‘VUURKLIP KAN SUID-AFRIKA SE ENERGIE RED’
’n Eenvoudige, “wit klippie” wat volop in die Noord-Kaap en reg oor die land voorkom, kan die oplossing wees vir Suid- Afrika se energieprobleme.
Die wit klippie, silikondioksied, wat in die volksmond as vuurklip of kwartsiet bekend is, is nie so skouspelagtig, uitdagend en glorieryk soos kernkrag nie, en ook nie so omstrede soos hidrobreking nie.
Dié klippie kan ’n eenvoudige, alternatiewe oplossing wees vir die land se energieprobleme, meen mnr. Danie Coetzee van Upington, ’n kenner van alternatiewe energie.
Hy sê Suid-Afrikaanse boere maak ál meer finansiële berekeninge namate Eskom-kragtariewe jaarliks die hoogte in skiet om te bepaal of elektrisiteit steeds aangekoop moet word en of dit self opgewek moet word.
“Die antwoord is eenvoudig: Betaal eerder nou vir ’ n sonkragstelsel en weet dat jou elektrisiteit vyf jaar later feitlik verniet gaan wees. Die alternatief is dat jou kragrekening oor vyf jaar gaan verdubbel.”
HOE WERK DIT?
Silikondioksied in gesuiwerde vorm kan sonlig in elektrisiteit omsit, verduidelik Coetzee.
Hy meen 20 kg gesuiwerde vuurklip kan 2 000 eenhede elektrisiteit per jaar voorsien en 60 000 eenhede oor 30 jaar. Sonpanele se leeftyd word gewoonlik vir 25 jaar gewaarborg, maar is daarna nog heeltemal bruikbaar. “Ons sit met elemente in ons hande om in die land se energiebehoeftes te voorsien, ons moet net leer hoe om dit te benut,” sê Danie.
Silikon is naas suurstof die volopste element in die aardkors. Gewone sand, byvoorbeeld, bestaan hoofsaaklik uit silikon. Kwartsiet of vuurklip is silikon wat met suurstof verbind is. Om die suurstof te verwyder, word gemaalde kwartsklip met houtskool gemeng en verhit. Die koolstof neem die suurstof op en net die silikon bly agter.
Eeue gelede het die Vendas dieselfde proses gebruik om yster vir spiespunte te maak.
Dié silikon bevat egter nog baie onsuiwerhede wat verwyder moet word. Vir die elektroniese bedryf (mikroskyfies) word silikon met ’n suiwerheid van 9N vereis. Dit beteken daar is nege neges ná ’ n komma. Vir sonpanele word 6N gebruik. Vroeër is die uitskot van die elektroniese bedryf vir sonpanele gebruik.
Om silikon verder te suiwer, word dit met ’n suur behandel wat dit ’n lae kookpunt gee. Dit word verskeie kere gedistilleer. Wanneer hierdie dampe kristalliseer, word silindriese kristalle in spesiale reaktors gevorm.
Danie sê spesiale diamantsae word gebruik om dun skyfies van die silikonkristalle te saag. Die skyfies word gepoleer en vir ’ n rukkie aan ’n fosfordamp blootgestel.
Silikon het vier elektrone in die buitenste wentelbaan, terwyl fosfor vyf het. As sonlig op die bokant van die skyfie val, veroorsaak dit ’n potensiaalverskil tussen die bo- en onderkant van die skyfie. Die bokant van die skyfie word nou met ’n verf, wat silwer bevat en geleidend is, oortrek. Dit is die fyn strepies wat ’n mens op die sonpanele kan sien.
Aan die onderkant word ook twee stroke silwer verf aangebring. Hierdie selle word daarna in stringe aan mekaar gesoldeer om panele vir tot 40 volt te maak. Dit is die boustene van die sonplase wat nou oral in Suid-Afrika opgerig word.
Dit lewer gelykstroomkrag, maar moderne rekenaartegnologie maak dit moontlik om dié gelykstroomkrag in wisselstroomkrag om te skakel en met die netwerk te sinchroniseer.
KOSTE VIR AANLEG
Danie sê as die land elke jaar 1 000 megawatt, wat byna die grootte van een Koeberg-kernreaktor se kapasiteit is, by die nasionale kapasiteit wil voeg, word 10 000 ton silikon per jaar benodig. Dit beteken dat 50 ton of twee vragmotors vol per dag verwerk moet word.
Volgens sy berekeninge kan só ’n aanleg ongeveer R5,5 miljard kos. Dit is goedkoper as een steenkoolkragsentrale wat meer as R100 miljard kos. Die geraamde R5,5 miljard sluit ook die koste in vir ’n 10 megawatt-sonkragaanleg om die elektrisiteit te verskaf wat die aanleg kan aandryf.
Met 400 000 ton van die klip kan alle krag wat Eskom gedurende die dag opwek, voorsien word, meen hy. Altesame 40 000 hektaar grond sal vir so ’n aanleg nodig wees, bereken hy. – JOYLENE VAN WYK
Dit plaas boere en die fabrieke wat hul produkte verwerk, regstreeks met mekaar in verbinding.
Mnr. Asogan Moodaly, ’n bekende in Suid-Afrikaanse biobrandstofkringe, het dit ontwikkel. Hy meen dit sal bydra om prysrisiko’s vir boerderye sowel as verwerkers van landbouprodukte te verlaag.
Mabele Fuels, die biobrandstofmaatskappy wat beoog om ’n aanleg by Bothaville op te rig, het reeds die eerste tender geplaas. Dit is vir 33 000 ton sorghum wat teen Desember 2017 op Bothaville gelewer moet word. Die tender sluit op 3 Junie 2017.
Asogan, ook uitvoerende hoof van Mabele, sê hy het CropsDirect ontwikkel omdat hy reeds lankal die behoefte aan so ’n diens raakgesien het. Dit word nie onder Mabele se vaandel bedryf nie en is oop vir enigeen wat daarin belang stel om deel te neem.
Die webwerf maak ook voorsiening vir verhandelaars om tenders vir graan- of oliesaadlewering te plaas, of om te bie op lewerings wat aangebied word.
Asogan sê die doel van die werf is om by te dra tot die oop en deursigtige bepaling van kommoditeitpryse deur die kommoditeit as grondslag te gebruik pleks van finansiële instrumente, soos termynkontrakte. Die diens is in Engels, Afrikaans, Sesotho, Setswana, Xhosa en Zoeloe beskikbaar. – MARLEEN SMITH