‘ ’N SLANG HET MY GEPIK!’
Toe die elektrisiteit onlangs vir die soveelste keer afgaan, het dit my herinneringe na ’n donkerte jare gelede teruggevoer.
My ouers het in die Rustenburgse Bosveld geboer toe my oom en tante sowat 70 jaar gelede vir die naweek by ons opdaag. Daardie jare het die kleinhuisie, soos ons die bostoilet destyds genoem het, agter ’n bos en ’n ent van die huis gestaan. Hoenders het vry op die werf rondgeloop, eiers gelê en kuikens uitgebroei.
My tante was baie deftig. Ek onthou dat sy met hul aankoms ’n swart hoedjie opgehad het met ’n soort net wat oor haar oë en ore gehang het. Die doel van die “masker” oor die gesig, moes ek later verneem, was ’n modegier, hoewel ek geglo het dit was om stof en allerhande goggas uit haar gesig te hou.
Die Saterdagaand terwyl ons gesin in die kombuis voor die Doverstoof sit en gesels, gaan besoek sy die kleinhuisie. Dit was net ná sononder en met laaste lig toe ons meteens hoor my tante skreeu: “’n Slang het my gepik! ’n Slang het my gepik!”
Dis toe sy die kombuis se onderdeur oopstamp en op die vloer neerslaan. Met haar linkerhand het sy haar regterhandse vingers in ’n greep vasgeklem om te verhoed dat die gif deur haar liggaam versprei.
Dit was totale chaos terwyl sy prewel dat ’n slang haar aan haar hand gepik het toe sy op besoek aan die kleinhuisie was. Terwyl my oom na sy Pontiac se sleutels soek, gryp my pa sy haelgeweer en flits. Ons kinders sit met met stokke saam na die kleinhuisie af. Buite kon ons nog mooi sien, terwyl my pa ernstig waarsku dat ons die slang moet kry sodat die dokter op Rustenburg kan bepaal watter teengif hy my tante moet toedien.
Telefone was daar nie, en om my tante se lewe te red, moes ons die slang so gou moontlik opspoor en dorp toe jaag. Doodbang en op ’ n veilige afstand hoor ons iemand skreeu dat my tante haar bewussyn verloor het en dat ons moet kom help om haar in die motor te kry.
Met die geweer in sy een hand druk my pa die deur van die kleinhuisie versigtig na binne oop. Selfs Leeu, ons brak, staan stertswaaiend langs my pa en verstom hom blykbaar ook oor die aanval. Soos vandag nog hoor ek my moeder se stem: “Bring vlugsout en smeer lampolie aan die bytplek.”
Toe my pa die flitslig aanska-