Van oraloor
GRONDREGTE en grondgebruik moet geskei word sodat dit nie Afrika-landbou se vooruitgang en ontwikkeling pootjie nie.
Dít was een van die besprekingspunte vir sowat 40 internasionale en plaaslike navorsers en regeringsamptenare by die Stellenbosse instituut vir gevorderde navorsing (STIAS). Hul doel is om die landbou in Suider-Afrika oor die volgende vyf jaar te bevorder. Hulle plaas veral klem op volhoubare, maar meer intensiewe boerdery.
“Waar grondverdeling geregverdig is, moet dit op so ’n manier gedoen word dat produktiwiteit en voedsel- en voedingstofsekerheid onderhou word,” het een van die deelnemers, prof. Richard Sikora van die Universiteit van Bonn in Duitsland, gesê. Dr. Lindiwe Sibanda van FANRPAN, die netwerk vir die beleidsontleding van voedsel, die landbou en natuurlike hulpbronne, het gesê grondvrugbaarheid is net so belangrik soos grondverdeling. “Ons moet seker maak ons maak boere ryker, nie armer nie.”
Sy het Ethiopië, Tanzanië, Nigerië en Kenia genoem as voorbeelde van Afrikalande wat hul beleid moes hersien om ’n volhoubare landbou-omgewing te skep.
“Daar was leiers wat die behoefte aan ’ n plan raakgesien het om te verseker die landbou is teen 2050 nog volhoubaar. Die private sektor het toe hul strate-
gie aanvaar.”
Sy wou weet wie die leiers in ander lande gaan wees wat beste praktyke gaan bevorder.
Volgens me. Maud Olofsson, voormalige adjunk- eerste minister van Swede, het haar land in die 1950’s sowat 700 000 boere gehad. Deesdae is daar minder as 100 000, maar hul totale produksie is baie meer as in die 1950’s.
“Ons weet ons kan dinge beter doen (in Afrika) en winsgewen-
der landboubesighede skep.”
Die deelnemers wil graag sien dat die landbou in Afrika op sy natuurlike, menslike en finansiële bronne staatmaak om rykdom en werkgeleenthede te skep.
Daarvoor is beleggings in mensekapitaal, vernuwing, infrastruktuur en institusionele opknapping nodig. Beleidsontwikkeling en die regte vennootskappe is net so belangrik.