BOERE MOET HUL BOODSKAP UITDRA
Vanjaar sal elke boer na die politieke situasie in die land moet kyk, want dit is duidelik dat die ANC besig is om steun te verloor en dat pres. Jacob Zuma besig is om paniekerig te raak. Ons sien dit in sy uitsprake oor Jan van Riebeeck en dat apartheid die skuld moet dra vir beurtkrag.
Dit is nie al nie. Die spoorweë kan nie meer op groot skaal vrag hanteer nie en sukkel ook met die vervoer van pendelaars. Die Poskantoor gee sy laaste stuiptrekkings. Hoe gouer die SAA verkoop word, hoe beter. Die toestand by die SABC is chaoties. Die padnetwerk gaan drasties agteruit. Die staat kan nie meer die besproeiingske-mas in stand hou nie. Gesondheidsdienste gaan agteruit. Die bejaardes in tehuise word deur die staat versaak. Die staatskas is leeg en hy gaan nóg leër word vanweë die gevolge wat beurtkrag op die winsgewendheid van ondernemings gaan hê. So kan ons aangaan.
Wat staan die boer te doen? Elke boer (werkgewer) moet ’n boodskapper word wat die regte boodskap uitdra. Aan wie moet hy sy boodskap uitdra? Aan sy permanente werknemers, sy tydelike werkers en almal wat hy teëkom. Gereelde plaasver-gaderings werk wonderlik. Die boodskap moet egter feitelik en sonder propaganda en politieke opswepery aan die mense oorgedra word. Dit help ook om van kenners gebruik te maak. Werknemers is soms geneig om eerder ’n buitestander te glo as die eienaar.
Sake wat die boer in sy boodskap aan sy werker behoort te dek, is die volgende:
■ Die boere het nie die grond wat hul besit, gesteel nie. Bespreek dit volledig met hulle en toon bewyse indien moontlik.
■ Jan van Riebeeck en apartheid kan nie vir die land se heersende probleme geblameer
word nie.
■ Korrupsie en wat by Nkandla
gebeur het.
■ Die gevolge van kaderont-plooiing.
■ Grondhervorming se voor- en nadele. As die boer eers op ’n gereelde grondslag met sy werkers kommunikeer, sal daar nog vele aspekte opduik.
Dit behoort vir almal duidelik te wees dat dit nie ’n eenmalige boodskap is nie. As die land se boere deurlopend hul boodskap op ’n eerlike en objektiewe manier aan hul werkers oordra en hulle menswaardig behandel, is daar ’ n toekoms vir ons boere. As hulle dit nie doen nie, gaan die son vir hul in Afrika onder, ten spyte van goeie landbouvoor-uitsigte.