BOBBEJAANSKADE VERMEERDER DRASTIES
’n Boer wie se Merino’s al erg deurgeloop het onder bobbejaanskade, is mnr. Jozef le Roes van Laingsburg. Hy boer op sowat 10 500 ha, grootliks bergveld, met 1 600 skape op Van Der Lindeskraal, Springfontein en Deutz Weetzfontein, tussen Laingsburg en Merweville.
Hy meen die bobbejaanprobleem het die afgelope jare drasties toegeneem. Voorheen is geglo bobbejane maak net klein lammertjies dood en vreet net die melkpens. “Maar bobbejane se vleisvoorkeure het baie verander en hulle vreet deesdae lammers heeltemal op.”
“Waar vleisvreterbobbejaantroppe aan die gang is, kry jy feitlik nooit oorblyfsels van die lam nie omdat die trop die lam uitmekaarskeur en elkeen ’n stuk vleis gryp.”
“Ek het ondervind dat tweetandskape ‘wegraak’, waarvan ek niks kon kry behalwe stukke vel nie.”
Waar ’n alleenlopermannetjie egter aan die werk is, is wel oorblyfsels. “Verlede jaar het ek vier karkasse gekry waarvan die velle afgeskeur was, al die sagter bene en vleis was afgevreet, en net harde bene, bloedkolle, pensmis en stukke derms het oorgebly.”
Tydens ’n vorige droogte het bobbejane grootuierooie verskeur en net ’n boud en die uier by elkeen gevreet, die derms uitgeruk en die res laat lê om later nóg ’n skaap te vang. Meestal skeur hulle die skaap van agter oop en vreet dit terwyl dit nog lewe. By lammers van twee en drie maande oud ‘werk’ hulle die vel vorentoe soos hulle vreet, en lyk dit asof hulle die lam uit sy vel dop. By groot skape skeur hulle die dier van die lieskant af oop.
Verlede jaar was dit ’n droë winter sonder bobbejaantroppe op sy grond. “Ná twee kouefronte het ek twee oggende gehoor hoe ooie na hul lammers soek. Ek het besef ’n nuwe bobbejaantrop het inbeweeg en van 260 ooie was net 65 lammers oor – wat daarop dui dat die bobbejane se vleisbehoefte in baie koue toestande groter is.”
“Ek bestry probleemdiere regdeur die jaar. Sowat 50 rooijakkalse en rooikatte word jaarliks op die plaas gevang. Nagenoeg ses jaar gelede het probleme met bobbejane begin en ek het my lammers met die helfte verminder en ná speentyd met nog ’n helfte.”
Hy het met vanghokke begin om bobbejane uit troppe van 40 tot 80 te vang. “Die laaste vier jaar het ek reeds 817 gevang. Die probleem vererger beslis – en dit gebeur oral in die Karoo.”
Jakkalse en rooikatte los genoeg lammers mits streng beheer toegepas word, maar bobbejane roei voor die voet uit. Ook wildboere loop deur, want bobbejane soek springboklammers en verskeur hulle ook.