‘Hurry up and wait . . .’
MANIE verstaan die Regering het halfpad in Januarie die eerste vergadering met Agri SA misgeloop waartydens die detail van ’n nuwe grondhervormingsbloudruk vir die land bespreek sou word. Dit volg op die belangrike deurbraak verlede Oktober op Agri SA se kongres, toe Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, en die boere mekaar so mooi gevind het.
Die verskoning is dat “afgevaardigdes van verskeie regeringsdepartement nie beskikbaar was vir die vergadering nie”. Manie wonder waar die dringendheid is om grondhervorming op te los – iets waarna Nkwinti so graag verwys. Hy jaag boerderyorganisasies in die land op ’n hoop om teen Maart ’n volledige strategie oor grondhervorming voor te lê.
Manie wonder of dié no show aan doodgewone onbevoegdheid toegeskryf kan word. Of is daar ook ’n element by om dit vir die landbou so moeilik moontlik te maak om opbouend betrokke te wees by ’n oplossing vir dié sleutelkwessie?
Manie wil nie onnodig sinies wees nie, maar die geskiedenis van grondhervorming wys ongelukkig nie dat die Regering altyd in goeie trou opgetree het nie. Anders sou die ANC nie stééds die boere kon beskuldig vir grondhervorming se mislukkings ná die staat reeds R70 miljard daarop geblaas het nie.
Kom ons wees egter redelik: Dit is darem nie reg om van ’n spul staatsamptenare te verwag om reeds op 14 Januarie met ’n babalaas in ’n vergadering te gaan sit nie. Veral nie ná hulle maar net vier dae vantevore letterlik tenks vol Franse vonkelvoggies in Kaapstad in die keelgat af gehad het op die ANC se 103de verjaardagvieringe nie.
Hulle het in elk geval seker nie vreeslik lus gehad om met ’n spul boere te gesels ná die Grootleier die oerboer, Jan van Riebeeck, afgestof en geparadeer het vir ’n openbare roskam nie.
DIE KRAGSOMME WERK NIE . . .
“Dissie ôôns nie!” sê die buurman se tweeling grootoog toe Manie hulle so ’ n paar jaar gelede gevra het oor die naglyne wat die kerkdam se babers so uitroei.
Dít was amper hoe Khulu Phasiwe by Eskom verlede week gereageer het toe Manie hom uitvra oor die gesloer met toestemming om krag uit biomassa op te wek en aan dié staatsinstelling te verkoop. Volgens hom het Eskom geen sê in die saak nie. “Al daardie besluite word deur die reguleerder geneem,” het hy gesê.
Manie was stomgeslaan toe Phasiwe verduidelik hoe Eskom, net soos boere, prysnemers is en uitgelewer is aan prysbesluite wat niks met die vrye mark te doen het nie. Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) besluit teen watter prys Eskom elektrisiteit by private opwekkers moet koop en skryf sommer ook die verkoopprys aan Jan Publiek voor. Die moedelose Phasiwe het gesê Eskom moet soms tot R3 per kWh opdok en moet dit dan teen 87c per kWh verkoop.
Manie se somme was nooit goed nie, maar ’ n ou boer het hom darem al mooi verduidelik dat die verskil tussen ’n mens se aankoopprys en jou verkoopprys jou wins is. Of, in Eskom se geval, die verlies. G’n mens kan dus verbaas wees dat die