beaam dit. “Dit het ons insig gegee in die plase waar ons werk. Ons verstaan nou baie beter hoe werk alles.” Volgens Phindani het hulle in die begin ook baie min geld gehad. “Die boere moes hul eie geld gee, want die Regering het lank gevat om die geld te gee.”
Die Melkerytrust moes ook sy hand diep in die sak steek en R800 000 gaan leen om kunsmis en saad te kon koop. “Voor die plaas begin geld maak het, het van die lede van die trust begin geld vra. Nie almal het verstaan dat dit tyd gaan kos nie,” sê Peter.
’n Oplossing was om solank vir elke werker R1 500 uit te betaal omdat hulle nie verstaan het hoe lank dit neem voor wins realiseer nie.
Die ooreenkoms het bepaal dat die werkers vyf jaar lank in diens van die kommersiële plaas moes bly om by die Reebok Rant Ontwikkelingstrust betrokke te bly. “As een van my werkers in die eerste vyf jaar ontslaan word, verloor hy sy aandele in die trust. Dit het ook gehelp om drostery te voorkom,” sê Conrad.
BETER PRODUKSIE
Justin sê hul grootste probleem is nou om beter produksie uit die droëlandbewerking te kry. Hy plant ’n mengsel hawer en rog op 450 ha en nog 450 ha kikoejoe vir die 1 400 Jersey- en Holsteinbeeste. Tans melk hulle 1 180 koeie twee keer per dag, met ’n gemiddelde daaglikse opbrengs van 24 liter per koei. Aangesien dit ’n swartbemagtigingsprojek is, verdien hulle ’n premieprys by Woodlands Dairy in Humansdorp.