’N ANDER MENING
Die Cronjés se bevindings is in skerp teenstelling met die raad van ’n vooraanstaande weidingkundige, prof. Hennie Snyman van die Universiteit van die Vrystaat en ook ’n boorling van Zastron.
Hennie het al telkens gewaarsku teen die gebruik van vuur om slangbos te bekamp.
Hy maan dat brand meer kwaad as goed kan doen omdat vuur die ontkieming van slangbossaad en die opkoms van nuwe slangbossaailinge sterk kan stimuleer. Sy navorsing het dit bewys.
Boonop sal ’n stuk veld wat deur slangbos ingeneem is, met ’n al hoe warmer vuur brand hoe digter die stand van die slangbos is, wat ook beteken dat meer nuttige graspolle in so ’n brand kan afsterf.
Hennie se artikel daaroor het in die vaktydskrif African Journal of Range and Forage Science verskyn. Dit het gehandel oor sy navorsing op ’n stuk gebrande veld op die plaas Eden van mnr. Philip Henning buite Thaba Nchu, ook in die SuidoosVrystaat.
Hennie het gevind dat die veldbrand die opkoms van slangbossaailinge in die daaropvolgende groeityd soveel gestimuleer het dat daar op die gebrande voethelling 510 slangbossaailinge per vierkante meter opgekom het, teenoor net 9 saailinge per vierkante meter in die ongebrande deel van die voethelling. Op die gebrande middelhang het 62 slangbossaailinge per vierkante meter opgekom, teenoor net 19 per vierkante meter op die ongebrande deel.
Hennie meen chemiese bestryding is tot dusver die enigste doeltreffende manier van slangbosbekamping wat die toets van tyd deurstaan het. Hy waarsku wel teen oortoediening.
Hy voeg by dat die meeste volwasse slangbosse nie in ’n veldbrand doodbrand nie en gewoonlik vinnig weer uitgroei. Dit produseer sommer dieselfde jaar nog saad, wat die saadbron aansienlik kan aanvul, hoewel die saadproduksie van die gebrande bosse laer is as dié wat nie gebrand het nie.
Hy het wel gevind dat jong slangbosplante baie gevoelig is vir brand en gewoonlik nie weer ná ’n brand uitspruit nie.