Dip, dip, dip is nou ál raad teen bosluise
NÁ DIE goeie reëns in Desember is dit veral veeboere wat nie reeds vroeg in die lente teen bloubosluise gedip het nie, wat nou deur dié enkelgasheerparasiet met die broek op die knieë gevang word. Die probleem met dié bosluis is dat ’n mens dit eers in ’n volwasse stadium op jou diere opmerk, sê dr. Henk Visser, veearts en voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie in Limpopo.
Hy sê boere sien dikwels net ’n paar van dié bosluise op hul diere vroeg in die somer en besluit dan om eers later te dip. Dit vererger die probleem, want die volwasse bosluis val van die dier af sodra dit volgesuip is en lê dan eiers. Een wyfie lê tot 2 500 eiers op ’n slag. Sodra die eiers uitbroei, klim larwes op ’n gasheer en bly daar vir die nimf- en volwasse stadiums, ’n tydperk van 21 tot 28 dae.
Volgens prof. Ivan Horak, voorste wetenskaplike by Onderstepoort, kon daar tot soveel as 10 000 bosluise op ’n dier geteer het as ’n mens 68 bloubosluise op die dier sien. “Ek het al gesien hoe bloubosluise ’n dier leegsuip,” vertel Visser.
Hy sê boere moet reeds teen September hul diere teen bloubosluise dip en met ’ n lang termyn-groei-inhibeerder behandel. Talle boere het dit egter nie gedoen nie, en veeartse en dieregesondheidsmaatskappye het die afgelope twee weke gewaarsku dat daar nou ’n ontploffing in bosluisgetalle regoor Suid-Afrika is.
Nou moet ’n mens ’n reaktiewe dipprogram in werking stel en een keer per week vir drie weke lank dip of drie keer elke vyfde dag en dan op die daaropvolgende vierde dag. Die vyf-vyf-vier-stelsel, verduidelik Visser, is eenvoudig sodat boere nie op ’n Sondag hoef te dip nie.
Ander bosluise wat nou ’n groot bedreiging vir veeboere inhou, is die tweegasheersoorte, soos die bontpoot-en rooipootbosluis, en dan die driegasheersoorte, soos die bruinoor- en Karooverlammingsbosluis. Omdat dié soorte tussen die larf-, nimf- en volwasse stadiums een of twee keer van hul gasheer afval om op die grond te vervel, is hulle selfs moeiliker om te bekamp as die bloubosluis, sê Visser.
Van dié soorte is dit veral die bruinoorbosluis wat boere nou onkant vang, volgens hom. Swaar ladings van dié bosluis kan bosluistoksikose by sommige beeste veroorsaak. Dit word gekenmerk deur ’n afname in kondisie. Dit veroorsaak ook weefselskade, veral aan oorskulpe, eiers en sterte. Dit is ook dié bosluis wat korridorof buffelsiekte veroorsaak.
Om die bruinoorbosluis en ander twee- en driegasheersoorte se getalle behoorlik te beperk, sê Visser boere moet hul diere reeds in die winter met ’n sistemiese groei-inhibeerder behandel. Dié middels maak dat bosluislarwes en -nimfe gedurende die vervellingstadiums uitdroog en vrek.
Die enigste raad vir boere wat nie voorkomend opgetree het nie, is om nou dieselfde drieweek- of vyf-vyf-vier-dipprogram as teen bloubosluise te volg. Hy wys egter daarop dat reën dié dipprogramme kan laat misluk.
“Boere wat veeartse en dieregesondheidmaatskappye se voorgeskrewe behandeling noukeurig gevolg het, gaan sonder erge bosluisverwante probleme deur die somer kom, maar talle boere wat op behandelings en dipskedules besnoei het om te bespaar, gaan dalk nou ’n duur prys betaal,” sê hy. – JASPER RAATS
‘Boere wat dipskedules verminder het om te bespaar, gaan dalk nou ’n duur prys betaal.’