Proewe gee rigting oor rywydte, plantestand
Rye van 2,2 m uitmekaar was tot relatief onlangs nog die norm op die mielielande van die noordweste met sy wisselvallige reënval. Daar is deesdae nog heelwat boere wat teen dié wydte plant. Die opbrengsvoordele van nouer rye (gemiddeld meer kilogram mielies per millimeter reën oor ’ n bepaalde tyd) het die laaste paar jaar egter ál opmerkliker begin word. Dienooreenkomstig het ’ n rywydte van 1,5 meter ál algemener geword.
Met ál meer belangstelling in geenbewerking en bewaringsboerdery het ’n hele paar boere intussen hul rywydtes verder tot 90 cm vernou. Met nouer rye kan die grond gouer deur ’n blaredak bedek word, wat verdamping beperk en onkruid smoor.
Argentynse geenbewerkingskenners wat die gebied besoek het, beveel egter rywydtes van net 50 cm vir die betrokke toestande aan.
Plantestand loop hand aan hand daarmee, en om ook die optimale langtermyn- kombinasie van plantestand en rywydte vir die spesifieke omgewing te bepaal. Die Argentyne sê hulle plant in dieselfde toestande tot 50 000 plante per hektaar met sukses.
Die noordweste se boere én wetenskaplikes krap nou kop oor wat die optimale rywydte en plantestand vir hul plaaslike toestande is, veral omdat ’n aanpassing van rywydte duur nuwe toerusting beteken.
Hulle hoop om met plaasproewe die antwoord te vind. Die Ottosdal-geenbewerkingklub, wat volgende week (11 en 12 Maart) sy jaarlikse konferensie (met Landbouweekblad as mediaborg) hou, se proewe saam met Graan SA, die Landbounavorsingsraad, en met finansiële steun van die Mielietrust, is verlede jaar (in die 2013/’14-seisoen) begin.
Boere wat lede van die klub is, bedryf die proewe op hul plase, samel die resultate in en word as navorsers op die plaas gebruik.
Tot dusver lyk die proefresultate só: ■ Die optimale stand van mielies in die distrik Ottosdal in die 2013/’ 14- seisoen was meer as 30 000 plante per hektaar. Anders as vanjaar was die reën gunstig, wat hoeveelheid én verspreiding oor die seisoen heen betref. Meer as 9 ton mielies per hektaar is plek-plek gestroop. Die algemene oortuiging is egter steeds dat ’n laer plantestand die beste vir ’n normale seisoen gaan wees, sê dr. André Nel van die LNR, wat die proefresultate ontleed. Hy meen die tyd sal leer. ■ Sonneblomme en sorghum se opbrengs het nie op ’n verandering in plantestand gereageer nie. ■ Sojaboon- opbrengs het wél met die verandering in plantestand verhoog, en die optimale stand was meer as 300 000 plante per hektaar. ■ Die Argentynse praktyk van 50 cm-rywydtes en ’n hoë mielie-plantestand word met die plaaslike praktyk van 90 cm-rywydtes en ’n plantestand van 16 000 tot 20 000 plante per hektaar vergelyk. Die eerste resultate was vol teenstrydighede. In vyf van die proewe het die Argentynse praktyk ’n hoër opbrengs as die plaaslike praktyk opgelewer. In drie gevalle was die resultaat andersom, en in vier gevalle was daar geen verskil nie. ■ Wat kouters teenoor tande by geenbewerking-planters betref, kan tande die grond dieper losmaak en kunsmis dieper plaas as kouters, maar hulle versteur die grond meer. In die 2013/’14-seisoen het die twee praktyke in die proewe geen verskil in opbrengs gewys nie. André verwag wel dat verskille na vore kan tree as die reënval minder gunstig is, en as die sukses van tande of kouters deur die grondtekstuur en -gehalte bepaal word.
Plantestand en rywydte is die twee groot kwessies waaroor bewaringsboere in die noordweste nog kopkrap. ‘Die Argentyne sê hulle plant tot 50 000 plante per hektaar suksesvol in dieselfde toestande.’
Saaiboere met vee kan gerus kanola as wisselbougewas oorweeg, sê mnr. Petrus Fouché van PhytoFarming.
Dié gewas se plaaslike aanplantings het sedert 2010 met gemiddeld 38,6% per jaar toegeneem, sê hy.
PhytoFarming is die landbou-arm van die biobrandstofgroep PhytoEnergy, en Fouché se taak is om die kanolabedryf in Suid-Afrika te bevorder.
Benewens suiwer kommersiële gewas, kan kanola ook suksesvol as ’ n dubbeldoel- gewas ingespan word, wat eers bewei en dan geoes kan word. Dit kan ook vir hooiproduksie, kuilvoer of as dekgewas gebruik word, sê Fouché.
Sy statistieke bewys dat kanola reuse-weidingpotensiaal kan bied. Hy haal voorbeelde in die jongste nuusbrief van die KwaZulu-Natalse geenbewerkingklub aan.
Mnr. Pieter de Jager van Albertinia het met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van net 380 mm (vanaf 2007 tot 2010) gevind dat die drakrag van sy kanola vir skape en volstruise 3,8 kleinvee- eenhede per hektaar per jaar was, teenoor sy hawer se 3,2 KVE/ha/jaar.
By Senekal kon mnr. Pieter Heyns in 2006/’ 07 sy beeste 13 maande lank kanola-aanplantings laat afwei. Dit het vier keer in die winter ingesluit, sonder reën, asook ná elke somerreën. In teenstelling daarmee, sê Fouché, bied voergrane, soos rog, hawer en korog ( Triticale spp.), twee tot hoogtens drie beweidings van goeie gehalte.
Die kanola van mnr. Johannes Joubert van Riversdal het hom in 2013 eers 28 wei-dae vir 37 ooie per hektaar gegee voordat hy dit geoes het. Fouché bereken dat dit hom voerkoste van R6,50 per ooi per dag bespaar het. Die kanola se wei-waarde was dus R6 734/ ha. Hergroei van verskeie stamme per plant het hom toe ’n oes van 1,5 ton/ha gegee. In randwaarde was die oes R6 750/ ha werd teen die R4 500/ ton wat hy daarvoor gekry het. Sy totale inkomste uit die kanola was dus R13 484/ ha. “Dit is duidelik die wei-waarde vergoed oor en oor vir die effens laer opbrengs weens die beweiding vooraf,” sê Fouché.
Voorts is daar ook sterk aanduidings dat kanola die winsgewendheid van opvolggewasse kan verhoog, spesifiek onder besproeiing.
Fouché verwys na mnr. Tommie Masterson van Kokstad, wie se mielies ná kanola geen Fusarium gekry of omgeval het nie, en ’n gemiddelde opbrengs van 4 ton/ha meer gelewer het as sy mielies wat ander gewasse opgevolg het.
In ’ n Noord- Kaapse boerdery, waar dieselfde mieliekultivar op dieselfde tyd en met dieselfde bemesting op twee aangrensende spilpuntlande geplant is, was die mielie-opbrengs ná koring 10 ton/ha, en dié wat kanola opgevolg het, 15 ton/ha.
By Hartswater het ’n boer gevind dat kanola met mielies as opvolggewas sy mielie-opbrengs met gemiddeld 2 ton/ha verhoog het, sê Fouché. – MARLEEN SMITH
LINKS: Dié aartappelplant dra ’n vruggie, wat baie soos ’n tamatie lyk. Volgens mev. Olga Langeveld het die vruggie nog nie van kleur of grootte verander nie en dit hang al langer as ’n maand aan die plant.