LBW| RUBRIEK D ‘Aanvallers’ by die plaashek
ie gemoedere in landboukringe loop hoog. Afgesien van die droogte wat talle boerderye in groot dele van die land in ’n geldelike verknorsing gaan laat, het die giggelende pres. Jacob Zuma se uitlatings in die staatsrede oor grondhervorming, grondplafonne, die plan om landbougrond om die helfte tussen boere en plaaswerkers te verdeel en die verbod op buitelandse besit van grond vir talle boere die laaste spyker in die doodskis gekap.
In landbougeledere neem wantroue in die Regering toe, wat nie verbeter word as jy sonder elektrisiteit is en lees van nog misdaad en moordaanvalle nie.
Hierdie situasie is die teenoorgestelde van wat The Economist, ’n gesaghebbbende internasionale ekonomiese tydskrif, berig het in ’ n artikel “Barbarians at the farmgate”. Daarin word gesê in die volgende 40 jaar sal in die wêreld net soveel voedsel geproduseer moet word as in die vorige 10 000 jaar saam. Omdat Amerika en Suid- Amerika goeie landboupotensiaal het en ’n beleid volg wat beleggings in die landbou aanmoedig, belê buitebeleggers op groot skaal in die landbou: In grond, nuwe tegnologie en infrastruktuur.
Sodoende versprei hulle hul beleggingsrisiko. Die risiko in banke en aandele word groot en daarom verkies beleggers konkrete beleggings met meer sekerheid oor die lewensvatbaarheid daarvan op lang termyn.
In Amerika, Suid- Amerika, Australië en Nieu-Seeland is die gemiddelde ouderdom van boere byna 60 en hul kinders wil nie die plase oorneem nie. Die tradisionele familieplase maak daarom plek vir maatskappyboerderye met buitekapitaal en bestuurders.
Beleggers belê ook in navorsing en tegnologie, want hulle weet dat hulle op langer termyn ’n goeie opbrengs op hul belegging gaan kry.
WIE STAAN BY DIE PLAASHEK?
Die opskrif “Barbarians at the farmgate” dui daarop dat die landbou sy karakter as familie-onderneming verloor, dat boerdery net gaan oor geldelike opbrengs en dat geldbarbare voor die plaashekke staan om dit oor te neem. Grond word as ’n veilige belegging gesien. Dit lok gevolglik kapitaal wat dit vir die landbou moontlik maak om in die groeiende vraag na voedsel en grondstowwe te voorsien.
In Suid-Afrika dui die “barbarians at the farmgate” nie op nuwe beleggers en tegnologie nie, maar op politici wat die landbou skynbaar wil terugneem na bestaansboerdery en primitiewe produksietegnieke.
Suid- Afrika verstedelik op groot skaal. Jong swart mense wat in die landbou studeer, stel dit onomwonde dat hulle nie belang stel in ’ n bestaansboerdery nie. Hulle wil in ’ n moderne, wetenskaplik gedrewe landbou- en voedselsektor werk.
Broodnodige beleggings in navorsing, moderne produksietegnieke, infrastruktuur en kundigheid in die landbou word by ons plaashekke weggejaag. Die beleggings wat sal verseker dat voldoende, bekostigbare voedsel in Suid-Afrika vir die sowat 45 miljoen mense in stedelike gebiede geproduseer word, word nie gedoen nie. Inteendeel, daar is groot debatte oor die veiligheid van beleggings in die Suid-Afrikaanse landbou.
In die lig van die droogte en ongunstige beleidsuitsprake van die jongste paar weke oorweeg talle boeregesinne ernstig of hulle wil voortgaan met boerdery. Finansiers begin bekommerd raak dat saai- en veeboere kan sukkel om hul krediet terug te betaal.
BELEGGERS WEGGEJAAG
Buitelandse beleggers in die ekonomie en landbou ( want, onthou, baie van die binnelandse finansiering kom van buitelandse beleggers af), word weggejaag as die Regering voortgaan om grondeienaarskap en private eiendomsbesit te ondergrawe en ooreenkomste met die georganiseerde landbou oor die pad vorentoe te ignoreer. Dit is geld waarmee die staat sy skuld kan finansier.
Die toename in landbouskuld in die jongste aantal jare word in GRAFIEK 1 aangedui. Boere moes eksterne krediet gebruik om die boerdery aan die gang te hou, want daar is nie nuwe beleggings nie en die landbou se winsgewendheid is onder druk, wat eie kapitaalvorming erg knou. Daar is ’n groot verskil tussen die opneem van krediet om aan die gang te bly, teenoor nuwe beleggings, wat die landbou-onderneming vorentoe neem en ’n opbrengs op kapitaal gee.
In GRAFIEK 2 word aangedui dat regeringsinstellings toenemend moet geld leen om aan die gang te bly omdat te min investering
’n Strawwe winter wag op die Suid-Afrikaanse landbou. Boere moet saam met hul finansiers en medeboere strategieë beraam om hul boerdery te laat oorleef . . . en nie hulp van die Regering verwag nie.
plaasvind. Staatskuld groei na vlakke waar dit moeilik raak om skuld te diens.
Daar word hard gewerk en gedink in boerdery- ondernemings oor die pad vorentoe. Familieboerderye kan verskillende opsies oorweeg. (Dit is egter raadsaam om kundige adviseurs te raadpleeg en deurdagte besluite te neem in die heersende omstandighede.)
Die dilemma vir baie gesinne is dat hulle nie weet waarheen om te gaan as hulle uit die boerdery tree nie. Dit is ook ’n feit dat as jy aanhou skuld maak en te lank met ’n verliesmakende boerdery aanhou, gaan jy uiteindelik ophou weens te min kapitaal. Dan gaan dit nog moeiliker wees om ’n geslaagde verandering te maak.
Die stabilisering en herbeplanning van kontantvloei is die eerste stap as jy besluit om voort te gaan. Boerderye word nie gelikwideer weens te veel skuld nie, maar weens kontantvloeitekorte.
Gaan onderhandel nóú met die finansiers en nie eers aan die einde van die oestyd as jy nie meer opsies het nie en die finansier ongenaakbaar raak. Werk vroegtydig saam aan ’ n plan met die finansier en oorweeg selfs nuwe buitekapitaal (nie lenings nie).
Stel van nuuts af ’ n begroting op en be- sin oor elke uitgawe in jou huishouding en boerdery. Hoeveel het jy al geëis teen allerlei versekeringspolisse waarvan die paaimente nogal ’n aardige bedrag kan wees? Ons almal het nieproduktiewe en onnodige uitgawes.
Ons almal het ook oortollige of nieproduktiewe bates. Verkoop dit vroegtydig en omskep dit in kontant wat jy spaarsamig gebruik as die besluit is om met die boerdery voort te gaan. Wat van daardie vakansiehuis? Bepaal wat is werklik belangrik vir die oorlewing van jou boerdery.
Daar is veeboere op wie ’n lang en moeilike winter wag. Moenie wag tot die veld op is en die diere te veel kondisie verloor het nie. Tree vroegtydig op en verkoop van die diere sodat jy jou teeltrop kan beskerm. Natuurlik gaan daar slagdruk wees as boere nie vroegtydig en ordelik diere verminder nie. Natuurlik gaan speenkalfpryse daal met stygende voer- en mieliepryse. Bedink die verwagte verloop van sake en beraam betyds planne – nie op jou eie nie, maar binne streekverband.
Ongelukkig is die werklikheid vir die Suid- Afrikaanse kommersiële boer dat sy Regering min erg aan hom het. Suid-Afrika is een van die lande met die kleinste staatsondersteuning aan die landbou.
Die kans dat die Regering nou gaan intree met hulp met oorlaatproduksiekrediet en nuwe produksiekrediet in die nuwe seisoen gaan waarborg, is waarskynlik nul. Ons weet ook dat die ou voerrabatte en voerlenings nie ingestel gaan word nie.
BERAAM NÓÚ PLANNE
Dit is dus tyd dat boere in hul boereverenigings die sake ordentlik deurdink en as groep aksieplanne beraam. Boere gaan elke betroubare sakevennoot nodig hê. Kies jou vennote goed en beraam nou reeds saam met hulle planne om deur die diep drif te kom. Terloops, dit is nie net die landbou nie, maar die meeste private ondernemings wat voel hul is besig om in ’n diep drif vas te val.
Geen boer moet probeer om alleen nuwe planne en strategieë te beraam nie. Betrek jou familie en daarna jou strategiese vennote.
Hierdie winter gaan veeleisend wees sonder genoeg skoon drinkwater in stedelike gebiede, sonder genoeg elektrisiteit en sonder ’ n eerbare regering. Arm mense gaan swaarkry met mieliemeel wat weer 30% tot 40% duurder gaan word. Dit alles is ’n resep vir die sogenoemde “perfekte maatskaplike storm” vir die regerende politici.