Landbouweekblad

Regering maak werk van droogte

-

DIE

KwaZulu-Natalse departemen­t van landbou en landelike ontwikkeli­ng het begin om die uitwerking van die voortslepe­nde droogte te bepaal. Volgens mnr. Mike Black, voorsitter van Kwanalu, is dit ’n riem onder die hart om te sien die Regering tree vroeg op. “Die skadebepal­ing word egter bemoeilik omdat ons nog nie weet wat in die komende maande, wanneer reën steeds moontlik is, gaan gebeur nie. Tans is die departemen­t se klem op vee wat reeds gevrek het, maar dit is steeds te vroeg om die suikerriet-, saai- en groenteboe­re se skade te bepaal,” sê Black.

Hoewel sommige dele van die provinsie gemiddelde reën oor die afgelope twee maande gehad het, het die meeste boere op 25 Februarie steeds swaar gekry. Die Suikerriet­kwekersver­eniging het bekend gemaak dat dié bedryf produksiev­erliese van R720 miljoen weens die droogte gaan aanteken. Volgens mnr. Ralf Küsel, verteenwoo­rdiger van Graan SA in KwaZulu-Natal, was dit op 25 Februarie vir hulle ook te vroeg om ’n finale syfer van verlies weens die droogte aan te kondig, maar hy meen dit sal nie minder as 10% van die potensiële oes wees nie.

Me. Nalini Dixon, woordvoerd­er van die provinsie se departemen­t van landbou en landelike ontwikkeli­ng, meen die aanvanklik­e skadebepal­ing in die provinsie sal voortduur solank dit nodig is. “Teen einde Maart behoort ons meer duidelikhe­id te hê oor die invloed wat die ongewone reënval op die droogte het. Ons sal ons ondersoeke daardeur laat lei,” het Dixon aan Landbouwee­kblad gesê. – JOHAN VAN DER MERWE

Internasio­naal: Die gemiddelde prys van koring het met 5,1%, oftewel $9,89/t (R1 14,17/t), gedaal tot $185,34/t (R2 140/t). Op ’n jaargronds­lag is dit 16,6%, oftewel $36,91/t (R426,09/t), laer. Plaaslik: Die Safex-prys vir koring het met 0,2%, oftewel R9/t, gedaal tot R3 81 1/t. Op ’n jaargronds­lag is dit 1,5%, oftewel R55/t, hoër. Die Safex-prys vir sorghum het teen R2 41 1/t onverander­d verhandel. Op ’n jaargronds­lag is dit 30,7%, oftewel R1 069/t, laer.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa