GEWONE MENSE, BUITENGEWONE POTENSIAAL
“Gewone mense gaan nog die land se heil wees,” merk Agri Oos-Kaap se grootbaas, Ernest Pringle, die ander dag oor die foon op. “Vergeet maar van die politici. Die meeste dra net hul eie belange op die hart.”
Ek stem volmondig met hom saam, want ek het dit verlede week met my eie oë gesien. Vir ses dae was ons buurt sporadies in die gedrang toe wegholvure in die berge rondom ons op die Kaapse Skiereiland gewoed het. ’n Stormsterk wind en temperatuur van in die 40 ˚C het ook nie gehelp nie – ’n paar huise het selfs afgebrand.
Dit het my opgeval dat dit was asof gewone mense Winston Churchill se moedige boodskap aan sy volk gedurende die Tweede Wêreldoorlog waarlik ter harte geneem het: “Moet nooit ’n goeie krisis vermors nie.”
Vrywilligers het na die berge gestroom om brandbestryders te help, en ná ’n vol dag op kantoor was hulle terug om te help. ’n Kerk het ’n soort hoofkwartier geword van waar bakkievragte kos, water en noodhulpvoorrade na die brandweerstasies aangery is. Op een stadium moes die nooddienste ’n pleidooi oor die radio laat uitsaai: “Baie dankie, maar hou asseblief op. Ons weet nie wat om met alles te maak nie!” Toe die tannies egter hoor daar’s geen halaal kos vir die Moslem-brandbestryders nie, begin die kos weer instroom. ’n Groep swart brandbestryders van die Oos-Kaap daag later die week op om te kom help. Tot hul verbasing word hulle as helde ontvang.
Daar’s tans baie van dié soort optimisme in die land. Onder gewone mense. Hortgro se bemagtigingshoof, Pitso Sekhoto, kondig onlangs die vrugtebedryf se bemagtigingsplanne in die Paarl aan. Dit is jare se werk – van misverstande tot doodloopstrate, baklei en selfs hier en daar ’n vuisgeveg. Maar uiteindelik is daar konsensus. Om die koek groter te maak. Om 2 000 ha nuwe boorde in die Vrystaat te vestig, om meer as 20 000 nuwe werksgeleenthede te skep en swart boere só te vestig dat ’n hele bedryf kan groei. Ek vra oor die finansiering. “Ons werk nog aan die detail.” Dié goed kos geld. R500 miljoen in dié geval. Die landbou se geld is op die tafel; nou moet die Regering ook na die partytjie toe kom.
Ons is lankal verby die punt waar ons R85 miljard aan grondhervorming kan bestee, en pleks van om 30% van Suid-Afrika se grond teen markwaarde te koop, met net 8% te eindig. Waar’s die ander R68 miljard heen? Die land het nie meer daardie tipe geld nie, al belowe pres. Zuma ook wat.
Wat ons wel in ons boere het, is ’n waardevolle nasionale bate. Soos Louw Steytler, Graan SA se voorsitter, die ander dag tereg opgemerk het: Boere subsidieer arm verbruikers al ’n paar jaar met omtrent ’n R1 000 per ton vir mielies omdat die surplus die mielieprys laag hou. Dit is iets om op trots te wees.
Maar nou het die boere die staat se hulp nodig – van grondhervorming tot die droogte. Wit en swart maak lankal nie meer saak nie. Want as die staat ’n reddingsboei na die SAA, Eskom en die SABC kan gooi, dan kan boere seker ook darem net op hul plase gehou word sodat hulle weer kan plant, weer vir ’n jaar kan boer, voor hulle die staat se geld kan terugbetaal. Dis iets wat Eskom en die SAA nooit doen nie.
Want in dié geval is gewone mense ’n baie ongewone bate, veral vir die staat. – CHRIS BURGESS