LBW| RUBRIEK D
ie Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) is bekend vir die jaarlikse beraad wat in Davos, Switserland, plaasvind. Daar voer internasionale sakeleiers gesprek oor die stand van die wêreldekonomie en die pad vorentoe. In aanloop daartoe word heelwat insiggewende dokumente voorberei, onder meer oor die grootste risiko’s vir besigheid, die stand van die wêreldekonomie en hoe beleid beïnvloed moet word.
Die jaarlikse Wêreldrisikoverslag word met die hulp van wetenskaplikes en wêreldsakeleiers opgestel om die grootste risiko’s te identifiseer. Die bedoeling is dat ondernemings beter voorbereid kan wees op die nagevolge van sulke gebeure.
Vanjaar se verslag is die tiende een. Dit is opmerklik hoe die grootste risiko’s mettertyd verander. In die vorige verslae was dit veral ekonomiese risiko’s, soos resessies, wat hoog op die lys was. Vanjaar word die risiko van konflik tussen lande as die hoogste potensiële risiko geïdentifiseer, wat dan ook die grootste impak op besigheid kan hê. Sosiale onstabiliteit en konflik tussen belangegroepe word ook daarby geplaas.
Die wêreld is in ’ n nuwe fase waar die risiko van streeksoorlog as besonder hoog gesien word, en daarmee saam konflik binne gemeenskappe of landsgrense oor onder meer godsdiens, soos tans gebeur. Daarmee saam gaan die moontlikheid dat sekere lande in sogenaamde mislukte state kan verander of dat streke kan ontstaan wat deur nie-regeringsgroepe beheer word. Dit alles en ’n groter klem op streekbelange gaan die internasionale orde en globalisering soos ons dit geken het, ernstig knou.
VOORKOMS EN IMPAK
TABEL 1 gee ’n opsomming van die risiko’s wat geïdentifiseer is volgens dié wat die grootste kans het om te gebeur en dié wat die grootste impak sal hê. Konflik binne en tussen lande, asook die ineenstorting van regerings is besonder hoog op die lys. Daar is ’n hele afdeling in die verslag oor die risiko’s van die ineenstorting van infrastruktuur, veral tradisionele kragnetwerke. Die verslag gee baie aandag aan die feit dat regerings infrastruktuurinstandhouding verwaarloos het en verwys na onlangse voorbeelde van kragnetwerke wat ineengestort het, byvoorbeeld in ’n deel van Amerika en in Indië.
Die tabel toon ook dat weer- en natuurverwante risiko’s besonder hooggeag word. Waterkrisisse sal die grootste impak hê. Skynbaar is dit nie ’n geval van of streke en stede waterkrissie gaan beleef nie, maar hoe gou dit gaan gebeur.
Daar word ook heelwat klem geplaas op die feit dat aanpassing by klimaatsverandering te stadig plaasvind en dat dit, gekoppel aan ekstreme weergebeure, ’n besonder nadelige uitwerking op besigheid kan hê.
Een neiging wat geïdentifiseer is en onderliggend is tot heelwat van die toenemende risiko’s, insluitende konflik, is dat verstede- liking besig is om te versnel, veral in Afrika en Asië, en dat regerings nie behoorlik daarvoor beplan nie. Dit verhoog die risiko van voedsel-, water- en elektrisiteitstekorte, wat tot grootskaalse sosiale onrus en mislukte state of stede kan lei.
Die verslag wys daarop dat een risikovoorval die oorsaak kan wees van ’ n kettingreaksie van verskillende risikogebeure, wat vinnig daartoe kan lei dat streke of lande onregeerbaar word.
Volgens die verslag gaan regerings of lande baie meer klem lê om die beskerming van eie belange en die vorming van streekalliansies. Dit lyk of globalisering en die druk om wêreldmarkte vir oorheersing deur die grotes oop te maak, ook aan die kwyn is. Ons begin reeds dié neiging sien en dit gaan toenemend die geval wees. Dit gaan die handel in landbou- en voedselprodukte beïnvloed. Dit beteken dat kleiner lande en ondernemings vorentoe ’ n beter kans op “oorlewing” gaan hê.
Daarby gaan die invloed van die ontwikkelde lande kwyn. Die wêreldinstellings wat deur hulle oorheers word, soos die Internasionale Monitêre Fonds, die Wêreldbank en die Verenigde Nasies, se invloed gaan taan.
Die verslag gee wel aandag aan die ekonomiese risiko’s. Boaan dié lys, met ’n hoë waarskynlikheid, is die “bateborrel” in groot ekonomieë, dit wil sê aandeel- en eiendomspryse wat opgeblaas is deur die beleid van 0%-rentekoerse. Die ballon is te styf en kan bars. Dit sal ’n wye nadelige impak hê.
Tweede is die risiko van deflasie of prysdalings. Dit gebeur reeds. Grondstowwe se dollarpryse het skerp gedaal (die swak rand het Suid-Afrika effens beskerm). Minerale- en steenkoolpryse in Suid-Afrika is egter laer en brandstofpryse daal. Graan- en oliesaadpryse is ook laer as ’n jaar gelede.
Hoe bestuur jy jou onderneming as pryse deurgaans daal? Landbouers is seker al gewoond daaraan, maar dit was gewoonlik siklies. Hier word gepraat van langdurige dalings in pryse. Die vraag wat elke onderneming homself moet afvra, is: Hoe is jy geposisioneer om die gevolge en impak van een so ’n risiko of meer te kan hanteer? Ons het reeds voorsmakies daarvan in Suid-Afri-
Anders as in vorige jare, is ekonomiese risiko’s vanjaar nie boaan die lys in die Wêreldrisikoverslag nie. Ondernemings moet eerder voorbereid wees op veral die gevolge van konflik en waterkrisisse.
ka gekry. Dit gaan wêreldwyd toeneem, en beslis ook op eie bodem.
NEIGINGS
TABEL 2 gee ’n opsomming van neigings wat volgens die verslag bydra om die nadelige uitwerking van risikogebeure te vererger.
Die Eerstewêreldlande se grootse risikoneiging is die veroudering en inkrimping van hul bevolking. Die dilemma is dat die werkende deel van die bevolking ( wat belasting betaal) afneem, terwyl diegene wat staatsvoordele, soos pensioen en mediese sorg, kry, al hoe vinniger meer word.
Die agteruitgang van die omgewing en natuurlike hulpbronne is ’ n toenemende bedreiging wat met onordelike verstedeliking saamgaan. Vir die landbou is die neiging van ’ n sterk groeiende middelklas en verstedeliking natuurlik die groot dryfveer vir die vraag na kommersiële hoeveelhede voedsel op stedelike winkelrakke.
Ander neigings is ook reeds waarneembaar, soos toenemende nasionalisme, polarisasie tussen gemeenskappe en verskeie siektetoestande wat toeneem, insluitend uitbrekings van aansteeklike siektes.
Een neiging wat verskeie kere genoem word, is dat die magsbalans in die wêreld voortdurend besig is om weg te skuif van die ontwikkelde en Westerse lande. Die mag van opkomende ekonomieë neem toe, en daarmee saam streeks- en gemeenskapskonflik en gebrekkige (of verswakkende) infrastruktuur en dienslewering. Dit is ’n wêreldwye verskynsel en nie tot Suid-Afrika beperk nie.
Die vraag is dus, gegewe die risiko’s en risikoneigings wêreldwyd en in Suid-Afrika, hoe moet jy jou onderneming posisioneer? Infrastruktuur gaan nie beter word nie. Kraglewering ook nie. Water gaan skaarser en duurder word. Sosiale onstabiliteit gaan toeneem. Maar die vraag na landbouprodukte gaan bly groei.
Een risikovoorval kan die oorsaak wees van ’n kettingreaksie van verskillende risiko’s, wat vinnig daartoe kan lei dat streke of lande onregeerbaar word.