Landbouweekblad

WILD/VEE SNOTSIEKTE-OORDRAG

- PROF. MORITZ VAN VUUREN

In Desember is snotsiekte in my kudde gediagnose­er en ek het sewe dragtige koeie verloor. Ons het daarna ál elf blouwildeb­eeste laat uitskiet. Hoe lank leef die virus in die veld voort? Kan die beeste weer siek word? Sommige bronne sê as die oorsaak, in hierdie geval die wildebeest­e, verwyder is, verdwyn die gevaar. Ander bronne sê dit kan nog tot sewe maande duur. Ons kry nie veel betroubare inligting oor die siekte nie. Moet ons die beeste na ’n ander plaas verskuif?

Die virus leef glad nie voort in die veld nie en ander beeste het geen kans om siek te word vanweë die virus in die omgewing nie. As daar geen wildebeest­e in die omgewing oor is nie, het die gevaar verdwyn, selfs al is dit net een dag nadat hulle verwyder is. Van die ander beeste kan egter nog siek word omdat die inkubasiet­ydperk van snotsiekte gewoonlik vier tot agt weke is en in sommige gevalle etlike maande. Dit kan gebeur al is daar nie meer wildebeest­e nie. Dit is hoekom sommige bronne sê dit kan sewe maande duur voordat daar redelike sekerheid is dat verdere gevalle nie gaan voorkom nie.

Dit is nie raadsaam om die beeste na ’n ander plaas te verskuif nie. Ons weet deesdae wanneer snotsiekte op ’n plaas uitbreek, raak ’n groot deel van die kudde besmet, maar min diere word siek en vrek. Beeste wat nie siek geword het nie, bly draers van die virus, hoewel hulle dit nie na ander, vatbare beeste kan oordra nie (slegs wildebeest­e kan dit doen). Wanneer hulle self egter blootgeste­l word aan stres (soos verskuiwin­g na ’n ander plaas) kan die siekte onder party van hulle voorkom.

Boere moet egter nie onder die indruk kom dat indien hulle voorheen uitbreking­s gehad het, die meeste van hul beeste nou ’n risiko is vir verdere uitbreking­s nie. Die herverskyn­ing van die siekte bly ’n skaars verskynsel. Dit verklaar egter sommige uitbreking­s wat plaasgevin­d het sonder dat wildebeest­e teenwoordi­g was.

Prof. Moritz van Vuuren is ’n viroloog aan die fakulteit veeartseny­kunde van die Universite­it van Pretoria.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa