Hoe sterk is ’n waarborg?
As jy na ’n waarborg kyk, moet jy twee kernaspekte oorweeg – wie dit verskaf en watter bates dit ondersteun.
Dit is kommerwekkend hoe maklik ons mense vertrou. Ons gee hulle ons geld en vertrou dat ons dit in die toekoms saam met ’n wonderlike opbrengs gaan terugkry, bloot omdat hulle vir ons sê dit is gewaarborg. Maar ’n waarborg is net so sterk soos die papier waarop dit geskryf is.
Daar is nie ’n sentrale plek in die wêreld wat waarborge uitreik nie. Elke waarborg is bloot ’n belofte vanaf die mens wat dit gee dat jy hom kan vertrou. En selfs al kan jy die mens vertrou, beteken die waarborg net soveel as die bates wat daardie mens het. My woord kan goed wees en as ek sê ek waarborg dat ek jou geld sal teruggee, sal ek dit doen, maar my finansies kan dalk nie sterk genoeg wees om die belofte te dek nie. Die Engelse sê: Your mouth is writing cheques your wallet cannot cash. Die balansstaat van die mens wat die waarborg uitreik, is derhalwe ook baie belangrik.
Nog belangriker is dat die bates spesifiek aan die waarborg toegeskryf word. As ons byvoorbeeld na ’ n bank kyk, sal ons sien dat hy verskillende vlakke van skuldbriewe uitreik. Skuldbriewe is geld wat ons aan die bank leen met ’n belofte van die bank om dit aan ons terug te betaal. Die rentekoers van die skuldbrief is regstreeks gekoppel aan die waarborg wat die bank uitreik. Op daardie skuldbriewe waar die bank die skuldbrief met bates waarborg, betaal hy die laagste rente. Ingevolge die nuwe Basel III-wetgewing is daar sekere skuldbriewe wat deur die Reserwebank opgeskort kan word indien hy glo dat die Suid-Afrikaanse banke in die moeilikheid is. Dié skuldbriewe van die banke betaal natuurlik die hoogste rentekoers omdat die risiko bestaan dat jy jou geld kan verloor as iets verkeerd loop.
MAAK SEKER DIE BATES BESTAAN
Wanneer jy na ’n waarborg kyk, is daar derhalwe twee belangrike aspekte wat oorweeg moet word – wie die waarborg verskaf en watter bates die waarborg ondersteun. Maak ook seker dat die bates wel bestaan en toegewys is aan die waarborg, want wanneer skelmstreke ter sprake is, bestaan dié bates dikwels nie of ondersteun dit reeds ’n heel ander waarborg.
Maar selfs in daardie gevalle waar ’n waarborg heeltemal korrek gestruktureer en geldig is, is dit nie noodwendig die moeite werd nie. Waarborge kos geld vir dié wat dit uitreik omdat hulle bates eenkant moet hou om die waarborg te dek – bates wat andersins ’ n inkomste kon verdien het. Diegene wat die waarborg verskaf, sal dit selde doen as hulle glo hulle gaan op die waarborg verloor.
Ons by PSG is nie ’ n groot voorstander van vyfjaarbeleggings met waarborge nie. Die rede, soos reeds genoem, is die koste van die waarborg. Dit maak dit nie werklik aantreklik nie. Daarby is dit ’ n feit dat die meeste beleggings oor ’n vyfjaartydperk met gemak hul kapitaal sal terugbetaal en beter as die meeste van die versekeraars se waarborge sal presteer.
Tans is daar weer ’ n hele paar produkte wat die kapitaal van die belegging waarborg en jou ’n opbrengs van vyf tot selfs tien maal een of ander markindeks (gewoonlik in die buiteland) verskaf.
Hoewel dit aantreklik klink, is die waarborg gewoonlik gekoppel aan skuldbriewe wat nie deur bates beskerm word nie. Die groei waarop die produk bereken word, sluit ook dividende uit, wat 3% van die groei weglaat. Die produk is derhalwe glad nie so aantreklik as wat dit met eerste oogopslag lyk nie.
Indien jy voel dat ’n waarborg die aangewese ding vir jou risikoprofiel is, moet jy versigtig wees om nie ’n waarborg te neem bloot omdat dit ’n halfpersent of wat meer gee nie. Soos hierbo gewys, beteken dit dat daar heel moontlik aansienlik meer risiko betrokke is as wat die waarborg kan wys. Onthou ook wat ons laas keer gesê het: As jy roekeloos konserwatief is, kan jy jouself dalk net bankrot spaar.
Adv. Ronald King is hoof van tegniese dienste by PSG Wealth.