Doemprofete verkeerd bewys
Toe mnr. Theo Potgieter ( 28) van Sea View twee jaar gelede sy eerste koeie begin melk het, het baie mense in die melkbedryf hom gewaarsku dat hy nie die mas gaan opkom nie.
Ook die bankbestuurder het hom skepties aangekyk toe hy om ’n lening aansoek gedoen het om melkkoeie en ’n paar werktuie te koop, aangesien hy gereken het Theo was gans te jonk om hom so diep in die skuld te steek.
Maar Theo het baie mense verkeerd bewys. Vandag melk hy reeds 500 koeie en, as alles goed gaan, sal dit teen die einde van die jaar 700 wees. Met die sowat 9 000 liter melk wat hy daagliks produseer, kan hy sy lening by die bank én sy maandelikse voerrekening betaal.
“Toe ek in 2006 ná ’n jaar my studies by Maties opgeskop het, het baie mense seker gereken ek was ’n mislukking. Aangesien ek diep in my binneste van kleins af geweet ek wil niks anders as ’n melkboer wees nie, het ek met my terugkeer van universiteit aansoek om ’n assistent-plaasbestuurderspos op Sea View gedoen. Die eienaars het destyds ’ n fabriek gehad waar hulle jogurt, roomys en kaas vervaardig en hul eie melk verpak en versprei het.
“Die eerste jaar het dit broekskeur gegaan. Ek was baie gespanne, aangesien ek aan die diep kant ingegooi is en vinnig moes leer hoe die stelsels op die plaas inmekaarsteek.
“Net toe ek alles mooi verstaan het, het die eienaars in 2009 besluit om hul suiwelbedrywighede af te skaal. Ek het bedank en vir ’n melkboer in die Tsitsikamma, wat 1 300 koeie gemelk het, gaan werk. Ek was net vier maande daar toe my pa, ook Theo, ernstig siek geword het. Ek het bedank om hom op sy plaas op Steytlerville te gaan help. Hy is enkele maande daarna oorlede.”
Aangesien melkboerdery die punt van Theo se hart was en sy vriendin, me. Robyn Rose, in die stad gewerk het, het hy ’n jaar later besluit om die Karooplaas vir die Baai te verruil. “My ma, Elma, beoefen al langer as 30 jaar ’n beroep in die IT-bedryf, en het my ondersteun deur die plaas by Steytlerville as sekuriteit te gee vir ’n lening wat ek moes aangaan om my melkery op die been te bring. Haar voorwaarde was dat ek kundiges moes
Grondeienaarskap is nie ’n voorvereiste om suksesvol te boer nie. Dít het ’n boer bewys wat 500 koeie aan die buitewyke van die Baai melk en die melk aan ’n groot koper lewer. Hy het dit boonop op ’n jong ouderdom reggekry.
betrek om ’n behoorlike sakeplan op te stel.”
Sy verhuur tans die plaas omdat sy in Johannesburg werk.
Theo het intussen ’n aanbod aan die vorige melkery-eienaars gemaak om die grond by hulle te huur. Dit is aanvanklik van die hand gewys, maar ’n jaar later het hulle ingestem dat hy dit vyf jaar lank kan huur, met die opsie om die termyn te verleng.
Sonder enige melkbeeste en dadelik aanspreeklik vir die huur, het Theo met plaaslike boere gereël om verse vir hulle groot te maak. Weens ’n droogte op die plaas het sake egter nie uitgewerk nie en die boere het hul vee teruggeneem. Theo sit toe sonder inkomste, maar moes steeds sy huurpaaiement betaal.
Met die Steytlerville-plaas as sekuriteit, is hy in 2013 met die hoed in die hand na die bankbestuurder om om ’ n lening aansoek te doen om sy eie koeie aan te koop. Die eienaars van die plaas het ingestem dat hy ook die stal by hulle kon huur.
VOORDEEL VAN HUUR
Theo het gehoor van boere wat hul melkkuddes verhuur. Die skema behels ’n maandelikse huur per koei (R85 per koei per maand plus BTW) met ’n opsie om ná drie jaar die koeie te koop of vervangingsdiere aan die verhuurder terug te gee.
“Hoewel die koeie teen ’n rentekoers van 12% gehuur word en geld by die bank net teen 9% geleen kan word om jou koeie aan te koop, is die voordeel dat jy nie met die huur ’ n groot kapitaaluitgawe hoef aan te gaan nie en dadelik in produksie kan wees.”
Theo het vir die eerste jaar sy melk na ’n nuwe melkkoper in die Oos-Kaap gestuur. Nadat Parmalat verneem het met hoeveel sy produksie toegeneem het, het die maatskappy hom in Junie verlede jaar kom sien.
“Ek het aanvanklik nee dankie gesê vir die aanbod. Aangesien ek egter so naby aan hul fabriek is, het hulle my ’n prys aangebied wat ek nie van die hand kon wys nie.
“Net dít wat hulle my méér per liter betaal, is genoeg om die maandelikse huur van die plaas én my maandelikse paaiement by die bank te betaal.”
Theo is tevrede met die melkprys wat hy kry. Dit is tans R1,25/ liter méér as toe hy begin melk het. Hoewel die kudde jonk is, is die vastestowwe van 4% bottervet en 3,7% proteïene heel skaflik. Tans huur hy nog 250 koeie, maar die res van sy kudde is sy eie melkkoeie wat hy gekoop of self geteel het.
PROGRAM MET KALWERS
Hy verkoop sy bulkalwers op vyf dae teen R80 per kalf, maar hou al sy verskalwers. Nadat die kalwers aangekom het, loop hulle drie dae by die ma. Daarna word hulle in kalfhokke geplaas en kry soggens en saans twee liter vars melk. ’n Kommersiële probiotika word by die melk gevoeg. Die kalwers het ook van die vierde dag af vrye toegang tot ’n kalfpilrantsoen (21% proteïene).
As die verskalwers op agt weke gespeen word, het hulle reeds hul geboortegewig verdubbel. Hulle word dan op weiding oorgeplaas en kry steeds kalfpille wat 16% proteïene bevat.
Die koeie loop in die somermaande op kikoejoe-weiding wat besproei word. Vir die winter word raaigras en hawer met ’n geenbewerkingplanter in die kikoejoe gevestig. Wanneer die koeie gemelk word, kry hulle in die melkstal 7 kg voerkonsentraat. Na
gelang van die tyd van die jaar wissel die proteïeninhoud daarvan van 7% tot 12%.
Theo gebruik ook die Israeliese Afimilk-stelsel, waar transpondeerders aan koeie se agterbene geheg is (sien die KASSIE regs onder). Die gemiddelde produksie van die koeie wat gemelk word, beloop tans 18,5 liter per koei per dag. Die kalftyd strek van Maart tot einde November. Theo insemineer self die koeie.
NET DIE BESTE BULLE SE SAAD
Theo beklemtoon dat hy nie suksesvol sou wees as dit nie vir die raad en bystand is wat hy van sy voerkonsultant, mnr. Marnius Oosthuysen van Olifantskop Voere op Paterson, ontvang nie. “Daar is baie konsultante, maar ek is oortuig dat ek die beste een gekies het. Dit is niks buitengewoons dat hy voor melktyd hier aankom om die kondisietellings van die koeie te doen nie. Ek weet te min van diere se rantsoene en daarom vertrou ek hom volkome.”
Ander mense vir wie Theo uitsonder, is sy bestuurder, mnr. Riaan Conradie, ’ n professionele span boekhouers wat van die werkers se bestaalstate tot sy BTW en inkomstebelasting hanteer, en drie raadgewers wat aanbeveel watter bulle se semen hy moet aanskaf vir kunsmatige inseminasie.
“Ek probeer om net die beste bulle se saad wat ek kan bekostig, te gebruik. Ek verkies ook Jerseys omdat hulle maklike diere is om mee te werk en hul onderhoud baie minder as dié van Holsteins is.”
ELKE DAG IN DIE MELKSTAL
Hoewel hy graag eendag sy eie melkplaas wil aanskaf en 2 500 koeie melk, sê Theo hy sal die melkery op Sea View voortsit solank die eienaars bereid is om die grond aan hom te verhuur. “Ek besef ek was baie gelukkig om ’n plaas met al die nodige infrastruktuur in die hande te kry. Hier is ook goeie water, uitstekende werkers en verskeie melkkopers op my drumpel. Al wat my pootjie, is die maandelikse munisipale kragrekening van ongeveer R60 000.” Aanvanklik was daar een werker wat geweet het hoe om te melk. “Die eerste ses maande het dit moeilik gegaan om goeie melkers te kry, maar uiteindelik is hier ’n span van 12.” Hulle kry bonusse as die somatiese en bakteriese telling onderskeidelik onder 250 000 d.p.m en 50 000 d.p.m. is. Sy raad aan ander jong boere is om nie te huiwer om risiko’s aan te gaan om jou droom na te streef nie. “Toe ek begin boer het, het oom Sarel Noomé, ’n voerkonsultant, vir my gesê: ‘ Ou boet, sorg dat jy die vuurhoutjieboksie elke dag by ’n koei se oor skud.’ Ek het nie geweet wat dit beteken nie.
“Toe verduidelik hy dat dit is om as eienaar te sorg dat ek elke dag in die melkstal moet wees. Vandag weet ek dit was die beste raad wat ’ n mens kan kry. Jy sien ’ n koei wat kruppel is, ’n draad wat los rondlê en ’n krip wat nie water het nie.”