DEUR ANDER SE OË
Ná die onlangse ontstellende gebeure in die Parlement moet daar meer twyfel wees of die ANC, met pres. Jacob Zuma vooraan, die mag ordelik sal afstaan as hulle ’n algemene verkiesing verloor, skryf Tim du Plessis, in die rubriek Dis die Punt in Rapport Weekliks. Hy sê Suid-Afrika se grootste toets sal aanbreek die dag as die ANC aan ’n wye front verkiesings begin verloor omdat die kiesers Zuma geweeg en te lig bevind het. Hoe sal die ANC reageer? Du Plessis sê Suid-Afrika is siek en sat van dié man, maar ons gaan met hom opgeskeep sit. Hy is onaantasbaar, des te meer nadat hy in sy repliek op die staatsrede-debat meesterlik daarin geslaag het om sy bedenklike eiebelang totaal te versmelt met dié van die ANC. Hy het daarin geslaag om die ANC-lede beter te laat voel oor hulself én hom. Almal het gepraat oor die DA se Mmusi Maimane wat Zuma regstreeks getakel het met “u is ’n gebroke man aan die hoof van ’n gebroke gemeenskap”. Dit het die normaalweg rumoerige ANC-LP’s laat stil word toe hy bygevoeg het: “Terwyl Suid-Afrikaners huil oor hul geliefde land, het u gelag.” Die trefkrag het duidelik geblyk deur die feit dat Zuma hom in sy repliek geïgnoreer het.
’n Mens moet geld bestee om geld te maak. Maar om geld te bestee waar dit nie ’n wesenlike verskil gaan maak nie, maak ’n mens net plein senuweeagtig. Die Tesourie is duidelik oor wat die grootste onmiddellike bedreigings vir Suid-Afrika se ekonomie is – al hoe groter wordende probleme by die land se staatsbeheerde enititeite, hoër besoldiging aan staatsamptenare en swak ekonomiese groei.
Ja, die staat gaan meer bestee, sê mnr. Nhlanhla Nene, Minister van Finansies – van R1,24 biljoen in die 2014/’15-boekjaar na R1,56 biljoen in 2017/’18. Maar dit was moeilik om ’n groot klemverskuiwing in sy begrotingstoespraak te bespeur wat die ekonomiese groei kan teweegbring wat dié besteding gaan onderskraag en die staat se algehele begrotingstekort onder die skrikwekkende merk van 50% van die bruto binnelandse produk gaan hou.
Ja, daar’s geld vir infrastruktuur en onderwys, wat teoreties op lang termyn ekonomiese groei behoort te stimuleer indien dit nie in iemand se gatsak verdwyn of oudergewoonte uiters swak bestee word nie. Die private sektor, wat groei moet aanvuur, word grootliks toegelaat om op eie houtjie aan te karring. Maatskappybelasting is toe nie verhoog nie, maar die stygings in persoonlik belasting, brandstofheffings en elektrisiteitskoste, asook die moontlike beëindiging van dieseltoegewings, gaan steeds die produktiewe deel van die ekonomie, en veral die landbou, looi.
En daar is nie ’n woord gerep oor die verkoop van staatsbates wat aanhoudend geld opslurp nie. Wat Eskom betref, is dit weer die produktiewe deel van die ekonomie wat gaan hoes.
Daar is wel vergunnings gemaak aan die produktiewe deel van die ekonomie, soos die belastingsvoordele vir kleiner ondernemings, maar dit is eintlik net mikrobesighede wat werklik gaan voordeel trek. Die enjin van ekonomiese groei, middelslagondernemings, moet nog grotendeels self sien kom klaar. En daar is nie ’n woord gerep oor die bisarre regulatoriese en administratiewe las waaronder dié ondernemings steier nie.
Soos gewoonlik, is daar belowe om die enorme koste van korrupsie onder beheer te kry, maar met pres. Jacob Zuma aan die stuur van sake is dit ’n moeilike een om te sluk. Ten minste gaan daar oor die volgende twee jaar ’n R25 miljard-vermindering in staatbesteding wees, maar ons sal moet sien of ons Gucci-sosialiste hul blink motors gaan inruil vir iets goedkopers.
Dan is daar die vakbonde wat al klaar aandring op ’n 15%-salarisverhoging, ondanks die feit dat salarisse nou al 36% van die staat se totale besteding opslurp, met weining om daarvoor te wys ten opsigte van dienslewering. En dienslewering is eintlik die groot kwessie. Jy wonder partykeer of die geld wat die staat bestee, nie beter aangewend sou gewees het in private hande nie.
Hoeveel van die R4,7 miljard wat vir die herkapitalisering en ontwikkeling van grondhervormingsplase geoormerk is, gaan werklik ’n beduidende verskil maak? Moet jy verder kyk as die R200 miljoen wat verlede jaar op die teeplantasies in die Oos-Kaap geblaas is?
Ek hoop werklik so, want op dié trant en met ons huidige groei, kan ons die Regering al hoe minder bekostig.
Het jy iets op die hart? Skryf gerus aan ons. As dit die wenbrief is, ontvang jy R150 met die komplimente van BKB. Sê jou sê in hoogstens 300 woorde. Stuur dit aan: Die Redakteur, Brieweblad, Landbouweekblad, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Of faks dit na: 021 406 2940 of gebruik e-pos: landbou.com. Verskaf jou naam en adres, al wil jy ’n skuilnaam gebruik. Vandeesweek se wenbrief is deur
geskryf.
lbw@
word indien dit nodig is.
Die groot verskil is dat goeie veldbeeste die boer meer geld in die sak sal bring en winsgewend gebruik kan word om deur middel van drukbeweiding veld te verbeter en drakrag te verhoog. Dit is ’ n wen- wen- situasie vir boere én verbruikers.
Telers van Afrika-rasse het die sleutel tot die teling van beeste wat produktief is op die veld. Die tragedie is dat hulle dit self nie besef nie. Die waarde van ’ n Nguni lê nie in horings en ’ n veelkleurige vel nie. Dit beteken niks vir die kommersiële produsent nie. Die waarde van die Nguni lê in sy praktiese vrug- baarheid en gemak van bestuur ( parasiet- en siekteweerstand). Dié eienskappe moet met die gunstige eienskappe ( melk en vleis- been- verhouding) van ander rasse gekombineer word om ’n egte veldproduktiewe bees te teel, soos met die Veldmaster gepoog word.
Die situasie waarin Afrikaneren Ngunitelers hulself bevind, is ongelukkig, maar hulle kan nie die voerkrale vir hul dilemma blameer nie. Hopelik sal die huidige situasie telers van die Afrika- rasse dwing om met ander oë na hul beeste te kyk.
Ek glo Jan Taks gaan dit geniet.