ONS WORD VERKUL MET R100/TON, SÊ SWARTLANDBOER
Wyle Oom Gert Fourie wat op Bainsvlei langs my geboer het, het ’n sêding gehad: “Ek hou van ’n man wat vinnig kan dink.” Maar ek besef elke dag ek is ’n stadige denker. Dit was my voorreg om die afgelope week die Graan SA se kongres op Bothaville by te woon. As ek nou op my stadige manier die kongres oordink, dan is daar ’n paar gebeure wat my baie optimisties maak, maar ongelukkig ook ’n paar gebeure wat ’n mens pessimisties laat huis toe gaan het. Maar langs dit alles was daar ook dinge wat jou dankbaar laat huis toe gaan het.
Kom ons begin by die laaste een. Ek is dankbaar dat daar nog mense is soos ons huidige voorsitter, Louw Steytler, ’ n man wat geen beperking op tyd plaas wanneer hy die gemeenskap dien nie. Die volgende een wat ek wil lof toeswaai, is Japie Grobbelaar. Die perfekte Engelse toespraak wat hy gelewer het, sal my altyd by bly. Geluk, Japie! En dan ons ander ou ringkop, Cerneels Claassen. Met hierdie kaliber leiers kan ons boere oorlog toe gaan.
Die laaste woorde van Louw waarmee hy die kongres afgesluit het, sal ek altyd onthou: “Gaan huis toe en gaan sê vir jul kinders hulle moet optimisties wees en aanhou boer sodat daar genoeg kos kan wees om ’n honger nasie te voed. Hierdie organisasie sal oor hul belange waak.” Voorwaar, vir sulke leiers kan ’n mens nie ophou bid nie. Dankie, Louw.
Maar daar was nog 300 boere by die kongres. Net soos ’n koninginby nie alleen haar nes vol heuning kan maak nie, net so kan die leiers nie alleen Graan SA se deure oophou nie. Daarom sê ek geluk aan ál die lede van Graan SA vir die manier waarop julle die deure van jul organisasie help oophou.
Ongelukkig is niemand vol- maak nie, ook nie ons bedryfsorganisasie nie. Ons moet mekaar help en soms ook tereg wys.
Dit bring my by die slegte punte van die kongres waarby ek wil stilstaan. Hoeveel jare probeer ons organisasie nie nou al saam met lede in hul private hoedanigheid om die vrye mark tot sy reg te laat kom nie? Die vraag is nou, moet ons tou opgooi of harder probeer?
Maar by die wegbreeksessie vir kleingraan waar Hennie Visser ’n voorlegging oor die liggingsdifferensiaal gemaak het, kondig die voorsitter aan dat daar vir dié voorlegging net 10 minute sal wees. Voordat die voorlegging begin, kondig die voorsitter aan dat daar geen bespreking van die voorlegging toegelaat sal word nie. Hy vertel ook van die glyskaal tussen grade wat van 4% tot 2% aangepas is en van die geld wat boere daardeur kan verdien. Wat nie gesê word nie, is dat wanneer eerste graad gelewer word, daar in elk geval geen finansiele voordeel danksy die 2%-aanpassing sal wees nie.
Daarna kry ’ n vervoerkontrakteur ’ n geleentheid om ’ n bydrae te lewer. Hy hou ons 20 minute lank besig en vertel ons dat daar op elke ton wat vervoer word, R100 van die boer “gesteel” word – iets wat ons al jare lank weet, maar wat nou nog so in die lug rondhang sonder dat iemand behoorlik ondersoek instel. En toe kom die waarskuwing van die voorsitter dat ons wat in private hoedanigheid ’ n advokaat aangestel het om via die Nasional Landboubemarkingsraad te vra dat die liggingsdifferensiaal ondersoek word, moet ophou om Graan SA se terrein te betree.
Ek vra amper: “Van waar, Gehasie?” Verskeie boere in die Swartland het finansieel bygedra om ons koste te dra met die besoek aan die advokaat. Selfs lede van die hoofbestuur van Graan SA wou ’n bydrae lewer. Wil die voorsitter ons nou verbied om met ons aksie voort te gaan?
Ná die wegbreeksessie is ons terug na die breë kongres waar Hennie sy voorlegging moes herhaal. Terloops, dit was ’n versoek van Koot Claassen (wat nie die kongres kon bywoon nie) aan Jannie de Villiers, hoofbestuurder van Graan SA, twee dae voor die kongres begin het. Die voorsitter van Graan SA het die mikrofoon aan die ondervoorsitter, Andries Theron, oorhandig om op te som wat by die wegbreeksessie bespreek is. Dit lyk of hy doelbewus die geleentheid wat Hennie moes kry vir ’n tweede voorlegging by die groot kongres, van die tafel gevee of dan net verswyg het. Wat dink hy van al Hennie se tyd wat hy aan dié voorlegging bestee het?
Maar die ongelukkige handelinge was nog nie klaar nie.