Sleutelpunte om dop te hou
DIE wysigingswetsontwerp oor onteiening word eersdaags weer in die Parlement voorgelê om die Regering se grondhervormingsdoelwitte te versnel. Die nuwe weergawe is nog nie bekend nie, maar volgens kenners sal drie sleutelpunte met valkoë dopgehou moet word.
Dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), meen die drie probleme in die vorige weergawe waaroor belanghebbendes beswaar aangeteken het, is moontlik opgelos – of dalk nie.
KENNISGEWING AAN DIE EIENAAR
Die eerste vraag is of talle staatsinstellings (van nasionale tot munisipale vlak) steeds grond sal kan onteien deur net kennis aan die eienaar te gee van die dag waarop die eiendom deur die Regering in ontvangs geneem gaan word.
Indien wel, sal dit teenstrydig wees met die eiendomsklousule van artikel 25 in die Grondwet. Dié klousule bevat verskeie vereistes waaraan eers voldoen moet word voordat ’n eiendom wettig onteien kan word.
Die IRV se siening is dat ’n staatsliggaam eers ’n hofbevel moet kry wat bevestig dat die voorgenome onteiening aan alle grondwetlike kriteria voldoen. Voorts wanneer ’n plaas onteien gaan word wat die boer se huis insluit, moet ’n hofbevel uitgereik word wat bevestig dat die uitsetting noodsaaklik is – soos vervat in artikel 26 van die Grondwet.
VERGOEDING
Nog ’n vraag wat moet beantwoord word, is wanneer die vergoeding betaalbaar is. Die vorige wetsontwerp het aangedui dat geen geld betaalbaar sal wees totdat die eienaar en die staat oor die bedrag ooreengekom het of wanneer die hof daaroor beslis het nie.
Jeffery sê dit dui daarop dat eienaarskap (en besitneming) aan die staat oorgedra kan word voordat enige vergoeding betaal is. Dit dui ook daarop dat geen vergoeding daarna betaalbaar kan wees nie, tensy die onteiende eienaar die staat se voorgestelde vergoedingsbedrag aanvaar. In die geval dat hy dit nie aanvaar nie, moet hy ’n hofbevel kry. Dit kan jare duur om ’n hofbevel te kry, waarsku sy. Dit is in teenstelling met die huidige Onteieningswet van 1975 waar ten minste 80% van die vergoeding betaal moet word wanneer die staat ’n eiendom in sy besit neem.
REGVERDIGE VERGOEDING
Daar kan ook gevra word of die vergoedingsbedrag voldoende is. Die vorige wetsontwerp het voorsiening gemaak vir “markwaarde minus die vier afslag-faktore” wat ook in die Grondwet gelys is.
Jeffery sê as die bewoording steeds in die nuwe wetsontwerp voorkom, kan dit bevraagteken word of die vergoeding genoeg sal wees, veral aangesien die bestaande Onteieningswet nie net volle markwaarde as vergoeding vereis nie, maar ook skadevergoeding vir voortvloeiende verliese. Dit sluit in die verlies aan inkomste van ’n eiendom wanneer dit onteien is.
Aan die ander kant is dit moeilik om te redeneer dat die “afslag”-faktore nie van die markwaarde van die eiendom afgetrek moet word nie, aangesien dit die benadering is wat die Grondwet toelaat. Sy sê die Grondwet maak dit egter duidelik dat ander faktore ook in ag geneem kan word by die bepaling van wat billike en regverdige vergoeding is.
Daarom is daar niks in die Grondwet wat verbied dat die huidige reg tot skadevergoeding vir voortvloeiende verlies na die nuwe wetsontwerp oorgedra word nie.
Jeffrey sê dit is belangrik dat in gedagte gehou word dat die heropening van grondeise nie net wit, kommersiële boere kan raak nie, maar ook swart Suid-Afrikaners wat hul grond sedert 1991 gekoop het, of hul grond in die vorige eisproses teruggekry het.
Die nuwe Onteieningswet sal waarskynlik op alle soorte eiendom, nie net plaasgrond, van toepassing wees.
Die heropening van grondeise kan nie net wit, kommersiële boere raak nie, maar ook swart Suid-Afrikaners wat hul grond sedert 1991 gekoop het.