Gewilde rotskunsrubriek
toe die wit setlaars in 1652 in die Kaap aangekom het, het hulle perde saam met hulle gebring. Die perd het die vroeë nedersetters baie beweeglik gemaak, en met hul skietgoed om hulle mee te verdedig, is hulle stelselmatig dieper die binneland in. So ver as wat hulle gegaan het, het hulle grond opgeëis.
Perde het die jagters in staat gestel om jag te maak op die reusetroppe wildsbokke – met verwoestende gevolge. Die meer avontuurlustige jagters het hul perde gebruik om olifante te jag vir die baie lonende ivoorhandel.
Ontdekkingsreisigers het perde goed ingespan tydens hul ekspedisies na die binneland. Perde is gebruik vir vervoer, om die grond om te ploeg en vir algemene boerdery. In veldslae het perde die setlaars ’n reusevoorsprong bo die inheemse bevolking gegee. Perde het dus ’n groot rol gespeel om die wit setlaars te help vestig en om Suid-Afrika oop en toeganklik te maak.
Die wit setlaars het slawe gehad wat geleer perdry het en na die perde omgesien het. Hulle het ook geweet hoe om vuurwapens te gebruik. Baie van dié slawe het weggeloop en hulle by die inheemse bevolking geskaar – en hulle geleer perdry en wapens hanteer.
Toe die Boesmans eers perde in die hande gekry het, het hulle vinnig uitstekende ruiters geword. Vir hulle was die perd ’n wonderlike dier, veral om mee te jag, want die groot eland was moeilik om plat te trek met hul swak boë en gifpyle.
Jy moes jou storie ken om die regte bestanddele én die regte hoeveelheid gif te meng om ’ n eland dood te kry – en dan moes jy hom boonop bekruip en raak skiet.
Dit het dan ’n rukkie gekos voor ’n eland sou vrek. In sommige gevalle het hulle selfs herstel van die gifstof. ’ n Eland raak gou moeg as ’n mens hom jaag. Met perde kon die Boesmans nou baie makliker die diere jaag en plattrek. Die eland is dan opgesny, op die perd gelaai en teruggevat na die famlie toe. Voor die koms van perde moes die familie die karkas verskuif vir die feesmaal.
Die perd was waarlik ’n wonderlike dier. Jy kon ry en by familie en vriende gaan kuier wat ver van jou af woon. Die Boesmans kon op ’n jagtog gaan, en as dít nie vrugte afgewerp het nie, kon hulle die perd doodmaak en eet – en dan ’n ander een gaan steel.
Dit was die ondergang van die Boesman se manier van lewe. Perdediefstal het eienaars die harnas ingejaag: Hulle het die diewe agternagesit en mense is in die proses dood.
Aangesien daar hopeloos te veel jag gemaak is op die eens uitbreide troppe wild – dit was die Boesmans se belangrikste voedselbron – het hulle so te sê verdwyn. Jag het baie moeiliker geword en dit was vir die Boesmans makliker om die diere van die swart en wit vee-eienaars te steel. Perde het die Boesmans ook in staat gestel om ver te ry om vee te steel.
Hoewel die Boesmans gejag en dus van al die diere geweet het, het hulle net dié diere geskilder wat na hul mening die krag gehad het om hulle te beskerm en hulle met die voorvadergeeste te help kommunikeer.
Hierdie diere het as kragdiere bekend gestaan. Dit was die diere waarmee hulle hul vereenselwig het. Namate dié wilde diere skaars geword en die Boesmans ál meer perde gebruik het, het hulle ook die perd toenemend as hul kragdier geverf.
Daar is tekeninge van perde op hul eie, van mense op ’n perd en daar is tot tekeninge van Boesmans wat te perd elande jaag en jag. Later, met die verdwyning van ervare skilders, het die Boesmans steeds die behoefte gehad om tekeninge te maak, maar hulle het dié vaardigheid verloor. Hulle het hul vingers gebruik om vingertekeninge te maak soos op die een foto hierbo.
Dié tekeninge is hoofsaaklik van perde en mense wat perdry.
Die perd het Suid-Afrika oop en toeganklik gemaak vir setlaars in die sewentiende eeu, maar dit het ook ’n omwenteling veroorsaak in Boesmans se beweeglikheid.
Coenraad de Buys was die gevaarlikste man in die kolonie. Op agtjarige ouderdom het hy sy eerste grens oorgesteek en sy ouerhuis agtergelaat. Huis uit, Kaap uit, beskawing uit. Oral op sy trekpad verwek hy kinders, oral sluit ander rowers en weglopers by hom aan – ’n hele Buysvolk. Buys is ’n roman oor grense en oor grond. Landbouweekblad plaas binnekort ’n resensie van Anker se grensroman.
Ons het onlangs s aam met ’ n paar jong mans na ’n video, The Patriot, gekyk. Dit handel oor ’n boer wat opgeroep is om tydens die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog teen die Engelse te veg.
Daardie rolprent bevat ’ n groot aantal waarhede en lesse waaruit ons iets kan leer; dié soort lesse wat regtig waardevol in ons daaglikse omgang is. Ek hou van ’n rolprent wat aan die einde vir jou iets los waaroor jy kan nadink.
Ek wil skryf oor ’n deel van daardie rolprent wat my regtig laat dink het. Dit is waar die generaal van die weermag, wat terloops grootliks uit boere bestaan, vir sy manskappe sê: “Bly op koers.”
Moenie die linie verlaat nie, anders stel jy jou makkers se lewe in gevaar. Die veldslae was in daardie tyd altyd op die grond. Die soldate van die opponerende weermagte het linies ’n ent van mekaar af gevorm. Wanneer hulle die bevel gekry het, het hulle na mekaar begin marsjeer en trompop op mekaar begin skiet. As van die soldate die linie verlaat of weggehardloop het, het dit vir die vyand ’n gaping gelos waardeur hulle kon bars. Dus was dit noodsaaklik dat elke soldaat in sy linie bly. Die Bybel sê in Efesiërs 6:10: “Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.”
Ons beleef moeilike tye. Ons aanskou voortdurend soveel armoede en gulsigheid, hongersnood en vraatsug, geweld en apatie. Baie mense ervaar uiteenlopende probleme. Om sterk in die geloof te bly, moet ons regtig in God glo en standvastig bly, veral wanneer ons geloof voortdurend getoets word.
Die Here God stel nie belang in mense wat ’n goeie begin maak nie. Hy wil hê ons moet sterk eindig. Dit is ver van die beginpunt na die wenstreep. God wil saam met ons op die pad van die lewe loop en die enigste manier om dit te doen, is om al ons vertroue, hoop en geloof in Hom te plaas en Hom toe te laat om ons lewe te rig.
Druk daarom in die geloof deur met jou boerdery, wees sterk en bly in jou linie ter wille van jou medeboere.
Volhard in die geloof in jou boerdery, wees sterk en bly ter wille van jou medeboere op koers.