SIGEUNERS VAN DIE STOFPAD
Vir lank – seker te lank – was die Karoo se karretjiemense maar net daar; rondtrekkende skaapskeerders wat ’n diens gelewer wanneer dit nodig was en op ander tye vir boere net ’n ergernis was met hul donkiekarre, honde (sien KASSIE “Navorsing gaan voort”) en uitkampery langs die grondpaaie.
Hierdie eg Suid-Afrikaanse sigeuners het eers onlangs in die kollig gekom met die verskyning van prof. Michael de Jongh se lesersvriendelike, wetenskaplike boek, Roots and Routes: Karretjie People of the Great Karoo: The marginalisation of a South African first people en die wenner van Unisa se Hiddingh Currie-prys vir akademiese uitmuntendheid. Dit is reeds in sy derde druk.
Die boek is eintlik ’n samevatting van die antropoloog se jare lange navorsing oor die karretjiemense. Buiten gevallestudies bevat dit ook treffende (of is dit treurige?) verhale en staaltjies wat hy opgeteken het, terwyl hy self agter die donkiekarre aangeswerf het.
Die Afrikaanse weergawe, Karretjiemense van die Groot Karoo: Vergete afstammelinge van die vroegste Suid-Afrikaners, is egter nie bloot ’n vertaling nie, maar ’n herskrywe. Die “idioom” of eiesoortige Afrikaans van die karretjiemense kom sterk na vore (sien KASSIE “Voorbeelde van ‘Karretjie-Afrikaans’ ”, bl. 75).
Volgens die uitgewers moes Karretjiemense in die eerste plek in Afrikaans gepubliseer gewees het, maar die mark het voorgeskryf dat dit verkope in Amerika en Europa sou kortwiek. Die lesersreaksie was tot dusver goedgesind – selfs in die Karoo, waar plaaslike mense (en “kundiges” wat al oor die Karoo geskryf het) erken het dat hulle nooit besef het wie hierdie mense is of waar hulle eintlik vandaan kom nie.
WANNEER EN HOE HET JY IN HIERDIE NAVORSING BEGIN BELANG STEL? In 1990, terwyl ek en ’n Amerikaanse antropoloog deur die Karoo gery het, het ons op ’n gesin op ’n donkiekar afgekom. Ons het maar geraai hulle was plaasmense op pad dorp toe. Die volgende jaar toe ek weer daar kom, het ek meer sulke swerwende gesinne opgemerk en toe eers besef dat die mense eintlik ’n unieke gemeenskap is met ’n besondere lewenstyl wat deel geword het van die omgewing sonder om enige buitengewone aandag te trek.
Tog was hulle so te sê nog altyd daar. In die 1700’s het skrywers reeds melding gemaak van vyandighede tussen hul voorgangers (die /Xam en in ’n mindere mate die Khoekhoen – Griqua/Korana) en enige nuwe intrekkers – soos die pioniersboere.
Tydens die navorsing het ons onder meer DNS-ontledings van die karretjiemense laat doen wat daarop wys dat hulle mettertyd “mak Boesmans” (soos van die eerste boere hulle soms genoem het) op plase geword het. Terloops, die woord “San”, wat die Khoekhoebeesboere vir hulle gebruik het, word deur die Boesmans as beledigend beskou. Dit verwys na “mense sonder vee” en insinieer dat die Boesmans veediewe was.
HET JY PROBLEME GEHAD OM DEUR HULLE OF DIE PLAASLIKE BOERE AANVAAR TE WORD? Aanvanklik was almal maar agterdogtig. Die karretjiemense het my as net nog ’n “baas” beskou en dit was moeilik om hul vertroue te wen. En natuurlik het my besoeke aan hulle, wat dikwels vereis het dat ek saam met hulle om die kampvuur moes kuier, baie boere se nekhare laat rys.
Die karretjiemense, wat meestal geïgnoreer en vermy word, het dit seker ook aanvanklik vreemd gevind dat ek nou juis so in hul lewe betrokke wou raak. Later het van die boere self in my navorsing begin belang stel en met die skeerders oor hul agtergrond gesels. Maar my grootste beloning was toe die karretjiemense openhartig van hul tradisies, armoedige lewens en gepaardgaande probleme aan my begin vertel het. Uiteindelik, dink ek, het hul “wêreld”, die Groot-Karoo, se voorgeskiedenis, geskiedenis en die omgewing ook tot sy reg gekom.
Die karretjiemense was opgewonde daaroor dat hul “storie” nou oplaas vertel word. Tog het die “bekendmaking” van die karretjiemense ook gevolge gehad wat nie so aangenaam was nie. Skielik het al wat ’n joernalis of filmmaker is in hulle belang gestel. Van hulle het erkenning en inkomste gekry vir hul werk, maar ten spyte van allerhande beloftes het geen voordele vir die karretjiemense daaruit voortgespruit nie.
WAT HET JY BY HULLE GELEER? Hulle het my gewys wat dit is om “mens” te wees. Hierdie “onsigbare” mense, wat oënskynlik geen belangrike of onmisbare rol in die wêreld speel nie en wat as groep of individu geen toekoms het nie, het tog ’n onblusbare gees.
Die karretjiemense is regstreekse afstammelinge van die vroegste inwoners van die Groot-Karoo – die /Xam (San/Boesman). Prof. Michael de Jongh het met Landbouweekblad gesels oor sy karretjiemenseboek wat sedert verlede maand ook in Afrikaans beskikbaar is.
Twintig jaar gelede was daar nog sowat 1 000 of meer van hulle – van jonk tot oud. Sedertdien is hul plekkie in die son vernietig deur ontwikkelings in die landboutegnologie en ekonomie. Daar is nou minder boere, groter plase, skeerders wat met masjiene skeer en wildplase. Hulle het stelselmatig vanaf die stofpaaie verdwyn en word nou gevind in plakkerbuurte in die buitewyke van die dorpe, sonder hul donkies en karre. ’n Paar het op plase “afgetree” en verouder saam met die ouer geslag wolboere.
Ons probeer egter om van die mense nuwe vaardighede te leer en ook om van hul kinders met skoolgaan te help.
Vanweë die “venster” wat op hul lewe oopgemaak is, en die gevolglike bewusmaking, was dit moontlik om private finansiering te bekom vir beperkte ontwikkelingsprogramme. Voorskoolse opleiding en volwassegeletterdheidsprogramme is van stapel gestuur, maar die regering op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak het steeds nie betrokke geraak nie en volhoubaarheid is die probleem. Ten minste is hul lewe nou geboekstaaf en is daar permanente foto-uitstallings van die karretjiemense, soos in Colesberg se Kemper-museum.
Soos met die Engelse weergawe, sal Karretjiemense van die Groot-Karoo mettertyd in die Karoo bekend gestel word en sal van die karretjiemense, op uitnodiging, by van hierdie geleenthede teenwoordig wees.
Prys: R275. Bestellings kan regstreeks via Unisa Press geplaas word:
http://www. unisa.ac.za/press-order-form/ www.
of