Plaaswerkerskuld: Hier’s raad!
TOT 56% van die loonbeslagleggingsbevele wat teen werkers op ’n Wes-Kaapse vrugte-en-wynplaas uitgereik is, was nie deur ’n hof afgedwing nie, maar bloot so “vermom” om werkgewers te mislei ten einde die aftrekkings te maak en aan skuldinvorderaars oor te betaal. Só stel boere hulself bloot aan eise deur werknemers as dit later bewys word die bevel is nie wettig nie. Van die ander bevele op die plaas is in ’n verkeerde jurisduksie uitgereik of slegs deur ’n klerk van die hof goedgekeur sonder dat ’n landdros bepaal het of die skuldenaars die terugbetalings kan bekostig (sien die kassie).
Volgens mnr. Clark Gardener van die finansiële welstandsfirma Summit gebeur dit meer gereeld in die landbou as in enige ander bedryf dat aftrekkings sonder hofbevele gedoen word. Me. Wendy Appelbaum, Stellenbosse wynplaaseienaar, sê werkgewers weet dikwels self nie wat die wet daaroor voorskryf nie. Boonop is werkgewers bang daar word op hul bates beslag gelê as hulle nie die geld aftrek nie. Die boer op wie se plaas Summit die ondersoek geloods het, sê: “In die proses verarm plaaswerkers. Sommige sal nooit uit hul skuldverknorsing kom nie. Hulle kan nie welvaart en vooruitgang vir hulself en hul gesinne skep nie.”
Die Universiteit Stellenbosch se regshulpkliniek bring tans namens 14 aansoekers, hoofsaaklik plaaswerkers, ’n aansoek in die Kaapse Hooggeregshof teen die Minister van Justisie, van Korrektiewe Dienste en van Handel en Nywerheid, die Vereniging van Skuldinvorderingsagente, die regsfirma Flemix en vennote, die Nasionale Kredietreguleerder en 13 kredietverskaffers. Die hof het onder meer gehoor die beslagleggingsbevele word deur hofklerke goedgekeur, buite die werkgewer se jurisduksie en dikwels sonder dat die skuldenaars besef wat aangaan.
WENKE TEEN UITBUITING
Opvoeding en bewusmaking is die belangrikste manier om te keer dat plaaswerkers uitgebuit word. Gardener gee dié wenke: Jurisdiksie. Loonbeslagleggingsbevele moet uitgereik word in die hof naaste aan waar die skuldenaar se werkgewer woon of sy onderneming bedryf, anders is dit ongeldig en moet die werkgewer weier om dit af te dwing. Tussen 20% en 40% van dié bevele word in die verkeerde jurisduksie uitgereik. Maak seker dit is ’n hofbevel. Regsfirmas stuur soms ’n getekende toestemmingsbrief aan die werkgewer sonder dat die bevel deur ’n hof bekragtig is en mislei die werkgewers om die aftrekkings te maak. As daar nie ’n saaknommer en hofstempel op die dokument is nie, is dit nie geldig nie. Gaan die bedrag na. Die werkgewer kan seker maak die skuldinvorderaar hef nie buitensporige geld en rentekoerse nie. Die totale geld en rente mag nooit meer wees as die aanvangskuld nie (in duplum). As die aanvangskuld R1 000 is, mag ’n invorderaar nie meer as R2 000 betaal word nie. Gaan kommissie na. Die invorderaar mag 10% kommissie op elke aftrekking eis. Die werkgewer kan 5% kommissie op die aftrekkings eis, maar dit moet uit die invorderaar se geld betaal word. Moenie teken nie. Plaaswerkers moet nooit enige dokumente teken wanneer hulle deur ’n invorderaar gekontak word nie. Die invorderaars jok dikwels oor die inhoud van die dokumente en dwing werkers só om hul regte weg te teken. – LUCILLE BOTHA