DIÉ WEEK IN DIE LANDBOU
VEEDIEF GELOOI
’n Veedief – Tinus Groenewald (op die foto) – is in Mokopane vir 80 jaar (effektief 16 jaar) tronk toe gestuur. Dit is die swaarste straf tot nog toe vir veediefstal. Groenewald het miljoene rande se vee in Limpopo en Noordwes gesteel en het homself toe aan die polisie oorgegee. Lees ’n berig op bl. 22 oor die rol wat die sosiale media in die vastrek van veediewe speel.
MILJARDE VIR FLOPS
Mnr. Nhlanhla Nene, Minister van Finansies, het in sy begrotingsrede aangekondig dat ’n verdere R4,7 miljard vir die herkapitalisasie en ontwikkeling van mislukte en sukkelende grondhervormingsprojekte beskikbaar gestel sal word. R36 miljoen is bewillig vir die vestiging van ’n kantoor vir die grondwaardeerder-generaal. Sien uitvoerige beriggewing oor die begroting op bl. 14.
EU KNOU BEK-EN-KLOU
Die Europese Unie (EU) en die Verenigde Nasies se Voedsel- en Land- bou-Organisasie (VLO) het maatreëls verskerp om Balkan-lande te help om bek-en-klouseer te voorkom. Die EU-kommissie vir die beheer van dié siekte beywer hom om veeartsenydienste in Europa te versterk in die lig van die kwaai ekonomiese implikasies wat die siekte inhou. In 2001 het hierdie siekte Brittanje R186 miljard gekos. – VLO
MEGA-DROOGTE
Klimaatsverandering kan meebring dat ’n mega-droogte Amerika se “broodmandjie” in die suidweste laat in hierdie eeu tref, en vir so lank as drie dekades voortduur, aldus navorsers van die Cornell-universiteit en Amerika se nasionale ruimtevaart-en-ruimteadministrasie (Nasa). Indien skadelike gasse nie binne 10 jaar drasties verminder nie, lyk dit of dit erger as enige droogte in menseheugenis kan wees. – Alan Harman
INDIË ONTSPAN OOR GM
Die feit dat al hoe meer Indiese provin- sies stil-stil veldproewe met geneties gemodifiseerde (GM) voedselgewasse toelaat, kan ’n groot impak hê op voedselproduksie in die wêreld. Proewe met mosterdsaad het verlede jaar in Augustus in die gebied van Maharashtra begin en dit is opgevolg deur proewe met eiervrug, rys, keker-ertjies en mielies. Die enigste GM gewas wat tot dusver in Indië toegelaat word, is katoen. Teen 2030 moet Indië 1,5 miljard mense voed, en die nasionale landbou-opbrengs per hektaar is steeds swak vergeleke met ontwikkelde lande.
HOMMELBYE LY
Klimaatsverandering bedreig die voortbestaan van die Europese hommelby, wat rampspoedige gevolge vir Europese voedselproduksie kan hê. Navorsers reken 25 hommelby-soorte kan teen 2100 op die rand van uitwissing staan as klimaatsverandering vererger. Sowat 10% van die totale ekonomiese waarde van Europa se landbou-opbrengs vir menslike voedsel – wat sowat R292 miljard werd is – is afhanklik van bestuiwing deur insekte. – ALAN HARMAN