KRAGVAT WORD KRUITVAT
AS daar na die berigte oor die energie-fiasko gekyk word, is dit duidelik dat boere vinnig alternatiewe elektrisiteitsplanne sal moet begin maak
Vir die eerste keer sedert Suid-Afrika in 2008 in duister gehul is, staan Eskom weer voor ’n kragkrisis wat dreig om die totale netwerk in duie te laat stort. Soos Bruce Whitfield tereg opmerk in sy rubriek vir die Sunday Times: “Suid-Afrika word deur ’n baie sterk moontlikheid in die gesig gestaar van ’n energie-katastrofe wat veel verder as die ongerief van ’n koue aandete strek.”
Dit is ysingwekkend hoe nalatig ’ n maatskappy kan wees waarop ’n hele land se ekonomiese groei en welvaart staatmaak. Waar dit gaan eindig, is ’n ope vraag, aangesien daar nie van Eskom se kant af ’n daadwerklike, ondubbelsinnige plan van aksie gegee word om die energiekrisis op te los nie.
DIE VERDERF BEGIN BO
Whitfield se rubriek is veral betekenisvol wanneer hy die raad van Eskom se direkteure ondersoek.
Slegs een van die maatskappye se direkteure is ’n elektriese ingenieur. Die res van die raad bestaan onder meer uit ’n samevoeging van staatsamptenare, die voorsitter van die Windybrow- t e at er, geoktrooieerde rekenmeesters, die vorige voorsitter van die SAUK, ’n vorige direkteur van ’n bekende bank, die hoof van ’n simkaart-maatskappy, asook die hoof van kliëntediens by Telkom. Die vorige raad het nie ’n enkele elektriese ingenieur gehad nie, maar daar was wél plek vir ’n sterrekundige.
Dit is dus duidelik dat die gebrek aan strategie en beplanning heel bo begin. Mnr. Cyril Ramaphosa, Adjunkpresident, het intussen ook sy stuiwer in die armbeurs gegooi tydens ’n Fe- dusa-debat en meen die huidige energiekrisis in Suid-Afrika is nie net Eskom of pres. Jacob Zuma se probleem nie.
“Die huidige krisis wat ons met energie in die land beleef, kan nie net Eskom alleen se probleem wees nie. Dit kan nie net die President se probleem wees nie. Dit moet ons almal se probleem wees en ons moet onsself afvra hoe ons dit kollektief as ’n nasie kan takel. As dit nie gedoen word nie, sal ons energiekrisis onopgelos bly,” het Ramaphosa gesê. Wat hierdie oplossings mag wees, het die Adjunkpresident egter nie gesê nie, maar pleks daarvan weer ’n vinger na Suid-Afrika se verlede gewys.
“Die vaardigheidstekort is eie aan Suid-Afrika, want dit is ’n nalatenskap van ons (apartheids-) verlede, waar ’n groot deel van die samelewing verhinder is om vaardighede aan te leer. Dit is wat ons terughou,” het hy gesê.
Volgens ingeligtes binne Eskom, wat op voorwaarde van anonimiteit met Landbouweekblad gesels het, is die uitbreiding van die bestaande netwerk egter juis gekortwiek deur regeringsbeleid. “Die gevoel is dat die finansiële hulpbronne wat aangewend sou word om die netwerk uit te brei en te onderhou, eerder gebruik is vir ideologiese en politieke doelwitte. Voeg daarby Suid-Afrika se snelle ekonomiese groei en ’n beleid van elektrisiteit vir almal, wat die verbruikersvraag na elektrisiteit in die 90’s feitlik oornag van 2 miljoen mense tot meer as 10 miljoen mense opgestoot het, en ons het op ’n tydbom gesit wat nou bars,” het die een bron aan Landbouweekblad gesê.
soos Jasper Raats berig, blyk die opwek van krag uit biomassa ’ n turksvy te wees wat Eskom, Nersa en die Regering blitsvinnig van die een na die ander aangee terwyl boere se planne in die lug hang.
Landbouweekblad het vroeër berig die suikerrietbedryf staan gereed om aanlegte te bou wat binne twee j aar gesamentlik 850 MW elektrisiteit kan lewer. Al wat hulle nodig het, is die jawoord van dié drie instellings.
Eskom wag egter nog op Nersa om opwekkingspermitte uit te reik aan private maatskappye wat meen hulle kan ’n verskil maak.
Mnr Charles Hlabele, woordvoerder van Nersa, het ook aan Landbouweekblad gesê dat me. Tina Joemat-Petterson, Minister van Energie, ingevolge die Wet op die Regulering van Elektrisiteit (Wet 4 van 2006) eers vasstel wat die elektrisiteitsbehoefte is voordat daar dan in oorleg met Nersa bepaal word hoeveel opwekkingspermitte aan Eskom of private kragvoorsieners toegeken word.
NIE-TEGNIESE VERLIESE IS ’N GROOT SONDAAR
Intussen word Eskom se vermoë om in die vraag te voorsien verder vererger deur elektrisiteitsdiefstal en gebruikers wat nie betaal vir die elektrisiteit wat hulle gebruik nie. Die elektrisiteitskenner mnr. Chris Yelland bereken dat 7% van Eskom se energie weens nie-tegniese verliese verlore gaan. As die nie-tegniese verliese uitgeskakel kan word, sal die spitsaanvraag met 3 GW verminder word, wat die waarskynlikheid van beurtkrag ook grootliks sal laat verminder.
Viljoen meen Eskom se probleem gaan vanjaar vererger wanneer koue weer toesak en elektrisiteitsverbruik skerp toeneem.
“Dat beurtkrag nou in die somer voorgekom het, voorspel niks goeds nie. Suid-Afrikaners moet paraat wees dat die risiko vir ’n nasionale kragonderbreking, wat weke kan duur, drie tot vyf jaar lank ’n werklikheid is,” het hy gesê.