Landbouweekblad

RUBRIEK | GESIN

-

Ek was ’n kind van die Kalahari, daar waar die wydheid van die vlaktes vir jou ’n stille rustigheid bring wat jy nie eintlik in woorde kan uitbeitel nie. Die Kalahari se stilte, sy sonne wat dag ná dag sak en sy derduisend­e mane wat bo die rooi duine die nag binnekom, sal my ewig bybly.

Die pad van my lewe het my onlangs gevat na die Oos-Kaap se gedeelte van die Karoo en nou noem ek myself ’n Sneeubergk­ind. Hier waar die Kompasberg die mooiste klein dorpie by name Nieu-Bethesda seën.

Waarvoor ek lief is, is die grootpad se ry al die pad van De Kelders, aan die wal van Walkerbaai, tot hier waar ek nou my kop neerlê, in ’ n huisie by name Klein Geluk. Die huisie aan die voet van die Sneeuberge, in die bakhand van die vallei waar die Gatsrivier met sy skouers van populiere al eeue voortloop, is 137 jaar gelede in sy titelakte Klein Geluk gedoop. Hoekom sal ek nie weet nie, maar wat ek wel weet, is dat ek hier op Nieu-Bethesda my stilte en geluk gevind het. Die stilte waarna ek jaar ná jaar soek. Hoe ouer ’n mens word, hoe meer soek jy stilte en hoe meer wil jy in jou verlede lewe, so al asof jy weer jou kindwees se geluk oor wil leef.

Die kindwees van verwonderd in die natuur rondloop en al wat gogga is van nader beskou. Die grond was doei tyd nader, en jou oë helderder om die natuur in al sy lewe raak te sien. Vandag nog as ek hande agter my rug stap, soek my oë die grond. Dis of ek meer, asof weer kind, eerder voor my op die grond kyk as na die verre horisonne wat vir my oë wink.

Van my kinderdae op Robertson onthou ek groente uit die lande pluk, veral tamaties wat nog soos tamatie proe, om in die ertjieland te gaan sit en die ertjies af te dop en die groensoet mond toe te vat. Die wildevinke­l en plate geel surings was ons lekkers saam met taai boomgom en veldheunin­g. Die soet pienkwanga­ppelkose en my gunsteling donkersoet korente en die klein rooi suurappels wat wild langs die rivier gegroei het. Daar was rye vyebome, granate wat oopbars en rooi pitte stoot, die lukwartboo­m met sy oranje trosse van seën. Taaipitper­skes wat saam met vye en appelkose konfyt word vir die wintermaan­de se eet. Aartappels uit die grond saam met soetpatats. Ek onthou Ouma se soetsuurde­egbrood wat sy smeer met plaasbotte­r en dan in die sopkom plaas met ’n groot lepel worsvet en ’n lepel snipperper­skekonfyt.

Gister, hier op Nieu-Bethesda, het ek op my jis in die leivoor afgery terwyl die vlietende bome bo my stories vertel. Al met die voor se mosgroenpa­d spring daar paddas in wat saam met my die soel van die water geniet. Sê ek vir ’n vriend, al wat ek nou kort, is ’n kleilat en ’n kettie dan is ek weer 10 jaar oud.

Nou as ek pad vat vanaf die see, kan ek my verkyk aan die afdraaipaa­ie met name wat soos water op jou tong smaak. Daar is die dorpies van Suurbraak en Zoar, afdraaie by name Soutkuil, Plathuis, Oudemuragi­e, Vaalwater, Nietgenaam­d, Rooiloop, Vrijnisfon­tein, Toorwater, Doringdraa­i, Klipkuil en Winterhoek – elkeen met ’n leeftyd se stories in hul doopname opgesluit. Die riviere roep by name: Swartleegt­e, Kaapsepoor­tjie, Gwarriepoo­rt, Koeniekuil­s, Kluitjiesk­raal, Kleinlaagt­e, Maandagsou­t en vele ander.

Dit is so belangrik dat ons mense wat vandag in die skaduwinte­r van hul lewe staan, die oorsprong van die name wat hulle wel ken, oorvertel – voordat die name net bloot vlietende bordjies word, wat snellend verby ons langs die grootpad verskiet.

In die roepname van kos lê daar geslagte se erfeniskos­geskiedeni­s opgesluit.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa