Vrugte en wyn: Vroeë oestyd in Wes-Kaap
DIE Wes-Kaapse vrugte- en wynbedryf beleef tans een van sy vroegste oestye in die geskiedenis. Goeie weer – veral in die lente – het daartoe bygedra.
Veral steenvrugteboere het rede om te glimlag, want dit bring eiesoortige markgeleenthede omdat die vrugte op oorsese supermarkte beland voor Chileense vrugte.
“Steenvrugte is sowat 10 tot 14 dae vroeër en appels en pere omtrent 5 dae. Ons is ook in ons skik met die gehalte. Selfs al is dit so ’n vroeë oes, is die vruggrootte ook goed,” sê mnr. Peter Dall, vrugteboer van Villiersdorp.
“Dit is gunstig vir steenvrugte wat nie oor ’n lang rakleeftyd beskik nie en dadelik gepak en verskeep word. Die vrugte kan in die mark kom voor Chili s’n, wat glo gewone tyd geoes word. Daar is egter min voordele vir appels en pere, want die verlede jaar se oes is nog nie uitverkoop nie.”
Volgens mnr. Pierre Wahl, wynmaker by Rijk’s-kelder op Tulbagh, is dit sy “vroegste oes nóg”.
“Voorheen was 15 Januarie die vroegste datum waarop ons begin pars het, maar vanjaar het ons al op 8 Januarie begin. Parstyd het dus 10 tot 14 dae vroeër begin.”
Volgens Wahl is die druiwe vroeër gereed danksy gunstige rypwordingstemperature. Hy sê die oes lyk ook kleiner – op die oog af tot 30% minder as verlede jaar – die wingerd kon dit dus makliker ryp maak. Dit is grootliks omdat die korrels kleiner en die trosse ligter is. Hy is nie tans bekommerd oor swamsiektes nie.
Tot twee keer meer tafeldruiwe is rondom Kersfees uitgevoer as verlede jaar. “Dit is nie omdat dit so ’n groot oes is nie, maar omdat dit so vroeg is,” sê mnr. Michael Laubscher, voorsitter van die SA Tafeldruifbedryf en boer van die Hexriviervallei.
Die tafeldruifoes was oral vroeg – van langs die Oranjerivier, tot in Trawal, Paarl en die Hexriviervallei. “Dit is die vroegste wat ons nog begin druiwe pak het en alles (vroeë en laat kultivars) is vroeg vanjaar. Die geskiedenis het egter al bewys ’n vroeë oes is nie noodwendig ’n rekordoes nie.”
Hy sê tafeldruiwe se gehalte is goed vanjaar, veral omdat daar nie reënskade was nie. “Al wat kommer wek, is die marktoestande. Die mark is onder die indruk dit gaan ’n groot oes wees, daarom is pryse onder druk.”
Rusland se sanksies op Europese vrugte knyp ook plaaslike boere. Suid- Afrika het sowat 1 miljoen kartonhouers regstreeks na Rusland uitgevoer. Altesame 5 miljoen kartonhouers is via Nederlandse en Duitse invoerders in Rusland verkoop. Dié druiwe moet nou huis kry in Europa, wat verder knibbel aan pryse.