Witblits-doyenne op 95
Sy was die veertiende van sewentien kinders. ’n Valentynsbaba. Pa Hendrik Boshoff was ’n volstruisboer op Sanddrif, ’n boerderygemeenskap buite Brits, en ma Miemie die omgewing se vroedvrou. Ouma Noeline Hough onthou nog duidelik die dag 90 jaar gelede toe sy en haar ma oorstap buurplaas toe, en haar ma langs haar teen die bure se kombuistrappie op trap, skielik haar maag vasgryp, en dubbel vooroor vou.
“Ek was nog nie ses nie. Ek het só deur die tralies (van die katel) vir Mammie gekyk waar sy op die bed gelê het. Sy het nog gevra: ‘Lienie (Sy het my altyd Lienie genoem), Mammie se groot dogter, vat gou vir my hierdie koppie water kombuis toe.’ ”
Toe sy terugkom by die slaapkamer, wou die ander vroue daar haar nie weer laat ingaan nie. Mammie Miemie was oorlede aan ’ n buisswangerskap, en ouma Noeline en vier jong boeties en sussies wat nog nie uit die huis was nie, het agtergebly, die jongste nog ’n baba.
Haar niggie, Mattie Terblanche, toe al ’n groot vrou met ’n gesin, het haar ingeneem en grootgemaak. Vyf jaar later is pa Hendrik ook oorlede, maar sy het troos gevind in wat sy in haar Bybel gelees het – dat die Here ma én pa vir die weeskinders is. “Op 12 het ek my hart vir die Here gegee.”
Van daar het haar lewenspad wye draaie geloop, altyd hard aan die werk. Ná skool was dit 18 jaar as koshuismatrone van die Landbouskool Kuschke buite die eertydse Pietersburg (vandag Polokwane), toe die Johannesburgse goudvelde, waar haar man, Willie, op die myn gewerk het, en toe sy
Op 95 is daar nie sprake daarvan dat mev. Noeline Hough van Clocolan op die stoep sit en lees nie. Sy is elke dag besig met seep kook, witblits stook, kraamkoeie versorg, kalwers uittrek, groentetuin maak, inlê, bak, kook, jogurt maak en, les bes, ook brei.
tie geloseer het. Die jong egpaar het eers ’n rukkie op Randfontein geloseer voordat hy die familieplaas geërf het.
Op Droogfontein het sy benewens al die ander werk op die werf en in die huis ook self geboer terwyl haar man sy eie boerdery bedryf het. “Willie het my toegelaat om met my eie sybokke, volstruise en beeste te boer. Ook met varke en hoenders. Ek het altyd alles self gedoen; ek het nie sommer dat ’n ander een my diere voer nie. Die sybokke se haar het ek self geklas, want Willie was nie vreeslik lief vir hulle nie. As ek geskeer het, het hy nie naby gekom nie.”
Ná sy dood het sy nog vier jaar alleen op die plaas gebly voordat sy 15 jaar gelede na haar dogter Henna en skoonseun, Freddie Dürow, op hul plaas buite Clocolan in die Oos-Vrystaat getrek het. Haar oudste seun, Andrea (70), boer nou op Droogfontein.
En nou hou ouma Noeline haar nog elke dag heeldag met werk op die Oos-Vrystaatse plaas besig: Seep kook, witblits stook, kraamkoeie versorg, kalwers uittrek, groentetuin maak, inlê, bak, kook, jogurt maak, brei. Haar hande staan op amper 95 nog vir niks verkeerd nie. Sy is veral goed met die kraamkoeie se versorging, sê Freddie. Hulle het saam al meer as een keer kalwers uitgetrek.
“Ek was nog nooit vreeslik lief vir boeke nie. Ek lees die Bybel en die gesangboek, en ons het nooit ’n Landbouweekblad misgeloop nie. Maar ek wou nog altyd eerder met my hande skep en goed doen; ek was nog altyd prákties gewees.
“As ek klaar is met iets, wonder ek maar altyd wat ek volgende kan doen. Partykeer dink ek ek moet bietjie op die bed gaan lê, maar dan’s dit ook nie lank nie of ek dink aan nog iets om te doen, dan staan ek maar op.
“Soos ek nou hier sit, brand ek om te weet hoe gaan dit met my seep,” vertel sy in hul plaaskombuis by Clocolan. Sy en Henna, wat heeltyds in Ladybrand skoolhou, het die middag roerseep gemaak, uit ouma Noeline se resepteboek Só maak mens seep, deur Jerry Maritz, uitgegee in 1980.
Ouma Noeline vertel sy het al ál die resepte in die boek, van voor tot agter, gemaak. Sy maak seep met enigiets van mieliemeel tot turksvye. Die middag se roerseep was met twee beeste en ’n skaap se vet.
Buite onder ’ n buitekamervenster staan haar seeppotte wat van Droogfontein af saam getrek het, vir regte boerseep wat op ’n buitevuur gekook word. Neffens is haar buite-bakoond wat sy een dag sonder Freddie se medewete en met die hulp van een van die plaaswerkers self gebou en gepleister het.
Sy het lank gedreig om een te bou, en toe sy die dag op die ashoop net die regte swaar ysterplaat vir so ’n oond sien lê, het sy vinnig-vinnig een van die werkers nader geroep om dit te help aansleep vir haar nuwe oond.
’n Entjie verder aan is haar groentetuin en vrugteboord, met turksvybome van blaaie wat sy nog van Droogfontein af gebring het vir die turksvystroop wat sy elke jaar kook. En in ’n ander buitekamer staan haar nuwe seep en afkoel, in rye skoon botterbakkies onder ’n klam kombers.
Op ’n staaltafel in die hoek is haar stookketel, gereed vir die nuwe seisoen se vrugte om mampoer mee te stook. Die vorige stooksel witblits staan in rye herwonne glasbottels onder in haar hangkas in haar slaapkamer. In die buitegeboue is hulle nie veilig nie, want dan word dit gegaps. ’ n Broerskind van Marico, Faan Boshoff, het vir haar die ketel gegee.
Die seep gebruik sy self (“dis wonderlik vir lakens”) en sy verkoop dit aan die plaaslike padstal The Cabin. Die witblits gaan ook padstal toe; self sit sy nie haar mond daaraan nie. “Toe ek my hart vir die Here gegee het, het ek belowe ek sal nie alkohol drink of na plekke gaan waar dit verkoop word nie.”
Dit was ouma Mattie wat haar so in die seepkokery gedril het, vertel sy. Klein-klein is sy aangestel om by die seeppot wag te hou om te kyk dat hy nie oorkook nie.
Op die Kuschke- skoolplaas ( vandag die Hoër Landbouskool Kuschke) het sy en haar kollegas so 230 kinders in hul sorg gehad. Sy was al om die ander maand vir die kokery of die kinders en buitegeboue verantwoordelik.
Op Hofmeyr was sy benewens boer ook VLU- uitblinker. In die jare vyftig het sy ál die eerste pryse op die VLU se Kaapse uniale kongres verower, onder meer met haar seep. In dié tyd het sy ook leerwerk gedoen. Met springbokvelle wat sy self gebrei het, het sy van kussingoortreksels tot handsakke gemaak.
Nadat sy Clocolan toe getrek het, het sy en Henna al vir menige gesellighede, waaronder ’n hele klomp troues, kos gemaak.
Deesdae staan sy tuis reg, terwyl Henna elke weeksdag Ladybrand toe en terug ry om daar vir ’n klas kinders met spesiale behoeftes skool te hou.
“Nou doen ek maar nog wat ek kan doen,” sê sy.
En het sy ’n gunsteling-werk? “Nee, hartjie, alles wat ek aanpak, geniet ek.
“Niks is sonder werk nie, maar ek het nog altyd alles geniet.”