Die reuk van mos
Van ek ’n huppelkind was op die plaas Dassieshoek aan die voetheuwels van die grysblou Langeberge, buite Robertson, het ek van die reuk van druiwemos gehou. Dit was vir my die reuk van my kinderdae se plaaslewe.
Oupa had parskuipe – as ek reg onthou, het die werkers soms nog die druiwe met hul kaal voete getrap en as ons kinders gesmeek het, kon ons ook die dans van die druiwekorrels dans. Al in die rondte in die houtvat, met die druiwe wat tussen jou tone skwuus-skwas. Daar was natuurlik ook ’n parsmasjien waarin die druiwe by die ballasmandjies vol gegooi was. Al draaiende en malende het die druif se sap uit die pars se bek gebeur.
Vir my was dit onmoontlik om te glo dat dit wat druiwesap is, uiteindelik in wyn sou verander. Oupa het mooi verduidelik, maar vir my wat ’n klein kind was, was die geheim van wyn maak steeds ’n raaisel.
Ek was gek oor die groen hanepootmos. Dit was vir my lekkerder as die swart mos. Oupa skink van die mos in ’n blikbeker en ek vat klein slukkies van die soet. Om my is die reuk van mos en kuipe – die reuk van hoogsomer.
Ek onthou in die wintertyd had die kuipe blare in, baie blare van die akkerboom wat skurwestam met hoë arms bo die kelder staan. In die kuipe word die akkerblare saam met die akkers ’n nat kombers – die reuk bly my vandag nog by. Dit is my Kaapse winterreuk, saam met die rooibostee en kondensmelk en Ouma se groot mosbeskuitbrode.
Ouma het geweet ek is lief vir kos, sy het geweet ek is liewer vir brood as vir kos, en ook dat die korsie van die brood my wat kind is, se allergunsteling was. Ouma het haar eie botter gekarring – heerlike goudgeel, sout plaasbotter. Sy het uit die boorde groot ballasmandjies perskes en appelkose laat pluk in die somer en dan kook sy konfyt in die groot kastrolle wat op die Aga langarm dans. Heerlike sonoranje snipper-perskekonfyt en glashelder appelkooskonfyt.
Nou, as ouma vir my die korsie met plaasbotter smeer, kon ek altyd tussen appelkoosof perskekonfyt kies om met die botter lepel te lê. Die meeste van die tyd het ek vir perskekonfyt gevra omdat die taai, soet lekker van die perskekonfyt my kinderhart bly gemaak het. Bo-op die konfyt sny ouma dun skywe geel winkelkaas. Dan plaas sy die bordjie met die blommetjieskrans voor my neer, met in die middel van die bord se bakhand my smôre se korsiebroodjie.
Ouma skink vir my tee in die warmgemaakte teekoppies met die geel blommetjies en die groen blaartjies. Ek hap die korsie; my tande maak riffelmerke in die botter. In my mond die smaak van mos, anys, botter en perskekonfyt. Stout lek ek die soet van die korsie af en die stukkies kaas gaan ook so op hul eie mond toe. Die rede was so gou ek die konfyt en kaas afgeëet het, kon ek die mosbrood bietjie vir bietjie in die warm tee druk en die teebrood dan slurp-slurp mond toe vat. Ek het die rooibostee dan “bottertee” geroep.
Ouma kom staan agter my rug, druk my teen haar vas met haar arms om my lyfie gevou. Sy vryf my sagte seunskindhare met haar sagte hande. Haar oë is dieselfde kleur as myne – waterblou. Sy is my liefste ouma, seker omdat sy altyd tyd gemaak het vir my kom kuier in haar kombuis. Ek kon vir ure daar sit en Ouma dophou terwyl sy kos maak. Haar wange die pienk kleur van somerappelkose. Haar witgryshare se krulle sag in golwe na agter gekam.
Sy het altyd ’n blommetjiesvoorskoot gedra, en wanneer ek groet om buite te gaan speel of vir Oupa te gaan kuier, het haar hand altyd na haar voorskootsak beweeg. Daaruit haal sy suikerklontjies en stop my ’n paar in die hand. Ek gee my ouma ’n druk hier teen haar bobeen vas en ruik die Johnsonspoeier aan haar lyf.
Ek hardloop uit by die agterdeur. Voor my jaag die hoenders goggas rond. Die makoue koeloe-koeloe- koe. Oupa se Kelpie- skaaphond groet my met ’ n blaf; sy stert swaai heen en weer. Die reuse- swart kat met die wit borslap en wit voetjies by name Skat kom staan skuur- skuur teen my bene. Die tortelduiwe koe-hoe- koe- hoe in die bome. Die son se strale, bo uit die blouste jimmel, skyn warm op my lyf. Ek hardloop tussen die groentebeddings deur, al met die grondpad af.
Voor my lê die groen wingerde en sien ek die rooi trekker staan, met die sleepwa se rug hoogvol swart druiwe. Ek hardloop tot by die kelder waar Oupa die druiwe pars. Die reuk van mos is oral. Dit hou my wat klein kind is, se lyfie vas.
Oupa roep my en tel my op sy skoot. My kop soek plek in die holte van sy skouer. Ek ruik my oupa se reuk en ek voel veilig. Hy vertel my weer die storie van hoe die mos wyn gaan raak; sy mooi, sagte stem is vir my soos ’n nagwekker. Ek voel die vaak oor my spoel en my oë val saggies toe.