STATUTÊRE HEFFING GELD NÓG VIER JAAR
DIE statutêre heffing vir die rooivleisbedryf is vir ’n tydperk van vier jaar deur die Nasionale Landboubemarkingsraad goedgekeur. Dit maak voorsiening vir die lewering van dienste wat noodsaaklik is vir die welstand van die rooivleisbedryf, soos produksie-ontwikkeling.
Produksie-ontwikkeling is belangrik vir die bevordering van die rooivleisbedryf en dit is ook in pas met die strategiese plan vir Suid-Afrikaanse landbou en die Nasionale Ontwikkelingsplan. Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is die diensverskaffer in dié proses.
Volgens die Buro vir Voedselen Landboubeleid (BFAP) gaan die vraag na beesvleis tot in 2020 met 25% groei en die vraag na skaapvleis met 20%. Dit skep ’n groot uitdaging ten opsigte van verhoogde produksie. Daarom is dit belangrik om boere op te lei en inligting en voorligtingsdienste aan hulle te verskaf, want daarsonder kan veeboerdery nie winsgewend, volhoubaar en internasionaal mededingend wees nie.
Die Regering lewer nie meer sulke dienste aan die kommersiële rooivleisprodusente nie. In die private sektor het dit ook bykans doodgeloop. Rooivleisprodusente het versoek dat dié diens deur die RPO gelewer word.
Die RPO meen dat as produsente dié inligting en voorligting betyds kry, kan hulle bydraes oor beleidsake lewer en die geleentheid kry om aan produksie-ontwikkelingsprojekte deel te neem. Dit kan ’n groot bydrae lewer om Suid-Afrika meer selfvoorsienend in rooivleisproduksie te maak.
Van die voordele wat dit inhou, is onder meer om die betalingsbalans te verbeter, ekonomiese groei te skep en ’n selfs groter bydrae tot voedselsekerheid te lewer. ’n Stabiele rooivleisbedryf wat doeltreffend bestuur word, sal ’n groot bydrae lewer tot die bewaring van die natuurlike hulpbronne, aangesien meer as 70% van die land se landbou-oppervlakte vir veeboerdery aangewend word.
Die volgende funksies ten opsigte van produksie-ontwikkeling word verrig:
In ’ n gedereguleerde rooivleisomgewing is betroubare, objektiewe, geïnterpreteerde statistieke en inligting oor die bedryf op enige tydstip noodsaaklik om besluitneming tydens die produksie en bemarking van kleinvee of beeste moontlik te maak sodat produktiwiteit verbeter word en standaarde verhoog word.
Dit is noodsaaklik dat veeboere met die betrokke opleiding en vaardighede toegerus word om winsgewend en mededingend te wees. Volgens Suid-Afrika se Grondwet is die landbou ’n provinsiale aangeleentheid. Dit is belangrik dat veeboere die geleentheid kry om bydraes oor beleidsake op provinsiale en plaaslike vlak te lewer. Aktiewe deelname aan beleidsbepaling en die afhandeling van wetgewing behoort ook moontlik te wees, sowel as om beleidsplatforms te organiseer en daaraan deel te neem om aandag aan produksentekwessies te gee. Die meeste van die aksies wat namens rooivleisprodusente onderneem word, word op nasionale vlak gedoen. Dit sluit on- der meer skakeling met bedryfsrolspelers en regeringstrukture in sodat ’n beleidsraamwerk daargestel word wat ’n bemagtigende omgewing vir rooivleisproduksie skep.
Suid-Afrika is die belangrikste afsetgebied vir rooivleis en vee in Suider-Afrika. Talle van sy buurland voer vee en vleis na Suid-Afrika uit. Skakeling met produsente- organisasies en bedryfsrolspelers in dié streek oor aangeleenthede oor markte, dieregesondheid doeane, SPS-maatreëls en handelskwessies is belangrik.
Doeltreffende en winsgewende boerdery, asook veilige en gesonde produkte vereis dat dieregesondheid op ’n optimale vlak gehandhaaf word. Vee moet teen dieresiektes beskerm word deur die bevordering en toepassing van bio-sekuriteitsmaatreëls.
Veediefstal is ’n groot probleem en rooivleisboere ly jaarliks tot R750 miljoen verlies. Dit maak die bedryf onmededingend en die grootste verliese kom in die opkomende sektor voor.
Die opleiding van plaaswerkers op kommersiële bees- en klein- veeplase sal tot verhoogde produktiwiteit lei.
Altesame 88 wette reguleer die landbou. Talle van dié wette word aangepas – nie noodwendig gunstige veranderings vir die produsent nie. Vroegtydige stappe oor dié beoogde veranderings en oor nuwe wetgewing vanuit ’n produsente oogpunt, is uiters belangrik.
Roofdiere hou tans die grootste enkele bedreiging vir die kleinveebedryf in, met ’n jaarlikse verlies van R1,4 miljard. Aanduidings is dat die verlies in die grootveebedryf meer as R600 miljoen per jaar is. Die roofdierbestuursforum het begin om met die voorkoming van roofdierskade te handel. Dit is ’n gesamentlike aksie van die rooivleis-, wol-, sybokhaar- en die wildbedryf. Die bedryf het ’n ad valorumheffing op die meeste rooivleis wat ingevoer word. Dit is belangrik om die waardes van verklarings te monitor en op te tree as dit nodig is. Die wettige en onwettige invoer van vleis en vee van buurlande en ook ondersoeke vorm deel van dié moniteringsaksie.