ONSEKERHEID OOR MIELIES SE OESGROOTTE MAAK MARK ONSTABIEL
ONSEKERHEID oor hoeveel mielies Suid-Afrika vanjaar uiteindelik moet invoer, veroorsaak ongemaklike wisselvalligheid op die mark. Dié behoefte sal bepaal waar tussen die hoër invoer- en laer uitvoerpariteitsvlak plaaslike pryse beweeg namate die res van die bemarkingsjaar verloop. Die verskil tussen die twee vlakke is wesenlik, in dié stadium rondom R1 400 per ton.
Ramings van wat Suid-Afrika se uiteindelike invoerbehoefte gaan wees, het die laaste weke van soveel as 1,65 miljoen ton tot so min as 600 000 ton gewissel.
Die amptelike vooruitskatting ( deur die Nasionale Landboubemarkingsraad se komitee) is dat 600 000 ton geel mielies van Maart vanjaar tot April volgende jaar ingevoer sal moet word.
Die NLBR- komitee wys egter in ’ n verklaring daarop dat meer geel mielies dalk ingevoer sal moet word as die verwagte 350 000 ton wit mielies wat vir die veevoermark bestem is, weens ’n groter as verwagte witmielietekort eerder vir menslike verbruik nodig sal wees. “Dit is daarom moontlik dat die verwagte invoer van geel mielies tot rondom 900 000 ton kan groei,” lui die komitee se verklaring.
VERBRUIK, LEWERING
Onsekerheid oor in watter mate duurder mielies in die komende jaar verbruik kan laat afneem, asook hoeveel mielies in Maart en April volgende jaar as vroeë lewerings na die mark gaan kom, blyk die twee groot redes vir die wye gaping tussen die hoogste en laagste invoerramings te wees.
Mnr. Wessel Lemmer, senior ekonoom van Graan SA, sê die omvang van vroeë mielielewerings in Maart en April volgende jaar ( voor die volgende oes na die mark begin stroom) sal ’n belangrike faktor in die bepaling van die invoerbehoefte wees. Dié syfer is tradisioneel wisselvallig.
Lemmer meen ’ n invoerbehoefte van 1,65 miljoen ton is in dié stadium waarskynlik die swakste scenario, en dit sal net ’n werklikheid word as vroeë lewerings aan die lae kant is.
Skielike markbewegings in ’n onverwagse rigting kan deelnemers wat met vooruitkontrakte spekuleer, hetsy verhandelaar, aankoper of boer, onkant betrap en groot geldelike verliese laat ly. Heelwat berigte daaroor is die laaste tyd ontvang nadat pryse teen middel Februarie skerp gedaal het, die erge droogte ten spyt, maar ’n week later weer hul vroeëre skerp stygings hervat het. Dié stygings het teen middel Januarie begin namate die ernstige omvang van die droogte al hoe duideliker geraak het.
Die Nasionale Oesskattingskomitee het in sy eerste somergraan- produksieskatting van die groeityd aangedui dat die droogteskade tot dusver van so ’ n omvang is dat die nasionale mielie-oes in dié stadium net ’n beraamde 9,67 miljoen ton kan haal – ’n derde kleiner as dié van verlede jaar. Dit is egter nog ’n ope vraag of die droogteskade in die komende weke gaan uitbrei.
PRYSE BLY SKOMMEL
In die wegbreeksessie vir mielieboere op Graan SA se onlangse jaarkongres is gesê dat die mark nog die omvang van die droogteskade ontken, vandaar die prysdalings in Februarie.
Party markdeelnemers het, voor die droogte bekend geword het, strategieë (met Safex se finansiële instrumente) gevolg om hulle teen ’n prysdaling te beskerm, het mnr. Chris Schoonwinkel, ondervoorsitter, gesê. Toe pryse skielik begin styg en deur kritieke vlakke breek, was talle van hulle in diep moeilikheid.
Schoonwinkel het daarop gewys dat daar teen so laat as 28 Januarie nog verwag is dat pryse met soveel as R400 per ton kan daal omdat aanduidings in daardie stadium nog was dat pryse tot uitvoerpariteit behoort te daal. – MARLEEN SMITH