’N MENS KAN OBP NIE MEER GLO
Ek wil my uiterste misnoeë uitspreek teenoor Onderstepoort Biologiese Produkte ( OBP) vir die roekelose wyse waarop hy die primêre produsent se finansiële posisie en uiteindelik sy voortbestaan minag. Ek weet nie hoeveel sterker ek dit kan stel sonder om die grense van beskaafdheid te oortree nie.
Die gebrek aan bestuursvaardighede en elementêre projekbeplanning met die sogenaamde opgradering van OBP se geriewe skree ten hemele en stal net verder OBP se onbevoegdheid ten toon ten opsigte van die voorsiening van noodsaaklike entstowwe. Die huidige situasie is onhoudbaar en onaanvaarbaar en het die moontlikheid om etlike veeprodusente te kelder, veral die opkomende sektor. Statistieke is by elke verspreidingspunt beskikbaar wat die verkope en dus die behoeftes van elke gebied weerspieël. Leweringstekorte is dus ook onverskoonbaar.
Die talle verskonings en redes wat aangevoer word deur OBP en Bayer, wat die verspreider is, is net so ongeloofwaardig soos dat die DA ’ n regse party sal word of dat pres. Jacob Zuma die rekening vir Nkandla sal betaal. OBP kan doodgewoon nie meer geglo word nie, en ek is van mening dat Bayer sy posisie in heroorweging moet neem as hy enigsins ongeskonde anderkant wil uitkom.
Ek doen derhalwe ’ n beroep op die dieregesondheidsmaatskappye om skouer aan die wiel te sit om vir die produsente entstowwe te vervaardig wat nou deur OBP vervaardig word. Praat met die produsente-orga- nisasies oor waar hulle behulpsaam kan wees met byvoorbeeld die registrasieproses.
Weens OBP se leuens en onbetroubaarheid kom die gehalte van die entstowwe wat hulle vervaardig sterk onder verdenking. Gerugte dat yskaste met entstowwe afgesit was oor naweke, versterk die wantroue in die gehalte van OBP se entstowwe. Jy kan gewoon nie meer glo wat hulle sê nie, finish en klaar. FRANCOIS DU TOIT Tweede ondervoorsitter van die Oos-Kaapse Rooivleisprodusenteorganisasie
NATUUR BLY ’N WONDERWERK
Dié somer in die Vrystaat is snikheet en kurkdroog. Meer as een mens het al gesê: “Dis die ergste droogte in menseheugenis.”
Ek stap onlangs in die dorre veld op ’n plaas terwyl die sonnetjie geniepsig brand. ’ n Paar maer, uitgehongerde beeste lê lusteloos langs die water- en voerbak en wag vir ’n lekkie lusern wat eers weer die volgende oggend sal opdaag. Ek loop en wonder wat tog die doel van dit alles is. Skielik val my oog op iets groens wat my dadelik laat afbuk. Hier voor my verkondig ’ n plantjie – die enigste een in die dorre veld – dat alles nie tevergeefs en onmoontlik is nie.
Sommige mense verkeer onder die indruk dat ’ n mens se omstandighede jou sukses, geluk en vermoë “om vrug te dra”, bepaal. As die dice dan verkeerd val, soos die digter Adam Small geskryf het, dan is dit Ikabod.
Ek besef nogeens: Die natuur bly ’n wonderwerk en ’n geheimenis. Die boodskap van die plantjie is vir my duidelik: As slegte dinge jou tref, moenie gaan lê nie. Volhard en lig figuurlik gesproke jou vlag van hoop en vertroue, asook van moedigheid en volharding, hoog. Nie jou omstandighede op sigself nie, maar die wyse waarop jy dit verwerk en verdra, gaan uiteindelik bepaal of jy wel ’n vrug van sukses dra. Lê die geheim van vrug dra nie juis daarin nie dat ek sal bid: “Gee tog dat ek die sin van die dinge wat oor my lewe kom, sal aanvaar en met moed en volharding daarop sal reageer?”
Want kyk ’ n mens agter die dreigende, rooi stofwolke, dan sien jy die blou reënwolke. Sagte genadewater sal weer lug en land suiwer en verkwik. En die wonderlikste natgrond-reuk sal die skoon lug vul. MARIE Bloemfontein