Landbouweekblad

Lag met ’n traan

-

BY Graan SA se kongres is syfers rondgegooi wat Manie se hare laat regop staan.

Daar word algemeen aanvaar dat die landbougro­nd in Suid-Afrika sowat R240 miljard werd is. Die staat het al R85 miljard aan grondhervo­rming bestee. As dit dus oor waarde gegaan het, kon die meer as die 30% grond wat in die visier is, reeds aangekoop gewees het.

In teenstelli­ng daarmee is egter net 8% landbougro­nd aangekoop. Dit is R16 miljard se werklike grondwaard­e. Die res van die geld het in ’n bodemlose put verdwyn deur skelmstrek­e, onbeholpen­heid en verwaarlos­ing van plase.

Die voorbeelde is legio. Hier is een wat Ralph Swart, wat verlede jaar die Landbouskr­ywers SA se eerbewys as beste nuwe toetreder tot kommersiël­e landbou ontvang het, by die kongres genoem het: ’n Stuk uitvalgron­d naby hom by Elim, wat ’n paar jaar terug R750 000 gekos het, is glo pas vir R18 miljoen deur die staat gekoop. Wie is die gelukkige verkoper?

Wat vir Manie die ergste is, is dat baie geld wat nou opnuut bestee word, nie aangewend word vir die aankoop van nuwe grond nie. Dié “nuwe” geld word bestee om die ou plase wat ten gronde gegaan het, te probeer red. Die geld verdwyn steeds in die bodemlose put, sonder enige vordering.

Te midde van die droogte en ander probleme, was daar darem boere by Graan SA se kongres wat nog kans gesien het vir ’n grappie hier en daar.

Jan Grey, bekende boer van Ermelo, vertel: “Ek is van nature ’n lui boer en ek hou nie van harde werk nie. Maar as daar nou één ding is wat my fluks maak, is dit skuld. Ek ken niemand wat op die oomblik flukser as ek is nie.”

Nog ’ n bekende boer, Callie Schoeman van Schoeman-boerdery, stem saam: “Die twee goed wat ’n boer vroeg laat opstaan in die oggend, is nat grond en vars skuld.” Hy sê sy oupa het hom altyd geleer dat ’n mens êrens ’n reserwe moet opbou en hou vir die maer jare. Dit veroorsaak dat jy in die nag kan slaap – al is dit met jou skoene aan sodat jy weer vroegoggen­d aan die gang kan wees.

En aan die einde van die kongres, ’n tyd wanneer daar tradisione­el al lang gape gegee word ná twee volgepakte dae van argumentee­r, beredeneer en planne maak, was dit vir Manie nogal ’n Trots Suid-Afrikaans-oomblik toe die verrigting­e met die volkslied afgesluit is. Manie mag verkeerd wees, maar hy kan nie onthou dat dit die afgelope 20 jaar al so gedoen is nie. Welgedaan, saaiboere!

Dié “nuwe” geld word bestee om die ou plase wat ten gronde gegaan het, te probeer red. Die geld verdwyn steeds in die bodemlose put, sonder enige vordering.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa