Graanboere optimisties te midde van teëspoed
PLEKS van ’ n neerdrukkende vergadering te midde van die droogte en politieke onstuimighede, was Graan SA se afgelope kongres ’n besonder belowende byeenkoms. Die oorheersende sake was die verhouding met die Regering, grondhervorming en die droogte. Mnr. Louw Steytler, wat onbestrede tot voorsitter herkies is, en mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof, het ná die tyd die kongres in ’n onderhoud met NICO VAN BURICK in oënskou geneem.
Hoe is minister Senzeni Zokwana se teenwoordigheid ervaar?
Steytler: Dit was ongetwyfeld ’n hoogtepunt – eerstens omdat die minister die kongres bygewoon het en tweedens omdat hy nie net kom praat het nie, maar ook kom luister het. Wanneer laas was daar ’n landbouminister by ’ n kongres van Graan SA? Dit was laas in die tyd van minister Thoko Didiza.
Ek het egter aan mnr. Zokwana gesê dit is ’ n skreiende skande dat geen LUR vir landbou van die graanproduserende provinsies teenwoordig is om te verstaan wat in die landbou aan die gang is nie. Dít terwyl dit so ’n groot impak op hul provinsies het. Ons sien met verwagting uit na ’n nuwe gesindheid van samewerking met die Regering. De Villiers: Die bouwerk aan ’n nuwe verhouding het natuurlik verlede jaar al met onderlinge gesprekke begin. Die gesprek nou was ’n verdere stap in die regte rigting. Ook wat die verhouding met die departement in Pretoria betref, was daar aansienlike vordering. Ons pluk nou die vrugte van ’n strategiese besluit in 2011 om die kantoor na Pretoria te skuif en nader aan die Regering te wees.
Hoe erg lyk die droogte?
Steytler: Die ooste is nou kommerwekkend. Ons het ’n redelik goeie idee gehad van die skade in die westelike produksiegebied, maar wat ons dalk onderskat het, is die skade in die ooste. Ons moet nou vasstel of die skade rampafmetings aanneem sodat stappe vir ’n rampgebied gedoen kan word. De Villiers: Afgevaardigdes by die kongres het ons nou die opdrag gegee om te gaan praat met die banke, die verskaffers van produksiemiddele en almal wat kan help om die boere op hul plase te hou. Ons moet hulle sover kry dat hulle weer volgende jaar kan produseer.
Versekering was ook die heeltyd ter sprake. Ek dink die internasionale versekeraars gaan nou nog verder weghardloop van SuidAfrika af en ons moet ’n ander vennoot, soos die staat, vind. Veral ons swart boere gaan sukkel om finansiering te kry, want daar is in baie gevalle nog nie diepte in hul kapitaal nie.
Wat grondhervorming betref, is Graan SA nog saam met die eenheidsforum vir die landbou (Asuf) op pad na ’n voorstel teen einde Maart?
Steytler: Binne Asuf is daar ten minste ’n kans vir ’n konsensusbesluit. Dit was ’n yslike stap in die regte rigting vir ál die unies – swart en wit – om binne Asuf saam te werk. Ons moet eenvoudig met een stem met die staat kan praat en een boodskap kan oordra. De Villiers: Graan SA ondersteun die beginsels waarvolgens Asuf werk en daar het niks by die kongres gebeur wat sê ons moet nou ’ n ander benadering volg nie. Ons is gemaklik met die beginsels en daar moet nou vleis aan die bene gesit word.
Oudergewoonte was die liggingsdifferensiaal ook weer ’n kwessie.
Steytler: Dit was en sal aanhou wees weens die winsgewendheidsprobleme waarmee die boere, en veral die WesKaapse koringboere, sit.
Aan die feit dat die differensiaal daar is, kan ons niks doen nie. Dit is ’n JSEbesluit. Ons het nou ons aandag na die basisverhandeling verskuif.
Hoe lyk die organisasie se finansies veral in die lig van ’n kleiner oes?
De Villiers: Ons het R18,8 miljoen aan heffingsgeld ingekry, wat ’ n nuwe rekord is teenoor verlede jaar se R11,7 miljoen. Dit is ’n duidelike teken van die boere se vertroue in die leierskorps. Daarmee saam is die hele leierskorps onbestrede herkies, behalwe waar iemand in een streek moes aftree. Steytler: Ons verwag weens die droogte uiteraard ’ n laer heffingsinkomste vanjaar, maar ons sal van die surplusgeld kan oordra.
Ondanks die probleme was die verteenwoordigers tog optimisties.
Steytler: Die gesindheid van die boere by die kongres was vir my ’n absolute hoogtepunt. Die boere is optimisties huis toe en hulle weet Graan SA sal nie net in hul belang optree nie, maar ook in die belang van hul kinders en die land.
Hierdie boere voed die nasie en kry nie die erkenning wat hulle verdien nie. Deur die surplus wat hulle die afgelope jare gelewer het, het hulle verbruikers se voedsel met ten minste R1 000 per ton gesubsidieer omdat mielies teen uitvoerpariteit pleks van invoerpariteit gekoop kon word. Ek is trots op hulle. De Villiers: Hulle het nie hierheen gekom om te kla oor die droogte nie. Hulle het hierheen gekom om te praat oor die toekoms van die land en die produktiwiteit van hul besigheid. Ons benadering was om vir die boere te sê die twee kwessies op die voorgrond is die droogte en grondhervorming. Ons moet die hekkies oorkom, maar ons moet ook verby dit kan kyk na die volhoubaarheid van ons besighede.
Wat my van die boere beïndruk, is juis hierdie vermoë om verby die krisisse van die dag te kan kyk. Hulle weet dit gaan nie verdwyn nie, maar hulle kan ook verder kyk en vir die toekoms beplan.
‘Die boere het nie hierheen gekom om te kla oor die droogte nie. Hulle het hierheen gekom om te praat oor die toekoms van die land en die produktiwiteit van hul besigheid.’
VERVOLGING
Verdoorn sê sedert die nuus bekend geraak het, word hy deur boere van oor die land heen geskakel wat hul misnoeë oor die voorval uitspreek en hul steun vir die bewaring van die bloukraan-