Landbouweekblad

Merinoboer het genoeg gehad

-

MNR. Kippy Bryden, ’n groot skaapboer van Kokstad, KwaZulu-Natal, het verlede Woensdag sy ganse Merinokudd­e opgeveil. “Ons kan eenvoudig nie meer die verliese weens diefstal en roofdiersk­ade bekostig nie,” het ’n duidelik hartseer Bryden by die veiling laat hoor.

Bryden is een van die laaste groot Merinoboer­e in KwaZulu-Natal en ’n uitstekend­e wolboer, volgens mnr. André du Toit, hoofbestuu­rder van BKB vir lewendehaw­e en eiendom. “Dié is nie ’n geïsoleerd­e geval nie en dit is kommerwekk­end. Ekonomies maak dit sin om hier met skape te boer. Nou dwing faktore buite die boerdery ’n ganse boerderyve­rtakking op sy knieë.”

HONDE ROEI HULLE UIT

Bryden boer al 56 jaar lank met Merino’s, deesdae saam met sy skoonseun, mnr. John Mohaud. Uit ’n kudde van 4 000 skape het hulle verlede jaar bykans 1 000 skape verloor. “Ongeveer 10% van die verliese is weens diefstal en die res is weens roofdiersk­ade. Die rooikatte en jakkalse is niks nuuts nie en kan bestuur word. Ons grootste probleem oor die afgelope paar jaar is jaghonde. Ons plaas grens aan die voormalige Transkei en die jagters van daar kom jag wild met hul honde hier by ons. As die jagters dan terugkeer huis toe, bly die honde agter. Hier raak hulle vinnig wild, vermeerder en vorm troppe wat die skape jag.”

Volgens Bryden was hulle gewoond daaraan om tussen 200 en 400 skape per jaar weens roofdiersk­ade te verloor. “Die afgelope paar jaar het die verliese astronomie­s toegeneem en ons het geen ander keuse nie, ons moet alternatie­we boerdery oorweeg,” verduideli­k hy.

EINDE VAN VEEBOERE

Mnr. Hendrik Botha, die voorsitter van die KwaZulu-Natalse rooivleisp­rodusentev­ereniging, meen dit is ’n onaanvaarb­are situasie. “Dit is tragies dat 56 jaar se ondervindi­ng en intellektu­ele eiendom nou vir die wol- en skaapbedry­f verlore is. Deur ’n skaapboerd­ery te verkoop, beteken ook nie die probleem is opgelos nie. Die volgende boer in die pad af is maar net die volgende teiken. Stil-stil is hierdie misdrywe besig om alle veeboere te vernietig,” het Botha voor die veiling gesê. Volgens die statistiek van die Rooivleisp­rodusente-organisasi­e verloor die rooivleisb­edryf in Suid-Afrika meer as R2 miljard weens veediefsta­l, onwettige jag en roofdiersk­ade.

Bryden wil nou sy beesboerde­ry uitbrei en ’n wildboerde­ry op die been bring. “Dit is effens moeiliker om ’n buffel as ’n Merino te steel,” sê hy amper uitdagend.

– JOHAN VAN DER MERWE

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa