Asuf gaan voort met planne
DIE
proses binne die eenheidsforum vir die landbou (Asuf) gaan steeds voort om teen einde Maart sinvolle grondhervormingsvoorstelle aan die Regering voor te lê.
Dié versekering kom van mnr. Japie Grobler, voorsitter van die eenheidsforum vir landbou (Asuf), op Graan SA se kongres. “Dit is nie ’n eenvoudige saak nie en dit word nou baie erger gemaak deur die droogte. Dit is moeiliker vir boere om betrokke te raak, maar ons is seker ons sal met ’n plan kan kom, waaraan die meerderheid sal deelneem.”
“Ons sal ons plan gee, maar dan moet die Regering ophou rondspeel met syfers, onsekerhede uit die weg ruim, sê waarvandaan die geld gaan kom en wat sy eie verbintenis daartoe is.” Grobler het gesê geslaagde grondhervorming is tot voordeel van almal in die land noodsaaklik, maar die kommersiële landbou se produksievermoë moet nie vernietig word nie. “Niemand skram daarvan weg nie. Dit moet gebeur, maar dit kan ook die landbou maak of breek.”
WIE DOEN WAT?
Grobler sê die grootste probleem is dat daar nie regsekerheid is oor waarheen die Regering met grondhervorming op pad is nie. Wat is die verantwoordelikhede van die Regering, die boer en die begunstigde.
Mnr. Schalk Pienaar, voorsitter van Agbiz, het gesê ’n model is aan die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming voorgelê waarvolgens banke hulle tot R1 miljard se gunstige finansiering verbind vir gesamentlike projekte tussen kommersiële boere en swart vennote. Die staat moet hom ook tot R1 miljard daarvoor verbind.
Deelnemers aan ’n paneelgesprek het almal verwys na die noodsaaklikheid om eienaarskap van grond te hê om finansiering te kry. Mnr. Victor Mongoato, ondervoorsitter van Graan SA, het gesê swart boere voel soos buitelanders, want buitelanders mag nie grond besit nie en hulle ook nie. Mnr Andrew Makanete, konsultant, het voorgestel dat titelaktes van grond wat deur die staat gekoop word, aan die Land Bank oorgedra word sodat dit dan as sekuriteit vir lenings kan dien.
Die joernalis Max du Preez, gespreksleier, het gewaarsku dat die ANC ál meer steun in die stede verloor en hom al hoe meer op steun in landelike gebiede sal toespits. Daarom sal tradisionele leiers ál meer mag oor kommunale grond kry. – NICO VAN BURICK
INLAS: Die staat is soms die probleem. Mnr. Phillip Retief van die Van Loveren-landgoed in die Breëriviervallei sê hulle sukkel al drie jaar om waterregte vir ’n gesamentlike projek met werkers te kry.