SAMEWERKING TUSSEN NEDERLAND EN SA
Dr. Caren Jarmain, leier van die Fruitlookprojek, sê die Wes-Kaapse departement van landbou het haar en ’n Nederlandse waterkundige instelling, eLeaf (voorheen WaterWatch), ’n paar jaar gelede genader om na die wingerdbedryf as deel van die provinsie se waterverbruik te kyk.
Voorheen het dié Nederlandse instansie ’n suksesvolle projek in Mpumalanga gedoen waar gekyk is na waterverbruik in die Inkomati-opvangsgebied. “Die Nederlanders wou graag hul waterkennis aan Afrika en Suid-Afrika oordra,” sê Caren.
Destyds het die departement geld vir ’n driejaarprojek beskikbaar gestel om na waterverbruik in die wingerdbedryf (tafelén wyndruiwe) te kyk. Ander rolspelers het ook toegetree en geld gegee om die gebruik van satelliettegnologie te ondersoek, waaronder die Waternavorsingskommissie en die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Mnr. André Roux, direkteur vir volhoubare hulpbronbestuur by die WesKaapse departement van landbou, het reeds in daardie stadium werksessies oor satelliettegnologie vir besproeiing in die provinsie aangebied. “Die tafel was gedek vir die projek saam met Waterwatch,” sê hy.
Caren sê satelliet-watertegnologie is voorheen hoofsaaklik in Europa en Amerika ontwikkel, en daar is na geleenthede gesoek om die toepasbaarheid daarvan in SuidAfrika te toets.
Sy, André en prof. Wim Bastiaanssen van eLeaf het aan besproeiingsrade in die Boland die voordele daarvan gedemonstreer. Hulle het gewys “hoe ingezoem kan word op ’n plaas om die doeltreffendheid van besproeiing en waterverbruik in wingerdblokke in verskillende kleure op ’n satellietfoto te wys”.
Caren sê die aanvanklike proefprojek van 2005 tot 2007 was baie suksesvol. Dit kon aan wingerdboere in onder meer die Hexriviervallei aandui presies wat hul waterverbruik in die vorige groeityd was, hoe doeltreffend watergebruik en besproeiing was en wat die biomassaproduksie was. Boere kon presies sien hoeveel kubieke meter water gebruik is om een kilogram druiwe te lewer.
Hulle was beïndruk daarmee. Talle het gesê hulle sal graag hul waterverbruik oor ’n hele groeityd wil sien en hoe die waterverbruik verander het sodat hulle aanpassings daarvolgens kan maak.
Dit het in 2010 gelei tot die Grapelookprojek in die Wes-Kaap wat daarop gemik was om intydse data weekliks beskikbaar te stel. Dié projek is gefinansier deur die provinsiale en nasionale landboudepartement, die Nederlandse ambassade in Suid-Afrika en die Europese Ruimteagentskap (ESA).
Tans word Fruitlook net deur die Wes-Kaapse departement van landbou gefinansier. Boere sal in die toekoms vir die diens moet betaal ten einde ’n volhoubare stelsel te hê, sê André. Dit kos sowat R3 miljoen per groeityd van 27 weke om die stelsel te finansier. (Omdat die betaling in euro geskied, moet die departement versekering uitneem teen die verswakking van die rand.)
“Die ideaal is dat soveel moontlik landbouers en ander gebruikers die satellietdata en -inligting sal gebruik om hul waterbestuur te verfyn ten einde dit kostedoeltreffender te maak.”
Tans doen eLeaf alle satellietdataverwerking, met mnr. Ruben Goudriaan as projekleier, terwyl Caren en die Universiteit Stellenbosch die akkuraatheid van die data evalueer deur toepaslike veldmetings. Gebruikers moet op die webblad,
registeer en die wingerd en/of boord waaroor hulle inligting wil kry, identifiseer.
Weens probleme met internettoegang in sommige landelike gebiede word ’n toepassing ontwikkel wat die inligting deur e-pos aan gebruikers beskikbaar sal stel. Die toepassing FruitSupport sal probleemgebiede in blokke identifiseer en gebruikers weekliks daaroor inlig.
fruitlook.co.za,